Die boere was goeie skuts. Roofdiere moes uitgeroei word, hulle moes wild skiet vir voedsel en renosters en olifante skiet vir die velle en die tande. Hulle moes hul eie ammunisie maak, soos die koeëls of die hael, want hulle kon niks anders koop as die lood en die kruit nie. Op die meeste plase het ‘n smous twee keer per jaar met skiet-benodighede rondgery.
Die boer het meesal die lood en kruit geruil vir die velle van geskiete diere. Hulle het die lood gekoop in stawe van ‘n voet lank en ‘n duim dik. Hulle het later doppies in blikkies gekoop.Die vrouens en kinders het gehelp om koeëls te maak en om die gewere te laai. Elke soort geweer het ‘n afsonderlike koeëlvorm gehad, bolrond of langwerpig-rond. As die boer ‘n klompie koeëls wil maak, dan vat hy ‘n ysterpotlepel met ‘n klein tuitjie aan die kant en sit ‘n stuk lood daarin om te smelt. Hulle het die lepel met die tuitjie of die tessie toegepak met vuurmaakgoed. As die lood mooi gesmelt het en die vuilgoedjies afgeblaas is, neem hy die koeëlvorm in die een hand, druk die vorm mooi toe en met die ander hand giet hy lood uit die tuitjie deur die klein gaatjie in die rand van die vorm. Dan trek jy die vormpie oop en die koeël wat gereed is, val uit. Die koeëls wat hulle gegiet het vir die Richard- en die Enfield-gewere, was ‘n bietjie anders.
Hulle het nie voëls met groot koeëls geskiet nie, want dit was moeilik om so’n klein diertjie met ‘n koeël raak te skiet. Daarom het hulle hael gebruik, wat hulle ook self gemaak het. Hulle het gesmelte lood in fluitjiesrietlitjies afgegooi en die stafies wat daaruit gekom het, in klein stukkies gekap en hulle dan tussen twee plat klippe gemaal tot hulle mooi rond was. Hulle het ook koeëls of lopers gemaak deur gaatjies te boor in sagte leiklip, waarin hulle dan die lood gegiet het.
Lood het soms baie skaars geword en daar moes suinig gewerk word totdat die smous weer kom. Dan het veral jong seuns hulle bes gedoen om ou koeëls op te tel. Daar was seuns wat weer van hulle opgetelde koeëls aan hulle ouer broers verruil het vir iets soos ‘n knipmes!
Soms het die kruit ook opgeraak, maar dan het die boere nie verleë gestaan nie, want hulle het self kruit gemaak van blomswael, salpeter en houtskool. Dit was nogal ‘n noukeurige proses, wat verskillende grade van kruit gelewer het. En die fynste wat deur die sif kom, het hulle buskruit genoem en daarmee voëls geskiet. Dié wat meer grof was, is gebruik om bokke mee te skiet. Die grofste is genoem “kanonkruit” en daarmee is grootwild gejag. Die selfgemaakte kruit was nie so goed soos die gekoopte nie, maar hulle het goed daarmee klaargekom.
Wanneer hulle veld toe gaan om te skiet, het hulle ‘n bandolier omgehang vir die koeëls, vetlappe en doppies en ‘n horing vir die kruit. Die bandolier is van ‘n strook leer gemaak. Die kruit het hulle afsonderlik in ‘n kruithoring saamgedra, wat gewoonlik van ‘n beeshoring gemaak is. Die vetlappe het hulle gebruik om die geweer te laai. Jy gooi eers die kruit by die bek van die loop in. Dan vat jy ‘n vetlap en plaas dit oor die bek van die loop, en in die vet druk jy die koeël in die loop in. As die koeël in die loop is, dan moet dit met die laaistok vasgestamp word teen die kruit Die kruit het hulle uit die horing in die hand gegiet en dan na skatting ‘n hoeveelheid in die geweer se loop gegooi.
Die hoeveelheid kruit wat in die loop beland het, het gewissel. Die skattery was altyd onseker. ‘n Bietjie kruit het altyd aan die hand vasgekleef en met die pangewere was dit die skut se gewoonte om na die ingooi van die kruit in die loop, die hand op die pan af te vrywe. Aan die onsekere skattery van die kruit het ‘n einde gekom toe die mense kruitbusse gekry het.
Wanneer ‘n boer met hael skiet, moes hy eers die kruit in die loop gooi en met ‘n pluisie van papier of ou lappe goed met die laaistok vasstamp. Dan kom die hael in, meer of minder na die hael se grootte, of waarna hy wil skiet. Op die hael moet weer ‘n ligte pluisie kom om die uitrol van die hael te belet. Die boere het later ontdek dat pluisies van wol baie beter as dié van papier of ou lappe was, omdat hulle die wol beter kon vasstamp.
Wanneer die geweer klaar gelaai was, kon jy nog nie skiet voordat jy by die pangewere en die vuursteengewere kruit op die pan gegooi het nie. Dit kon nie skiet voor die kruit op die pan of die doppie op die nippel was nie.
Die korrelvat was ook moeilik, want die ou pangewere se visier was maar soos dié van ons ou haelgewere. Die boere het soms twee vingers bo-op die loop as visier gebruik en so ‘n wildebees op 600 tree raak geskiet. In die oorloë teen die barbare het hulle dikwels dun sakkies gebruik wat in die loop van die geweer ingegaan het en waarin soveel as tot vyf koeëls of lopers gestop is. Hulle het met hierdie skrote in ‘n geveg onder die vyand gemaai.
Hulle latere koeëlgewere het visiere gehad om tot op 800 tree te kon skiet., maar die koeëls het tot op 1 000 tree soms nog ‘n bok doodgemaak.
Die besit van twee gewere het die boer altyd goed te pas gekom, veral in tye van oorlog. Wanneer hy wou gaan wild skiet of gaan kuier, het hy een van sy twee gewere altyd by die huis gelaat en dan het sy stout seuns by die huis soms die geweer met kruit en ertjies gelaai of met kruit en sout en daarmee gespeel. ‘n Skoot hiervan het wel baie seergemaak, maar was gelukkig nie dodelik soos hael of lopers nie!