KULTUURDAGBOEK 22 DESEMBER
Lees volledig by Kultuurdagboek
Potchefstroom (in die aanvangsjare bekend as Mooirivier, Mooirivierdorp of Vryburg) is deur AH Potgieter en sy mede-Trekkers aan die standhoudende Mooirivier aangelê, ongeveer tien kilometer stroom op vanaf die huidige ligging van die dorp.
Geen definitiewe dokumentêre getuienis behalwe een, dui daarop dat dit in Desember 1838 gewees het nie. Die een noem egter pertinent dat dit op 22 Desember was.
Die aanleg het geskied toe Potgieter en sy volgelinge van die Sand-Vetrivier-gebied af noordwaars oor die Vaalrivier verhuis het. In Desember 1841 is die aanleg na sy huidige ligging verskuif vanweë die moeras, veroorsaak deur oorvloedige reën en die ouklipformasie van die oorspronklike aanleggebied.
PF Strydom en landdros JH Grobler, die eerste landdros van Potchefstroom, het die nodige uitmeetwerk van erwe vir die dorp gedoen. Dit was die eerste permanente blanke nedersetting noord van die Vaalrivier en tot in 1860 die hoofstad van die Boererepubliek in Transvaal. Hier is ook die eerste gemeente, die Nederduitsch Hervormde Kerk, in 1841 gestig.