KULTUURDAGBOEK 18 JANUARIE
Lees volledig by Kultuurdagboek
James Murray Louw is op hierdie dag in 1869 op Murraysburg gebore. Hy was een van die elf kinders van ds AA Louw en Jemima Murray, dogter van ds Andrey Murray senior. Bekend is ook sy broers AA, stigter van die Masjonalandse Sending, ds AF van Stellenbosch, en die sakeman, CR.
As geagte leraar van die uitgestrekte Nederduitse Hervormde of Gereformeerde Kerk van Boksburg waar hy 41 jaar bly tot sy dood op 21 November 1939, help hy om aan hierdie kerkverband beslag te gee.
Hy dien as moderator en neem 'n aandeel in die stigting van Vergenoeg en ander gemeentes om lidmate in Duits-Oos en Brits-Oos-Afrika te bedien. Onvermoeid tree hy vir sy volk in. Van die begin tot die einde van die Tweede Vryheidsoorlog is met die Boere op kommando.
NĂ¡ die oorlog rig hy die eerste CNO-skool (Christelik Nasionale Onderwys) aan die Oos-Rand in Boksburg op en het hy 'n leidende aandeel in die totstandkoming later van Afrikaansmediumskole in hierdie gebied.
Baie jare dien hy in die bestuur van die Abraham Kriel-Kinderhuis om weeskinders en minderbevoorregte kinders vir kerk en volk te behou.
Sy bekwame vrou, Gertruide Johanna Joubert, eweneens uit 'n pastorie, beywer haar vir die sending en is 'n stigterslid van die Transvaalse Vrouevereniging in 1905.