KULTUURDAGBOEK 10 NOVEMBER
Lees volledig by Kultuurdagboek
Martin Luther is op hierdie dag in Eisleben gebore en op 18 Februarie 1546 oorlede. Die magtige protes van "die monnik wat die wêreld geskud het" teen die dwaalleringe en misbruike van die Kerk van sy tyd het op die groot Kerkhervorming van die sestiende eeu in Europa, met sy verreikende gevolge op kerklike, maatskaplike en staatkundige gebied oor die wêreld heen uitgeloop.
Sy vertaling – met die hulp van 'n paar kundige vriende – van die Bybel in die Duitse volkstaal, het 'n onberekenbare groot invloed op die loop van die Hervorming sowel as op die taalontwikkeling in Duitsland gehad, en tot vandag toe het geen Duitse vertaling dié van die Hervormer verdring nie. Die eerste volledige uitgawe daarvan het in 1534 verskyn.