Ds.André van den Berg
"Die sameflansing van uiteenlopende rasse is kunsmatig en altyd rampspoedig. Rasse moet eerder na mekaar toe groei, sonder benadeling van hul onderskeie kulture. Een ding is seker: Uiteenlopende rasse kan hoogstens naasbestaan, maar nooit saambestaan nie. Naasbestaan is natuurlik en opbouend. Saambestaan is kunsmatig en vernietigend."
InleidingDie wêreld het al dikwels slimgeleerde mense opgelewer wat dom dinge aangevang het. Hierdie mense het ‘n sekere lewensrigting ingeslaan wat vir hulle reg gelyk het en hulle fout eers agtergekom toe dinge begin skeefloop het. Ongelukkig het baie van hulle soveel openbare aansien geniet, dat dit die dwaasheid van hulle mistastings verberg het! Daarbenewens was hulle ook te trots om hulle fout te erken en te red wat daar te redde was.
As ‘n mens nie met God se Woord rekening hou nie, is vergissings onvermydelik. As jy nie gaan bid en waak soos wat die Bybel sê nie, kan jy maklik gif vir ‘n geneesmiddel en ‘n anker vir ‘n reddingsgordel aansien! In Jer.17:9 waarsku die profeet nie verniet nie: "Bedrieglik is die hart bo alle dinge, ja, verdorwe is dit; wie kan dit ken?" .
Een van die dodelikste vergissings van alle tye word op die gebied van die staatkunde gevind. Baie mense glo dat ‘n staatsbeleid van rassevermenging ongekende vrede en voorspoed vir ‘n land bring. Die teenoorgestelde is eerder waar - oral waar rassevermenging as politieke model in die wêreld gevolg is, het vrede en voorspoed gewyk.
Ten spyte van al die aanskouingslesse deur die eeue ywer dwase politici en ontspoorde kerklui nog steeds vir ‘n rasvermengde hemel-op-aarde bedeling. Hulle laat mense glo dat ‘n rasse-utopia haalbaar is mits menslike natuurlike grense soos etniese- en kulturele verskille opgehef kan word. Soos ‘n Plato van ouds glo hulle dat alle menslike verdelings inherent boos is. Plato se dwaling word vandag Holisme genoem.
Holiste aanvaar vir geen oomblik dat die natuurlike verskille wat daar tussen mense bestaan, deel van God se skeppingsordening en derhalwe sy wil is nie. Die probleem is dat Holiste nie tussen eenheid en eenvormigheid onderskei nie. Dis vir hulle een en dieselfde ding - sinonieme En dis waar hulle die fout maak!
In die bedorwenheid van hul verstand verkondig hulle een van die skadelikste mites van alle tye nl.dat alle mense gelyk is. As jy dit verkondig, aanvaar jy dat ‘n universele broederskap op aarde haalbaar is. Die een veronderstel die ander.
Die probleem is dat Holiste talle kerke aanspoor om hierdie hersenskim na te streef. Kerke word wysgemaak dat die verwerkliking van so ‘n universele broederskap hulle hoofdoel behoort te wees. En so word die kerklike Eva verlei om dit wat oënskynlik mooi lyk, ter hand te neem en haar toekoms te belemmer. Let op wat gebeur nou - die strewe na ‘n sosio-politieke utopia verdring die kruisevangelie. Versoen, versoen, i.p.v bekeer, bekeer! Dis presies wat Satan wil hê – ‘n neutralisering van die Evangelieboodskap!
Rasseverskille en kulturele sentimente is eie aan die mens. Dit kan net so min wegredeneer word as wat ‘n mens die inkomende gety met sy hande kan keer! Dis nie booshede soos Holiste dit brandmerk nie, maar gegewenhede. Dis alles deel van God se goeie skepping. Ongelukkig beskou dwase dit as ergerlikhede wat in die weg van broederliefde staan en ag dit hul heilige plig om dit wat God ongelyk geskape het, te probeer gelykskaaf.
