KULTUURDAGBOEK 16 AUGUSTUS
Lees volledig by Kultuurdagboek
Die joernalistiek in Suid-Afrika het begin onder die Engelse bewind aan die Kaap, toe die Kaapsche Courant en Afrikaansche Berigter (The Cape Town Gazette and African Advertiser) op hierdie dag gepubliseer is. Die koerant was tweetalig en dit was ook die eerste medium wat nuus en advertensies bevat het. Aanvanklik word die blad deur die Kaapse firma Wilker en Robertson, wat 'n drukpers uit Londen ingevoer het, gedruk.
Die pers is op 1 Februarie 1800 in Pleinstraat 35 opgerig. Op 15 Julie 1800 het sir George Young 'n proklamasie uitgevaardig waarin hy die betrokke firma aanwys as die enigste drukkers vir die regering en in die kolonie. Enkele maande later het die regering egter besluit om die pers te koop.
Alle drukwerk sou vir die daaropvolgende bykans 24 jaar deur die "Goewermentsdrukkery", wat in die Kasteel gesetel was, behartig word. Die koerant is dus ook hier gedruk en was derhalwe 'n spreekbuis van die regering.
Tydens die bestuur van die Bataafse Republiek het die koerant eentalig Nederlands geword en markberigte, geboortes, sterfgevalle en ander berigte naas die amptelike berigte beplaas. Die naam is na die Kaapsche Courant verander, 'n naam wat behou is, ofskoon dit in 1806 sy oorspronklike naam teruggekry het.
As gevolg van die angliseringsbeleid van lord Charles Somerset, het die koertant byna uitsluitend in Engels verskyn en vanaf 7 Julie 1826 heet dit The Cape of Good Hope Goverment Gazette – eentalig Engels en 'n suiwer staatskoerant – ja...
In die twintigerjare word met 'n sekere mate van welslae 'n stryd om die vryheid van die drukpers gevoer, en so verskyn dan in 1824 die eerste onafhanklike blad, The South African Commercial Advertiser.