SÓ PATETIES IS INTER- NASIONALE GEREGSHOF

1966: UITSPRAAK VAN INTERNASIONALE GEREGSHOF OOR SWA

KULTUURDAGBOEK 18 JULIE

'n Belangrike baken in die hele stryd tussen Suid-Afrika en die Verenigde Volke is Ethiopieë en Liberië se aanklag teen Suid-Afrika in 1960 in die Internasionale Geregshof oor sy mandaat oor Suidwes-Afrika.

Suid-Afrika het hom suksesvol verweer, soos bewys deur die feit dat die applikante hul hoofklag gewysig het, en dat die uitspraak van die hof ten gunste van Suid-Afrika was. Die hof kom naamlik tot die bevinding dat individuele lede van die Volkebond nie die bevoegdheid gehad het om 'n mandataris in die hof aan te spreek oor die uitvoering van sy mandaatverpligtings nie. Toesighouding het by die Volkebondsraad berus en is deur sy organe uitgeoefen – die wil van die mandataris moes ook telkens in ag geneem word.

Die hof kom dus tot die gevolgtrekking dat die applikante geen reg het, of regsgeldige belang het, om Suid-Afrika 'n verhoor te laat ondergaan nie, en hy ag hom in die omstandighede ook nie verplig om uitspraak te lewer oor die bestaan van die mandaat, al dan nie, of ander vrae nie.

Die Verenigde Volke het hom geensins hierin berus nie soos bewys is deur sy besluit om Suid-Afrika se teenwoordigheid in die gebied in 1969 onwettig te verklaar, en die Veiligheidsraad se besluit om verdere samesprekings op te skort in 1973, ondanks positiewe onderhandelings tussen dr Kurt Waldheim en dr Alfred Escher met Suid-Afrika.

Die druk op Suid-Afrika ten gunste van 'n oorgawe of gehoor aan die eise van revolusionêre magte in die gebied het al meer en meer toegeneem ten spyte van grondwetlike vordering op die basis van selfverwesenliking en onafhanklikheid.

Soos Suid-Afrika kort daarna oorhandig is aan die kommunistiese revolusionêre magte, is Suidwes 'n kortkop daarvóór uitgelewer aan dieselfde demoniese magte.

Dit laat mens dink aan sekere groepe in Suid-Afrika wat glo hulle sal uitkoms vir hul probleme vind deur by die Internasionale Geregshof om hulp aan te klop. Die pad wat hierdie hof stap is om die finale besluitneming aan die president van 'n land oor te laat. Dit maak van die hele proses 'n sirkus wanneer die probleem juis die president is!