Die geskiedenis leer ons dat volke wat die ongelykheid van die skepping eerbiedig het, voorspoedig was. Ons eie volksgeskiedenis bevestig hierdie waarheid. Toe ‘n beleid van rasseskeiding in ons land toegepas is, was Suid-Afrika se misdaadsyfer laag en sy ekonomiese groeikoers hoog. Toe hierdie orde deur politici en kerke omgekeer is, het die misdaadsyfer onmiddellik die hoogte ingeskiet - 770% binne die eerste vyf jaar! En dit terwyl ons ekonomiese groeikoers drasties gedaal het. Sê dit nie vir ons iets nie?
1. Alexander die Grote
Die vergissing dat rassevermenging ‘n land voorspoedig maak, is egter niks nuut nie. Dit gaan, om die waarheid te sê, so ver terug soos die derde eeu vC toe Alexander die Grote die eerste dwaas geword het wat probeer het om ‘n utopia uit rassevermenging te laat ontstaan.
Hierdie jong Macedoniese koning het God se ongelyke skepping probeer gelykskaaf deur uiteenlopende rasse in 'n tipe van utopia saam te voeg. In moderne terme sou ‘n mens van ‘n reënboogryk kon praat. Hierdie katastrofale vergissing is daarna in die Romeinse Ryk en later ook deur talle Christelike kerke en instansies met dieselfde nagevolge geïmplimenteer.
Daar is min dinge so gevaarlik soos teoretiese veralgemenings. ‘n Ding klink miskien in die teorie goed en gaaf maar in die praktyk is dit ‘n onwerklikheid en fatale hersinskim.
Kom ons wees eerlik: Het iemand al ooit daarin geslaag om die mensdom in 'n vreedsame eenheid saam te voeg? Nog niemand nie! Alle pogings, en daar was baie daarvan, het klaaglik misluk. Dit het miljoene mense ontnugter gelaat en baie lewens gekos.
Ten spyte van al die Bybelse waarskuwings asook duidelike aanskouingslesse, leer mense nog steeds nie dat dit wat God geskei het, geen mens mag saamvoeg nie! Waarom het God dan afsonderlike volke, kulture en tradisies geskep? Dit moet as natuurlike grense dien sodat mense in vrede en harmonie naas mekaar kan leef. Let wel: Ek sê naasmekaar en nie saam met mekaar soos Nimrod by Babel wou hê nie – elkeen afsonderlik op sy eie grondgebied. Geleerdes praat van soewereiniteit in eie kring.
2. Laat die geskiedenis van oud-Griekeland vir die mensdom ‘n waarskuwingsles wees.
Nadat Athene teen die vyfde eeu vC die intellektuele middelpunt van die destydse wêreld geword het, het duisende buitelanders hulle daar gaan vestig.
Die befaamde staatsman van Athene, Perikles (495-429 vC) was besorgd dat hierdie vreemdelinge Athene sou verswelg en instromingsbeheer toegepas. Ten einde die probleem verder hok te slaan, het hy gemengde huwelike tussen Grieke en nie-Grieke deur wetgewing verbied. Oortreders het hul burgerlike vryheid verloor en is as slawe verkoop!
Isokrates (436-338 vC) het hierop voortgebou en geen geheim van sy volksvoorkeur gemaak nie. Hy het die mensdom van sy tyd in drie groepe verdeel. Die Griekse burgers het hy as die meel van die samelewing geag, die genasionaliseerde vreemdelinge as die semels en die uitlanders as die kaf. Hierdie Atheense eksklusiwiteit het Athene destyds van 'n gewisse ondergang gered. Was dit nie daarvoor nie, sou die Atheners deur die vreemde massas verswelg gewees het!
Ongelukkig het die Atheners later onder druk van andersdenkendes van hulle nasionale eksklusiwiteit afgesien en ‘n nuwe beleid begin volg wat ‘n radikale ommeswaai beteken het. Dit was een van elastisiteit of plooibaarheid. Dit het sommer groot byval gevind omdat die Atheners altyd iets nuuts wou probeer. In Hand.17 maak selfs Paulus in sy toespraak op die Areopagus daarvan melding as hy sê: “Nou het al die Atheners en die uitlanders wat by hulle gewoon het, vir niks anders tyd gehad as om iets nuuts te sê of te hoor nie”.
