Dr JP Botha
In ons reeks oor hoe ons ou Boerevolkie destyds geleef het kyk ons vandag na wat alles op die koringvloer gebeur het sodat daar meel kon wees vir brood en ander gebak.
Deesdae wanneer die graan ryp is en in miedens gepak is, moet dit gedors word. Die dorsmasjien gaan rond om die een boer na die ander te help om die koring in die sakke te kry. Daar is vandag ook vooruitstrewende boere wat self sy eie dorsmasjien besit. Behalwe die sekel om te sny, die wa om die koring aan te ry en die dorsmasjien, is daar maar min gereedskap nodig. Maar ons voorouers het nie van masjiene geweet nie en het nie eers altyd streepsakke in die hande gekry nie.
Die koringvloer
Voordat hulle begin dors het moes hulle ‘n vloer maak. Hiervoor het hulle ‘n mooi gelyk plek uitgesoek en die graspolletjies afgeskoffel. Die vloer se oppervlak mag nie sanderig wees nie. Daarom het hulle hom met klei uitplavei en al om die rantjie klippe gepak. Die grootte van die vloer moes pas by die grootte van sy koringoes en die aantal perde wat sou trap. Om die perde wat sou trap binne op die vloer te hou, is rondom die vloer paaltjies ingeplant wat met rourieme verbind is. Daar was nie soos vandag draad om te span nie. Hierdie paaltjie-heining het ook vee wat kon kom pla op die vloer, buite gehou.
Die trap
Nadat die vloer heeltemal droog is, word die koring daarop uitgesprei. Die gerwe word dan almal ewe dik gebind en langs mekaar gelê Onderwyl een die gerwe aandra, is ‘n ander besig om die bande los te sny en die koring los te skud, wat met die hand gedoen word of met die gaffel. Daarna kom die perde op. Dis soms moeilik om jong perde op die koring te kry, maar hulle word met geleerde ryperde aangedryf en loskom is min. Hulle leer gou as hulle eers op die koring staan en al in die rondte gejaag word. Die hardloop op die koring maak die perde gou moeg, sodat hulle na ‘n rukkie gaan staan. Onderwyl hulle stilstaan, laat die boer die koring met gaffels omkeer of opskud en hy kyk of die korrels nie al amper uit is nie. Hulle vee die kante ook weer mooi op en dan moet die perde weer draf en trap. Nie lank daarna nie is die trapsel koring af. Vandag se dorsmasjien moet baie goed werk om die korrels so skoon uit te dors as wat ‘n klompie perde dit uittrap. As die vloer klein is, of as die man min perde het, word dié wat hy gebruik aan mekaar gekoppel. Die perd aan die binnekant word deur die baas aan ‘n riem vasgehou, en die ander moes met hierdie een saamloop. Die buitekantste perd moes natuurlik die vinnigste hardloop en die man moes met die omgaan van die perde die riem gereeld van die een hand na die ander verwissel. Om te versker dat die perde orals ewegoed trap, het hy sy staanplek kort-kort verskuif. Die aanhoudende rondomtalie kon die perde duiselig maak en daarom moes hulle ‘n ruk regsom en dan weer linksom draai.
Beeste was vir die uittrap van koring ongewens want hulle kon nie aanhou met draf nie. Hulle sou ook aanhou om van die koring te vreet. Met die stadige stap sou die koring ook nie uitgetrap raak nie, maar in vaste koeke op die vloer bly lê. Hulle het ook die koring bemis wat ‘n gemors veroorsaak het. So gou as wat die trappery klaar was kon die perde afkom en begin die mense se werk op die vloer. Die vloer moet ingevee word en die strooi moet afgewerk kom.
Die skoonmaak van die koring
Om die strooi af te kry, word houtgaffels gebruik wat hulle self stukkie vir stukkie inmekaar gesit het. Dit was in werklikheid reuse vurke waarmee hulle die strooi van die koring afgemaak het. Al die korrels met die kaf is na een kant van die vloer gewerk om skoongegooi te word. Daarvoor het hulle houtskoppe gebruik wat hulle ook self gemaak het, meesal van stukke vaarlandswilgerbome wat hulle uitgehol het.
Om die koring teen die wind te gooi was moeilik. Seuns moes dit van jongs af oefen. As die wind sterk is, is al die kaf en stof uit met een- of tweekeer se gooi, maar daar was onsuiwerhede wat nie weggewaai het nie. Tussen die koring het hier en daar stukkies mis van die gesmeerde vloer gekom, sowel as klein klippies, asook die korrels wat nie goed uitgetrap was nie, die dopkoring.
Die jaagbesem
Die stukkies mis, klippies en dopkoring waai nie met die kaf en stof weg nie, maar val bo-op die ronde hoop koring. Dit het hulle met ‘n jaagbesem van die ronde hoop koring afgevee. Hulle het die jaagbesem self gemaak van besemgras en ‘n lang stok.
As dit windstil was, was dit moeilik om die koring uitgetrap en skoongegooi te kry. Hulle het egter genoeg geduld gehad om nie die oes af te skeep nie.
Die koring in sakke
Streepsakke om die koring in te bêre, was nie orals te kry nie. Hulle het self sakke gemaak van gelooide skaapvelle. ‘n Velsak was groter as ‘n streepsak. Dit het gemiddeld tien emmer koring gehou. By koring vir eie gebruik is die sakke goed volgemaak en dan toegewerk. As hy van die koring wil verkoop is dit in die sak ingemeet met ‘n maatemmer van tien pinkies. By ‘n groot oes was ‘n maatemmer nie dienlik nie en het hulle ‘n skepelmaat gebruik. Dit was ‘n selfvervaardigde vierkantige bak. Drie skepelmate was ‘n mud. Die maat het ore gehad waaraan dit opgetel kon word. Nadat die hele hoop koring versorg is, moes die dopkoring nog met stokke uitgeslaan en ook weer uitgewaai word.
Om broodkoring skoon te kry, is dit op ‘n tafel uitgegooi en klippies wat daarin was, met die hand uitgesoek. Daarna is dit gewas. Hulle het die koring deurgevoer in ‘n groot bak met water totdat dit skoon was. Daarna moes dit ‘n dag of wat in die son lê om te droog.
Die oumense het metodies en netjies gewerk ten spyte van hulle primitiewe gereedskap.