1862: HOF BESLIS OOR NG KERK

KULTUURDAGBOEK 26 NOVEMBER

Lees volledig by Kultuurdagboek

Op hierdie dag is deur die Kaapse Hooggeregshof beslis dat die Kaapse NG Kerk slegs uit gemeentes binne Kaapland geleƫ, saamgestel moet wees, en dat al die ander gemeentes wat tot dusver in die Sinode sitting gehad het, voortaan nie meer daardie reg sou geniet nie.

Vir ouderling Hugo Hendrik Loedolff van Malmesbury, was dit 'n persoonlike triomf. Hy het lankal oor die saak ontvrede gevoel, 'n hofgeding aanhangig gemaak en gewen. Vir die Kerk was dit 'n ellendige oomblik. Dit het daarop neergekom dat die staatsgrense ook as kerklike grense gegeld het, en dat die lidmate in die ander gebiede sonder sinodale gesag of binding was.

Die gevolg was dat die Vrystaat in 1864, Natal in 1865, en Transvaal in 1866 elk 'n eie Sinode gestig het. Loedolff het met verdere hofsake begin optree ten einde vorige Sinode-besluite onwettig verklaar te kry. In 1863 het die regters weereens uitspraak gelewer en hierdie keer die Kerk gelyk gegee ten opsigte van vorige beslissings. Loedolff was nie werklik so suiwer op die wet ingestel nie maar hy wou die Kerk bykom en in die proses die aardse, menslike betroubaarheid bo die gesag, eer en optreewyse van die Kerk probeer stel.

Loedollf kan tereg as 'n speerpunt van die destydse liberalisme beskou word. Maar hoewel hy groot nadeel vir en verwarring binne die NG Kerk geskep het, het die Woordverkondiging oral voortgegaan, en in 1962, na een honderd jaar, is 'n Algemene Sinode weer gevorm.