BRIEF UIT PERTH

Vriende,

Daar is weer, genadiglik, vir ons tyd om te verootmoedig en te oordink.  Laasjaar het die aangehegte kalender 109 plekke gelys waar die Gelofte herdenk is, en hierdie jaar het dit gegroei na 125. Ons herdenk die Gelofte ook in hier Perth, al is dit nie op die lys nie en al weet ons nie noodwendig van formele herdenkingsreëlings wat mag bestaan nie.

Die spreekwoordelike Gideonsbende van Voortrekkers het die Gelofte angstig herhaal elke aand in die laer met boekevat vir die 7 dae vanaf 9 tot 15 Desember 1838.  Laat ons dan vreugdevol die uitredding onthou van die slag op die 16de Desember 1838.

Vanaf die 9-16de kan mens dalk elke dag se persoonlike stiltetyd op hierdie uitredding fokus en ons verbly daarin dat ons handjievol gelowiges toenemend weer besef dat mense ons nie kan keer om ons Geloftes te betaal volgens die opdrag in Pred 5:3-4 nie. Dit sluit in die Gelofte van Jan van Riebeeck na sy aanlanding in die Kaap, en die Gelofte van Paardekraal voor die eerste Anglo- Boere oorlog.

Met Satan se toenemende aanslae d.m.v. die hande van mense, instansies en media uit alle oorde, veral deur wolwe in skaapsklere wat politiese korrektheid as belangriker as ons vrees vir God wil voorhou en humanisme se halwe waarhede as evangelie, het ons 'n bewys dat daar uitredding by God is wanneer ons Hom suiwer bly volg, al lyk dinge ook hoe donker

Kom ons bring aan God die eer wat hom toekom, want een man, met God by hom, is 'n oormag.
Groete

Jan van Niekerk