KULTUURDAGBOEK 24 NOVEMBER
Lees volledig by Kultuurdagboek
Onderlinge verdeeldheid in die ZAR was in Desember 1856 vir die afskeiding van die Republiek Lydenburg verantwoordlik.
Voordat Lydenburg weer tot enige verenigingspogings sou instem wou hy eers sy posisie verstewig deur vereniging met die selfstandige republikeinse gemeenskappe van Soutpansberg en Utrecht.
Op 15 September 1857 is 'n verdrag met Soutpansberg gesluit.
Ook die ZAR het nou toenadering tot die Soutpansbergers gesoek, wat uitgeloop het op 'n gekombineerde Volksraadsitting en die aanvaarding van die nuwe grondwet op 16 Februarie 1858. Vir die Republiek Lydenburg was dit 'n gevoelige slag en dit dryf hom tot vereniging met Utrecht op 6 Mei 1858.
In September 1858 is verenigingsvoorstelle tussen Lydenburg en die ZAR bespreek, wat op 24 November 1858 op Rustenburg deur verteenwoordigers van albei state aanvaar is. Daardeur is die Volksraad weer as hoogste gesag erken en is die vier selfstandige republikeinse gemeenskappe in die Oorvaalse gebied verenig. Dit het die weg gebaan vir moontlike vereniging met die Oranje-Vrystaat.