1838: INNAME VAN UMGUN- GUNDLOVU

KULTUURDAGBOEK 23 DESEMBER

Lees volledig by Kultuurdagboek

In De Zuid-Afrikaan van 16 Februarie 1839 verskyn 'n brief wat Andries Pretorius op 23 Desember 1838 aan Jacobus Boshof van Graaff-Reinet geskryf het om hom in te lig oor die oorwinning by Bloedrivier en die iname van Umgungundlovu (volgens die Graham's Town Journal waarin die brief op 14 Februarie 1839 verskyn het, het Pretorius dit op 22 Desember 1838 geskryf).

Die dae tussen 20 en 24 Desember was vir die kommando van Andries Pretorius 'n emosiebelaaide tydperk. Op 20 Desember 1838 het Pretorius en 'n geselskap die hoofstad van die eens magtige Zoeloevolk, Umgungundlovu, heeltemal verlate gevind. Die stat was boonop deels deur brand in puin gelê. Omdat die inname van Umgungundlovu deur die Voortrekkers 'n gedenkwaardige gebeurtenis was, het Pretorius 'n gedenksteen met sy naam en die datum van inname daarop uitgekap in die stat opgerig.

'n Entjie daarvandaan lê Hlom'ama Butho, ook genoem Kwa Maliwane of Aasvoëlkop. Daar is die beendere van Piet Retief en sy sewentig makkers gevind. Famililede het oorblyfsels van geliefdes aan persoonlike besittings herken. Die volop klippe en stokke het op hulle grusame dood gedui. By Retief is sy bladsak met dokumente gevind. Op Kersdag is al die beendere in een graf op die koppie weggelê. In 1920 is 'n monument hier opgerig en die massagraf van 1838 herstel. Andries Pretorius sê hieroor in sy verslag aan die Volksraad: "Hier het ons die gebeente aangetref van ons ongelukkige landgenote... nog die merke draende van 'n wrede dood. Die aanblik was bereken om die mees ongevoelige hart tot trane te beweeg; en volgens die meedelinge van die Zoeloegevangenes moet hulle wanhopig geveg het ofskoon sonder ander wapens as hul knipmesse en 'n paar stokke wat hulle aan die Zoeloes ontwring het sodat daar, volgens die Zoeloe, twinting van hulle gedood word voordat hulle die mense oorweldig het."

In die dae wat op die inname van Umgungundlovu gevolg het, het Pretorius ook alle goedere wat daar in en om Dingaan se stat gevind is laat byeenbring. Daar was onder meer kanonne, gewere, olifanttande, plaasgereedskap, breekware, eetgerei, koper en nog ander voorwerpe. Goedere wat aan lede van die kommando behoort het moes aan naasbestaandes besorg word. Die res is op 26 Desember 1838 op 'n openbare veiling verkoop. Die veiling, wat die inname van die stat finaal bevestig en hierdie episode uit die Trekkergeskiedenis afgesluit het, het meer as R900 opgelewer. Hierdie bedrag is toe gelykop tussen Pretorius se kommandolede verdeel.