Hierdie plooibaarheidsbeleid het lynreg met die vorige eksklusiwiteitsbeleid gebots. Die aanvaarding daarvan het groot verandering tot gevolg gehad. Vreemde kulture is bv voor die voet verwelkom en volle burgerskap aan hulle verleen. Die Atheners was oortuig dat die vreemdelinge heelhartig by hulle sou inskakel en hulle ideaal van ‘n onverdeelde wêreldryk sou steun. Dit was ‘n fatale vergissing!
3. Kunsmatigheid werk nie!
Die Bybel sowel as die geskiedenis leer ons dat onnatuurlike vennootskappe nie werk nie. Lees gerus Dan.2. Dit handel oor koning Nebukadneser se droom van die beeld van yster en klei wat verkrummel het. Volke en kulture wat kunsmatig aan mekaar opgedring word, ervaar voortdurende spanning. As 'n vennootskap nie met volks - en kultuurverskeidenhede rekening hou nie, word dit 'n etniese tydbom wat net die tyd afwag om te ontplof. ‘n Mens kan mos nie van onderhoriges verwag om ongekwalifiseerd die nodige agting en respek vir hul meerderes te hê nie! Daarom neem onderhoriges so dikwels stelling in die linie van die volksvyand in. Kortom: Jy kan hulle nooit werklik vertrou nie.
Ten spyte van al die aanskouingslesse van die verlede, probeer Holiste nog steeds om die ongelyke mensdom in die drukgang van 'n kunsmatige eenheid in te dwing. Dit werk nie! Die praktyk bewys dit oor en oor. En die Holiste besef dit ook, maar weier om dit te erken. Kyk maar net hoe agressief raak hulle nie as jy hulle op hul vergissing wys! Hulle kyk jou aan soos ‘n bord kos wat nie bestel is nie! Kerke en organisasies wat rasse- en kultuurverskille eerbiedig en ongelykes uitmekaar hou, word as aartssondaars geëtiketeer!
Die geskiedenis het ons baie duidelik geleer dat daar geen hemel-op-aarde bedeling op 'n kunsmatige sameflansing van volke en kulture volg nie! Selfs Alexander die Grote het dit op ‘n stadium besef. Hy kon bv nie anders as deur middel van 'n verfynde vorm van despotisme oor sy ryk heers nie! Die onderskeid tussen onderdaan en heer het bv nooit verdwyn soos wat Alexander en sy menggeeste voorsien het nie. Die wet van die natuur sal nooit verdwyn nie - die sterkes sal altyd oor die swakkes heers.
Alexander die Grote kon nie daarin slaag om sy onderhoriges se drang na ‘n eie vryheid in die kookpot van 'n eenwêreldryk te vernietig nie. Die onderhoriges het baie gou besef dat indien hulle nie gaan walgooi nie, hulle as afsonderlik identifiseerbare volke sou verdwyn. Hulle teenstribbeling het vir Alexander hoofbrekens besorg. Teen sy verwagting het die vreemdelinge se volksbewussyn al hoe sterker geword. Plaas nasionalisme onder druk as jy wil hê dat dit moet floreer!
4. Die groot gevaar
‘n Beleid van rassevermenging is uiters gevaarlik. In Afrika is dit selfs fataal! Wie daarmee eksperimenteer onderteken sy eie doodsvonnis! Indien die Boerevolk op die ou einde sy eiesoortigheid in 'n reënboognasie-opset gaan verloor, sal hy in die Afrika-moeras van ellende versink en omkom. Daarom moet ons ter wille van oorlewing ‘n staatsbestel van rasseskeiding nastreef. Daarsonder sal ons geen volksvryheid ervaar nie!
Die sameflansing van uiteenlopende rasse is kunsmatig en altyd rampspoedig. Rasse moet eerder na mekaar toe groei, sonder benadeling van hul onderskeie kulture. Een ding is seker: Uiteenlopende rasse kan hoogstens naasbestaan, maar nooit saambestaan nie. Naasbestaan is natuurlik en opbouend. Saambestaan is kunsmatig en vernietigend.
