1666: HOEKSTENE VAN KASTEEL GELÊ

KULTUURDAGBOEK 2 JANUARIE

Lees volledig by Kultuurdagboek

Die Kaap was vir die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie eerstens 'n verversingspos, maar tegelyk ook vir Nederland 'n basis van militêre waarde teenoor Europese vyande in die wedloop om die handel met die Ooste. Daarom is kleiner wagposte selfs in die binneland as beskerming teen Hottentot-aanvalle opgerig. Vandaar die ywer geopenbaar om 'n nuwe, sterk Kasteel De Goede Hoop te bou toe die eerste poging van hout en klei minder doeltreffend geword het.

Ná vyf maande se voorbereidingswerk deur 300 man kon die eerste hoekstene in die naam van die Here XVII gelê word – die eerste deur kommandeur Wagenaar, toe ds Van Arckel, en onderkoopman Gabbema, en die vierde deur fiskaal Lacus.

'n Amptelike feesmaal van twee beeste, ses skape, agt vate bier en honderd brode is vir almal aangebied. Elke ambagsman het ook 'n geringe geldstukkie ontvang. 'n Geleentheidsgedig is geskryf en voorgedra. Die bedoeling met alles was veral om die trae werkers aan te spoor en hulle 'n gewilliger gesindheid te laat openbaar. Ná die kermisjolyt is dan ook dadelik weer hader gewerk.