KULTUURDAGBOEK 11 JANUARIE
Lees volledig by Kultuurdagboek
Charles Robert Louw is op hierdie dag op Murraysburg gebore as die jongste van sewe seuns van wyle ds AA Louw van Noorder-Paarl. Sy moeder was 'n nooi Murray, suster van dokter Andrew Murray.
Na voltooiing van sy studie aan die Paarlse Gimnasium en op Stellenbosch, is hy na Transvaal waar hy sy klerkskap as ingeskrewe prokureursklerk in Pretoria voltooi het. Nadat hy hom op Ermelo gevestig het verhuis hy in 1916 met sy gesin na Kaapstad. Hier het CR Louw hom vir die uitbou van verskeie Afrikaanse sake-ondernemings beywer.
Hy was een van die stigters en oprigters van Santam en Sanlam en het later ook hierdie maatskappy as voorsitter gedien. Verder was hy ook gemoeid met die oprigting van Federale Volksbeleggings en ander maatskappye in die Federale groep.
CR Louw het hom nie slegs beywer om Afrikaans 'n prominente aandeel in die sakewêreld te gee nie maar het ook op ander terreine van die samelewing waardevolle gemeenskapsdiens gelewer. Reeds in 1916 bywer hy hom vir die oprigting van 'n Afrikaanse skool aan die Kaap, en dit was grootliks aan sy ondernemingsgees te danke dat daar 'n begin gemaak is met 'n Afrikaanse klas van vyf kinders, wat later tot die bekende Jan van Riebeeckskool ontwikkel het.