Daarbenewens is rassevermenging altyd peperduur. Alexander die Grote het bv groot kostes aangegaan om Grieke in Asië en Asiërs in Griekeland gevestig te kry. Hy wou eers die ou orde laat vervaag, daarna laat verdwyn en dan met ‘n nuwe een vervang. Om dit te laat slaag, het hy rasgemengde huwelike openlik aangemoedig en alles in werking gestel ten einde eenvormigheid te verkry. Hierdie beleid is 'homonia' genoem en was daarop gemik om volksbande met familiebande te vervang.
Rassevermenging was nog nooit koste-effektief nie. Alexander die Grote het sy land miljoene gekos toe hy bv die sentrum van sy ryksekonomie na Asië verskuif het ten einde die vreemdelinge se guns te probeer wen. Dit was ‘n ekonomiese flater, om die minste te sê!
Alexander het sy eie mense te na gekom toe hy as ‘n gebaar van welwillendheid Persiërs in sy nasionale weermag opgeneem het. Daarbenewens het hy vreemdelinge in verantwoordelike staatsposte aangestel waarvoor hulle geensins opgewasse was nie. Die gevolg was administratiewe chaos!
Hierdie onreg het die Atheners opstandig gemaak en die vreemdelinge laat haat, iets wat Alexander die Grote nie voorsien het nie. Daarbenewens was die Atheners gebelg oor die Oosterse kleredrag wat Alexander begin dra het, nie eens te praat van die kultuurvreemde gebruike wat hy begin volg het nie! Dit was darem net te kunsmatig en gevolglik verfoeilik in die volksoog! In plaas van te besin en te red wat daar te redde was, het Alexander hom nie deur sy kritici van stryk laat bring nie en soos die spreekwoordelike klip deur ‘n tregter, hoe dieper hoe slegter, gevaar. ‘n Dwaas besin nooit betyds nie!
Alexander die Grote se poging om wyd uiteenlopende kulture onder een noemer te verenig, het klaaglik misluk omdat hy geen algemeen aanvaarbare beskawingstandaard vir sy nuwe ryksburgers daar kon stel nie. Die gevolg was dat hulle tussen twee stoele deurgeval het en nêrens tuis was nie. Hulle het met hulle verlede gebreek sonder om ‘n toekoms te vind. Gevolglik het hulle geen burgerlike verantwoordelikheidsgevoel gehad nie.
Alexander se nuwe ryksburgers was kultureel en volkekundig so ontwortel, dat hulle nie in sy reënboogtuin kon wortel skiet nie. Daarbenewens het Alexander in ‘n poging om die nuwe burgerskap gevestig te kry, die klem te swaar op burgerlike vryheid i.p.v burgerlike verantwoordelikheid laat val. ‘n Oorbeklemtoning van burgerlike vryheid is gif vir ‘n land en ‘n leier wat vryheid sonder verantwoordelikheid predik, voer sy volk hierdie gif!
Alexander se opname van Asiërs in die gemeenskap, staatsdiens en weermag het talle Atheners aanstoot gegee en genoodsaak om 'n binnekring te vorm. Andersvolkiges is nie in hierdie binnekring toegelaat nie. Dit het daartoe aanleiding gegee dat private klubs soos paddastoele opgeskiet het. Dit was trouens die enigste manier waarop die konserwatiewe Atheners ‘n verswelging deur vreemdelinge die hoof kon bied.
Teen die einde van die tweede eeu vC het Atheense konserwatisme geleidelik begin verkrummel nadat vreemde gode hul verskyning in Athene begin maak en vreemde kulture erkenning verkry het. Burgerskap is weereens voor die voet aan vreemdelinge toegeken en veelvolkige huwelike aangemoedig. Kinders wat uit lg gebore is, het nie meer tradisionele familiename, maar vreemdvolkige name ontvang.
