1869: TEOLOGIESE SKOOL BURGERSDORP OPEN

KULTUURDAGBOEK 29 NOVEMBER

Lees volledig by Kultuurdagboek

Die ontstaan van die Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika in 1859 was die vrug van 'n krisis op kulturele, politieke, sosiale en godsdienstige gebied wat die geskiedenis teen die middel van die vorige eeu oorheers het.

Tot 1864 is die hoop gekoester dat predikante uit die konserwatiewe Christelike Gereformeerde Kerk van Nederland, self die vrug van 'n krisis in 1834, bekom sou word. Toe slegs twee predikante na herhaalde beroepe gehoor gee het die herderlose kerkraad van Burgersdorp by die Sinodes van 1866 en 1869 daarop aangedring dat daar 'n skool opgerig moet word waar predikante en onderwysers opgelei kan word.

Destyds was weinig plattelandse Afrikaanse kinders op skool of langer as ses maande deur rondgaande onderwysers onderrig. Daar was weerstand teen die verengelsende en neutrale Koloniale staatskole.In die Republieke was feitlik nog geen skole nie. Ter wille van die behoud van die Gereformeerde en Afrikaanse identiteit, het die Sinode van 1869 die voorstel van Burgersdorp aanvaar waarin hulle beloof het om 'n tweede predikant (ds Jan Lion Cachet), naas ds D Postma, te beroep en te bekostig, sodat 'n teologiese skool vir die opleiding van predikante en onderwysers opgerig kan word.

So het onder belangstelling van afgevaardigdes uit die Republieke die skool feestelik van 26 tot 29 November sonder enige staatsteun tot stand gekom. Die mense het uit hulle karige bronne, met feitlik geen 'studente' wat enige vooropleiding geniet het nie, die hand aan die ploeg geslaan vir die behoud van die Afrikaanse godsdiens en kultuur. Die geloofsdaad is dan ook geseën, sodat die Teologiese Skool van 1869 tot 1905 'n magtige faktor was in die Afrikaanse volkswording, veral oor dit reeds besit was van die volk,en 'n band tussen Afrikaners in drie afsonderlike state gelê het.

Die roepingsbewustheid en wil om self te voorsien onder eenvoudige mense soos die kerkraad van Burgersdorp, het verseker dat die ontwikkeling van die Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika nie op die weg van 'verhollandsing' nie, maar van 'verafrikaansing' sou voortgaan, soos ook die toonaangewende rol wat studente en dosente van die skool in die Eerste en Tweede Afrikaanse Taalbeweging gespeel het, toon.