1914: GENL DE WET GEVANG

KULTUURDAGBOEK 1 DESEMBER

Lees volledig by Kultuurdagboek

"Ek het gedink aan die vloek van God wat op die volk gaan rus as hy hom skuldig maak aan landrowing. Nadat ek eers begin optree het, het ek vrede gehad. Ek het geen knaende gewete gehad nie. Al het ek nie daarin geslaag om die goddelose inval op die gebied van 'n volk wat ons geen kwaad gedoen het nie, te keer nie, dan het ek tog probeer."

Na liggaam en siel moeg en hulle perde uitgeput en dors, het genl CR de Wet en sy manskappe op 30 November 1914 op 'n waterryke plekkie tussen die sandduine afgekom – 'n ware paradys waar daar volop gras, water en koelte was.

Ten tye hiervan, met die wete dat die Rebellie weinig hoop op welslae het, was genl De Wet en sy klompie volgelinge op weg na Duitswes-Afrika, waar hulle met genl Jan Kemp in aanraking wou kom. Hoewel genl De Wet steeds nie die vrede vertrou het nie moes hulle noodgedwonge 'n dag lank daar uitrus. Met sonopkoms die volgende oggend weerklink die opdrag: "Ons moet begin trek!"

Maar helaas, vanuit verskillende rigtings kom regeringsoldate op hulle af. Onversteurd oorhandig hy sy Mauserpistool aan kol JF Jordaan met die woorde: "Ek is bly dat dit 'n Afrikaner is wat my gevang het want die eer – as dit 'n eer is – kom alleen 'n Afrikaner toe."

Genl De Wet, vir die eerste keer 'n gevangene, is met eerbied behandel op die tog na die Fort in Johannesburg. Na liggaam was hy hulle gevangene, maar sy gees steeds onoorwinbaar en vry soos altyd. In die Fort is hy in eensaamheid opgesluit omdat die verraderlike Smuts en Botha hierdie dapper Boereheld nie net gevrees het nie maar ook met duiwelse genot hom die ergste straf wou oplê. Daar het hy weer 'n ernstige selfondersoek doen. Sy gewete was egter skoon want hy en sy mense het teen 'n onreg protes aangeteken, 'n protes wat vir die toekomstige geslagte sou getuig dat sy volk nog 'n gewete het.

Oor die Regering se besluit om oorlog te verklaar en Suidwes-Afrika binne te val, vertel hy later self:
"Ek het gedink aan die vloek van God wat op die volk gaan rus as hy hom skuldig maak aan landrowing. Nadat ek eers begin optree het, het ek vrede gehad. Ek het geen knaende gewete gehad nie. Al het ek nie daarin geslaag om die goddelose inval op die gebied van 'n volk wat ons geen kwaad gedoen het nie, te keer nie, dan het het tog probeer."

Genl De Wet is in Bloemfontein verhoor en tot 2000 pond boete en ses jaar gevangesnisstraf gevonnis, waarop hy fier aan die regters wat die vonnis gevel het, gevra het: " Is that all?"