HOE ONS VOOROUERS SEEP GEKOOK HET

ONS BOEREVOLK DESTYDS

 

Wanneer daar skaap of bees of vark geslag word, word al die onbruikbare vet en vet wat te oud geword het, bymekaar gemaak vir die kook van pragtige harde boerseep. Dit alles kom in ‘n groot seeppot vol water en gekook.  Die vet word bygevoeg en ook ‘n hoeveelheid seepsoda (“caustic soda” ) . Die eerste kookproses is om al die vliese, velle en kopbene van varke of wat ook al, soveel moontlik te laat verteer.  Dit moet baie geroer word om die massa egaal te kry. Ook om vas te stel of daar nog meer soda moet in kom. As alles verteer is, word die vuur geblus. Dan sak al die vuil wat in die seepvet was, na onder en lê saam met die bene en velle onder in die pot.  Die volgende dag is die seep-laag goed koud en hard en word uitgehaal en die vuil aan sy onderkant afgesny. Dit kom weer in die pot. Dit kry weer water en word opgesmelt. As dit kook word daar weer seepsoda, wat in ‘n skotteltje water aangemaak is,  in die seeppot gegooi.  As die soda te min is, bly die inhoud nog vetterig. Voeg dan nog soda by. As die inhoud reg is, lyk die opborrelende mengsel  soos kokende heuning. Die laaste vuil sak nou in die goed-kokende seep-laag af en dan word ‘n skotteltjie sout ingegooi.  As die helder bruin loogwater dan opborrel, weet die persoon dat die seep reg is.

Die pot word van die vuur weggeneem en die volgende more word die seep afgesny en die vuil loog in die pot weggegooi. As die seep nog warm en vloeibaar is, kan dit in vorms gegooi word om  koud en hard te word. As die seepkokery noukeurig en reg plaasgevind het, is die seep só suiwer en goed dat geen fabriekseep daarnaby kom nie.

Maar die oumense het, wanneer hulle nie seepsoda gehad het nie, nogtans seep gekook.  Hulle het van die as van twee soorte bossies wat hulle uitgebrand het, gebruik gemaak, naamlik die renosterbossie of die gannabossie. Van die as het hulle loog gekook en geduldig hiermee selfs ‘n maand lank aangehou totdat hulle ‘n kooksel bruikbare seep kon produseer.  Later het hulle ontdek

dat wanneer hulle twee emmers vol as van die lidjiesganna, een emmer kalk en vier emmer water neem, hulle daarmee ‘n goeie loog kon kook.  In plaas van om daarmee ‘n maand te sukkel, het hulle met hierdie resep nou ‘n kooksel seep in agt dae geproduseer.  As dit lyk of die seep amper klaar is, het hulle dikwels nog ‘n koppie sout in die pot gegooi om die seep en loog mooi te laat skei.  Maar te veel sout laat die seep maklik bars, want dit word dan te hard.

In die Tweede Vryheidsoorlog het dit die Engelse soms geluk om die Boere seep-loos te maak, maar in die veld groei ‘n bossie wat onder die grond ‘n groot knol het, soos ‘n uiebol.  As jy hom uitgrawe, deursny en op die wasgoed vrywe, skuim dit amper net soos seep en maak die vuilgoed amper so skoon soos seep.  By gebrek aan seep, het hulle goed klaargekom met hierdie  gifbolle.

MY DOODKRY IS MIN. Hy maak altyd ‘n plan - geld dit nog by die Afrikaner?