Lees volledig by Kultuurdagboek
KULTUURDAGBOEK 12 OKTOBER
Die heel eerste skoot van die Tweede Vryheidsoorlog is op hierdie dag om ongeveer 22:45 uit die Mauser van veldkornet Coetzee by Kraaipanstasie gevuur nadat 'n spoorstaaf tussen Mafeking en die stasie verwyder is. 'n Lokomotief van die Engelse magte het vroeër die aand daar ontspoor terwyl die Mosquito met twee kanonne wat hy op Vryburg gaan haal het, die lokomotief gevolg het.
Die gepantserde trein, die Mosquito, het tot teenaan die ontspoorde lokomotief gery waarop lt Elliot opdrag gegee het dat sy soldate die spoor moet herstel. Veldkornet Coetzee het die Engelse genoeg kans gebied om met hulle rooi lanterntjies onder die ontspoorde lokomotief in te klim en toe die eerste skoot van die oorlog geskiet.
Hierna sou die oorlog twee jaar en sewe maande duur – 'n oorlog wat duisende lewens en honderde miljoene rande gekos het. Met die uitbreek van die oorlog was daar 22 905 weerbare Vrystaatse burgers en 32 353 weerbare Transvaalse burgers. Altesaam dus ongeveer 55 000, hoewel daar in geen stadium meer as 40 000 Boerekrygers te velde was nie. Daarteenoor het die Britse Ryk van 448 000 soldate gebruik gemaak om die klein Republieke op die knieë te dwing.
Ongeveer 4 000 Boeresoldate het gesneuwel maar die grootste lewensverlies aan Boerekant was die 26 370 vroue en kinders en 1 676 mans bo sestien, die meeste grysaards wat in die Konsentrasiekampe met hulle lewe betaal het vir hulle vryheidsideaal. In hierdie kampe is hulle op verskeie wyses vermoor, sommige deur honger, ander van ontberinge, en die kinders meestal van gif wat hulle in die hospitale gevoer is onder die voorwendsel dat hulle medikasie ontvang – wanneer 'n kind net gelyk het of hy 'n kwaal onder lede het is hy brutaal van sy moeder af weggeneem na die hospitaal waar sy hom nie mog besoek het nie en hom gewoonlik nooit weer gesien het nie. So het die Engelse probeer seker maak dat daar nie 'n volgende geslag van die Boerevolk sou wees nie.
Daar is altesame 116 572 mense in die Konsentrasiekampe aangehou: 32 561 krygsgevangenes is in Suid-Afrika of in die buiteland aangehou, en 20 782 Bittereinders het aan die einde van die oorlog wapens neergelê.
Die oorlog het Brittanje duur gekos, uit die skatkis ongeveer R380 miljoen en aan lewensverlies ongeveer 22 000 offisiere en manskappe op die slagveld, meer as vyf maal soveel as die 4 000 Boeresoldate wat op die slagveld gesterf het. Tog was die prys wat die Boererepublieke moes betaal feitlik onverhaalbaar.