Die intellektueles van destyds het ‘n verfoeilike rol gespeel ten einde hierdie nuwe orde gevestig te kry. Hulle het van Atheense konserwatisme ‘n strooipop gemaak wat afgeskiet moes word. Ene Theophrastus, 'n leerling van Aristoteles, het bv 'n algemene simpatie jeens vreemdelinge bepleit en dit philantropia genoem. Philantropia was die kleefmiddel wat ‘n verdeelde mensdom aanmekaar moes heg.
Tragies genoeg sou hierdie dwaasheid 2000 jaar later herleef en in Brittanje en Europa veral baie veld wen. Filantropisme het die verstand van talle hooggeplaaste Westerlinge so benewel dat hulle, soos ‘n Alexander die Grote van ouds, dwaallig vir sterre aangesien het! Neem maar net vir Jean-Jacques Rosseauw wat met sy filosofie van die edel barbaar die gebrek aan beskawing as 'n deug verkondig het. Dit het die grondslag vir onnoemlike onreg gelê!
Die val van die Griekse Ryk was onafwendbaar. ‘n Onverskillige volk verdien om onder te gaan. Die Grieke het dit wat vir hulle kosbaar en edel moes wees, nie opgepas nie. Dit wat nasionale besit moes wees, het hulle as ‘n gebaar van welwillendheid, allemansbesit gemaak. Op die ou einde het hulle alles verloor.
Hierdie fout is telkens in die latere geskiedenis herhaal. Dis jammer dat mense nie uit die geskiedenis leer nie. Ongelukkig leer die geskiedenis dat mense nie uit die geskiedenis leer nie!
5. Wat sê die Bybel?
In Hand.17 spreek Paulus die dwaasheid van die Atheners aan. In verse 26 en 27 wys hy die integrasiebeheptes van Athene op God se skeppingsordening: "En Hy het uit een bloed al die nasies van die mensdom gemaak om oor die hele aarde te woon, terwyl Hy vooraf bepaalde tye en die grense van hul woonplek vasgestel het, sodat hulle die Here kon soek...." .
Eintlik herhaal Paulus hier maar net ‘n ou waarheid. 1500 jaar voor Paulus skryf Moses in Deutr.32:8: “Toe die Allerhoogste aan die mens ‘n erfdeel gegee het, toe Hy die mensekinders van mekaar geskei het, het Hy die grense van die volke vasgestel…”..
God het geen behae in ‘n kunsmatige samebondeling van nasies nie. Dit bring geen vrede nie, maar eerder konflik en ellende. Daarom het Hy in sy alwysheid voorafbepaalde grense vasgestel ten einde harmonie en vrede onder nasies te verseker. Aparte nasiebou werk nasionalisme in die hand. In Hand.17:27 sê Paulus iets baie, baie belangrik: Daar staan: “…sodat hulle die Here kon soek…” Wat beteken dit? Dat nasionalisme die Here dien! ‘n Samebondeling van nasies dien, of sal ons sê, aanbid slegs die mens. Dis die vloek van internasionalisme!
Nasionalisme eer God; internasionalisme eer die mens. Kyk hoe bevestig die sg reënboognasie aan die suidpunt van Afrika nie hierdie waarheid nie! In die Nuwe Suid-Afrika is God nie aanbid nie, maar Nelson Mandela! Die afgodiese verering wat hierdie gewese terroris ontvang is ‘n absolute skande!
Slot
Sedert die dae van Alexander die Grote, of sal ons hom maar eerder Alexander die Dwase noem, het alle proefnemings met volksvermenging misluk. Daar is geen uitsondering op hierdie reël nie. Volksvermenging was nog altyd ‘n tydbom wat vir die regte oomblik gewag het om te ontplof. Dit het oral ter wêreld bittere gevolge vir mense gehad!
Net so min as wat Alexander daarin kon slaag om volke en rasse suksesvol in een nuwe nasie op te klits, sal iemand anders dit regkry. Dit sal altyd misluk omdat God dit nooit so bedoel het nie. Wanneer gaan mense uiteindelik die groot les van die geskiedenis leer nl dat God nie sal toelaat dat ‘n mens met sy handewerk inmeng nie! Elke mislukking bevestig net weer hierdie waarheid!