KULTUURDAGBOEK 4 FEBRUARIE
Lees volledig by Kultuurdagboek
Die Ossewa-Brandwag (OB) as kultuurorganisasie is formeel op hierdie dag in Bloemfontein gestig met kol J Laas as leier.
Die oogmerk was om in die gees van die Ossewatrek van 1938, wat ter herdenking van die Groot Trek 'n eeu tevore onderneem is en waartydens Afrikaner-nasionaliste ongekende hoogtes bereik het, te bestendig.
Die OB het die Unie se deelname aan die Tweede Wêreldoorlog heftig bestry en sover moontlik probeer ontwrig – optredes wat onder andere internering van regeringskant ontlok het.
Vanaf 1 Januarie 1941 het dr Hans van Rensburg as Kommandant-generaal die OB-leiding oorgeneem. Die aanvanklike eensgesindheid tussen die OB en die Herenigde Nasionale Party (HNP) het spoedig omgesit in 'n heftige ideologiese stryd oor bepaalde aspekte van die Afrikaner-politiek wat groot verwarring, spanning en stryd in Afrikanergeledere veroorsaak het. Die eens magtige en dinamiese OB het geleidelik begin kwyn. Met uiterste moeite kon via die Afrikaner Party 'n mate van samewerking tussen die OB en die HNP in die algemene verkiesing van 1948 bereik word, en het die HNP-Afrikaner Party-koalisie van dr DF Malan aan die bewind gekom.
Hierna het die OB al hoe verder op die agtergrond geskuif en is die beweging amptelik op 22 Augustus 1952 ontbind.