KULTUURDAGBOEK 21 FEBRUARIE
Lees volledig by Kultuurdagboek
Jacob Daniel du Toit (Prof. J.D. du Toit) is meer bekend onder sy digtersnaam Totius — die naam wat sy studentevriend, B.J. Esser in 1901 in Amsterdam aan hom gegee het. Sy lewe, wat op hierdie dag in 1877 in die Paarl 'n aanvang geneem het, vind 76 jaar later 'n graf in Potchefstroom.
'n Buitengewoon vol lewe: skitterende student, Kaapse rebel saam met die Boeremagte, 'n predikant, 'n professor in Teologie, 'n Bybelvertaler, 'n volksman, kerkman, 'n Psalmberymer, 'n taalstryder, 'n digter... onder sy eie mense en oorsee geniet sy werk groot erkenning; nege doktorsgrade word aan hom toegeken! Dr. J.D. Kestell noem hom op 'n keer namens die volk: “Ons innige geliefde Totius."
Duisende het gewag op sy boodskap soos in die stadsale van Johannesburg en Bloemfontein, by ons grootste monumente soos die Vrouemonument en die Voortrekkekkermonument. In sy tuisdorp het hy sy studente geïnspireer in sy lesings, en Sondae is die kerkvolk meegesleep met prediking. Uit die ryke verskeidenheid van Suid-Afrika bodem, is hierdie seun van homm gevoed: die Paarl in die Boland, waar hy gebore is in die lug van die Genootskap van Regte Afrikaners, die Magaliesberge in Rustenberg se wêreld, waar die woord vryheid 'n betekenis in die gees van Paul Kruger kry, Burgersdorp in die Oos-Karoo, waar die mense taai is soos die besembosse teen die kliprante. En dan volg ons hom saam met die burgers van die twee Boererepublieke.
Totius se spore gaan ook langs die hange van die Natalse slagvelde, waar hy gewondes moet versorg en lyke moet dra. Ons vind hom in die vuurlinie van Magersfontein naby Kimberley. As Kaapse rebel moet hy saam met ander voor die oorwig van lord Roberts uitwyk, en dit laat hom in Amsterdam beland. Dit is 'n beskikking wat hom 'n groot geleerde maak.
Hierna kry Totius 'n woonplek op Potchefstroom, waar hy op die puinhope van die oorlog oor die hele Wes-Transvaal predikantswerk moet doen. Hier word hy professor, skryf hy sy gedigte, hier naby tussen 'n lap doringbome vertaal by die Bybel in Afrikaans en berym hy die Psalms.
Hier in Potchefstroom word twee kinders binne twee maande deur die dood weggeruk. Maar Passieblomme word gebore, en Totius se verlies was die volk se wins. Die profeet van die ou hoofstad van Transvaal, het ook die profeet van die Afrikanervolk geword. Hy is op 1 Julie 1953 in Pretoi oorlede.