1906: TVL ONTVANG SELFBESTUUR

KULTUURDAGBOEK 6 DESEMBER

Lees volledig by Kultuurdagboek

Die Tweede Vryheidsoorlog het die Afrikaners in die twee voormalige Boererepublieke polities oorweldig gelaat. Die aanvanklike politieke afsydigheid van die Transvaalse Afrikaners is na 1903 deur 'n politieke herlewing vervang. Die regstreekse oorsaak was lord Alfred Milner se invoer van Chinese arbeiders na die Transvaal-kolonie.

Genl Louis Botha het 'n groot protesvergadering in Julie 1903 op Heidelberg toegespreek. Daar is besluit dat die regering die verdere invoer van Chinese moet staak, dat die Hollandse taal gelyke regte met Engels moet kry, en dat selfbestuur aan die Transvaal-kolonie toegeken moet word.

Milner en sy ondersteuners wou Transvaal tot elke prys Brits-georiƫnteerd hou maar het deur hulle maatreƫls die Afrikaners eerder vervreem.

In Maart 1904 is 'n Volkskongres in Pretoria gehou waar 'n nuwe politieke party, bekend as Het Volk met Botha as leier, tot stand gekom het.

Die plegtige begrafnis van pres Paul Kruger in Desember 1904 in Pretoria, het die Afrikanerdom tot groter teenstand van Milnerisme besiel en gelei tot die aandrang op verantwoordelike bestuur. Die druk op Milner het meegebring dat 'n tussentydse vorm van verteenwoordigende bestuur, die sogenaamde Lyttelton-grondwet, in Maart 1905 vir Transvaal aanvaar is. Die is egter nooit in werking gestel nie want die meerderheid Transvalers sou met niks minder nie as verantwoordelike bestuur tevrede wees.

Nadat Milner in April 1905 Suid-Afrika verlaat het en die Campbell-Bannerman-regering in Brittanje 'n meer versoenende houding teenoor die voormalige Boererepublieke aangeneem het, is verantwoordelike bestuur amptelik op 6 Desember 1906 aan Transvaal verleen.Daardeur het Transvaal gelyke status met die Kaapkolonie en Natal gekry. 'n Wetgewende Raad van 15 lede is ingestel.

In Februarie 1907 is 'n algemene verkiesing in Transvaal gehou waarin Het Volk 'n besliste meerderheid teenoor die ander politieke partye behaal het. Genl Louis Botha het Eerste minister van Transvaal geword,

In die Oranjerivierkolonie het 'n soorgelyke politieke ontwikkeling onder leiding van die Orangia-Unie plaasgevind en is verantwoordelike bestuur amptelik op 5 Junie 1907 ingestel.