1912: GELUKWENSING VAN ROBERTS AAN VERLOOPTE LOUIS BOTHA

KULTUURDAGBOEK 21 AUGUSTUS

Lees volledig by Kultuurdagboek

Genl Louis Botha is in 1912 tot erevolle generaal in die Britse leër bevorder – wat 'n skande vir die Boerevolk!
Dit het tot op daardie stadium nog nooit in die Britse militêre geskiedenis gebeur nie. Vir Botha moes dit as 'n besondere eer gedien het maar daar was talle Afrikaners wat hierdie verlooptheid nie so gesien het nie – kwalik tien jaar nadat die Britte die Boerevolk op eie bodem kom probeer uitwis het, 27 000 onskuldige vroue en kinders vermoor het, plase en alle besittings soos barbare verwoes en afgebrand het, en ons land daarna met 'n vernietigende agenda beheer het, het nie in die reggeaarde volksgenote se geheue verdwyn nie.

Daarom het hierdie "verering" natuurlik die Britte en veral by name lt-kol John Seely, as minister van oorlog in die Britse kabinet, en sir John French, 'n Britse generaal in dieTweede Vryheidsoorlog, persoonlik verheug. Onder hulle was natuurlik ook FS Roberts wat die Britse opperbevelhebber van die verwoestingswerk in Suid-Afrika in 1900 se jare was, en wie 'n brief van gelukwensing aan Botha gestuur het om lg se reeds gepoleerde ego verder blink te vryf, en om sodoende nasionalistiese Afrikaners verder die harnas in te jaag.

In die brief verwelkom Roberts Botha "se belangrike toevoeging tot die Brits leër" en is hy dankbaar dat hy Botha "voortaan 'n broer-offisier kan noem".  Dit was hierdie soort ding wat getroue Afrikaners laat besef het wie Botha werklik is en daarom het hulle hom polities algaande verlaat en saam met genl Hertzog binne sy politieke beginsels, hulle kulturele, maatskaplike en staatkundige Afrikaner-ideale nagestreef.