1866: EERSTE VERWYSING NA ANTJIE SOMERS

KULTUURDAGBOEK 10 AUGUSTUS

Lees volledig by Kultuurdagboek

Die vroegste bekende verwysing na Antjie Somers verskyn op hierdie dag in The Friend in Bloemfontein. Hierin word vermeld dat Antjie Somers tydens die bewind van lord Charles Somerset 'n berugte struikrower in Kaapland was: 'n manspersoon – Kleurling of nie-blanke – wat vroueklere aangetrek en die Kapenaars snags aangerand en beroof het oppad huistoe.

Die 18e en 19e eeu was 'n baie onveilige tyd in ons land se geskiedenis – soos dit nou weer in 2011 is – en in die besondere lewensomstandighede van destyds het 'n historiese figuur geleidelik 'n sagefiguur in ons volksoorlewering geword. Daar is vertel dat Antjie Somers kinders ontvoer wat alleen of ontydig buite loop, dat hy by huise aanklop wanneer die mans weg is en die vroue en kinders aanrand, dat hy as 'n bediende werk soek en die kinders met 'n handbyltjie doodkap – en altyd was hy vermom in vroueklere.

Dis opmerklik dat die oorspronklike struikrower-oorlewering mettertyd verflou het en dat hy 'n kinderskrik in ons volksgeloof geword het. Soos dergelike gestaltes in die kinderwêreld het Antjie somers ook 'n afskrikwekkende uiterlike vertoon – 'n heks as't ware. Antjie Somers het ook mettertyd ons volkstaal binnegedring met uitdrukkings, klankspeling en assosiasies.

'n Ander bekende verskynsel in ons volksoorlewering is die Tokkelossie. Die bygelowe in verband met hierdie skrikfiguur stam uit die kultuurkring van die swartmense. Hulle verkondig soms dat die Tokkelossie 'n kindervriend is maar by die blankes staan hy bekend as 'n skrikfiguur. By die swartes heers die opvatting dat die Tokkelossie onsigbaar is en also 'n geskikte boodskapper van die towenaars en hekse is, daarom vrees hulle hom wel en het gewoonlik selfs hulle beddens op bakstene gepak sodat hy hulle nie snags kan bykom nie – hy is glo 'n baie klein mannetjie. Met die oorgang na die blanke kultuurbelewing is dit opvallend dat die Tokkelossie verbind word met goëlery en wat daarmee saamhang.