25 SEPTEMBER 1857: EERSTE STAATSKOERANT IN ZAR

KULTUURDAGBOEK 25 SEPTEMBER

Lees volledig by Kultuurdagboek

Een van die grootste sorge waarmee die regering van die Zuid-Afrikaansche Republiek in die wordingsjare te kampe gehad het, was die gebrek aan 'n eie drukpers. Reeds in 1851 het 'n sekere AJ Wagner voorgestel dat 'n drukpers in die Republiek opgerig word "ten einde de onregtvaardige en schandeleuze lasteringen hen door de Britsch Couranten ter laste gelegd, op eene regtvaardige wyze te verdedigen, en de waarheid hulde te doen" (Min of meer soos en waarom ons vandag die internet behoort te gebruik...)

Nadat verskillende vrugtelose pogings aangewend is, het pres MW Pretorius uiteindelik daarin geslaag om CP Moll in 1857 met sy drukpers na Potchefstroom te bring. Pretorius het 'n ooreenkoms met Moll aangegaan om 'n weeklikse koerant te druk. Die eerste eksemplaar van die Staats Courant het op hierdie dag verskyn.

As gevolg van probleme wat tussen Moll en die Volksraad ontstaan het, het die regering egter besluit om sy drukpers te koop. Voortaan sou twee afsonderlike publikasies verskyn – een uitsluitend vir amptelike berigte en die ander as gewone koerant. Sedert 1859 is die amptelike naam van die koerant Goevernements Courant der Zuid-Afrikaansche Republiek, terwyl die oudste koerant in Transvaal De Oude Emigrant was, wat sedert 15 Oktober 1859 verskyn het.