Die saak of ons Afrikaners of Boere is sleur steeds voort. Soos ons almal weet duur die geveg nou al vir dekades voort sonder dat ons een treë nader aan die antwoord is. Ons het op die vorige volksvergadering van die Gelofte Koördineringskomitee gehoor hoe 'n persoon beweer dat die Boervolk beide "de juries" en "de facto" bestaansreg het waarop hy kan aanspraak maak. Hy het dan ook aangevoer dat dit nie die geval met die Afrikaner is nie.
In my opinie is dit 'n moedswillige "miskyk" van sekere feite. Die Afrikaner is tog seker ook "de juries" en "de facto". Dat die Afrikaner "de facto" is kan seker nie betwyfel word nie, bloot uit die feit dat daar 'n debat aan die gang is. Maar is hulle "de juries"? Ek sou reken hulle is, dalk selfs meer as die Boer aangesien die Transvaalse Republiek bekend gestaan het as die ZAR, met die "A" in ZAR wat gestaan het vir "Afrikaanse".
Vir die grootste deel van die vorige eeu was volksgenote gemaklik daarmee om as Afrikaners bekend te staan. Verder sou navorsing toon dat die Afrikaner nie skielik uit die lug geval het na die 2e Vryheidsoorlog nie (soos sommige beweer dat dit 'n Engelse foefie is nie), maar dat dit 'n term was wat lede van die volk vryelik gebruik het soos die geval van Hendrik Biebouw ons toon.
Hendrik Biebouw was deur die magistraat van Stellenbosch verban na Batavia toe, hy het daarteen beswaar gemaak, en in Maart 1707 verklaar "Ik ben een Afrikander". Dit is die eerste opgetekende geval van die gebruik van die term"Afrikaner" waaroor ons beskik. "Afrikander" ten spyt het die man nie in sy verweer geslaag nie, en is hy Batavia toe verban. Dalk kan ons 'n les by Hendrik leer naamlik, dat as die owerhede hulle mes in het vir jou, gee hulle nie 'n duiwel om wie of wat jy is nie!
Wie homself die eerstekeer as 'n Boer beskou het weet ons beslis nie verseker nie, maar dit is 'n term wat in die 18de eeu na vore gekom het, en veral in die 19de eeu met die Groot Trek en die Boere Republieke beslag gekry het. Die term Boer het as 'n soort "erenaam" gedien in ons geskiedenis, en telkemale as 'n spreker sy lojaliteit aan sy volk wou betoon het hy na die term gegryp. Bitter min mense, indien enige, wat werklik 'n liefde vir ons volk het voel verontwaardig as daar na hom of haar verwys word as 'n "Boer".
Ek dink wat ons met redelike veiligheid kan sê is, dat die term Boer in ons moderne geskiedenis (en veral rondom die politiek van die 80's en 90's van die vorige eeu) al hoe meer met die konserwatiewe deel van ons volk geassosieer was. Hierdie stelling is dalk vandag ook nog waar. Met die slinkse politieke spel van die vorige NP regime het hulle dit reggekry om in enkele jare 'n byna onoorkombare kloof te skep tussen die konserwatiewes van die volk, en die "verligtes". Met die "verdeel en heers"-tegnieke wat in die voor '94-era baie suksesvol op ons volk toegepas is, het "the powers that be" dit reggekry om die konserwatiewes gebrandmerk te kry as agterlike, onnosele, vekrampte 'rassiste'. Aangesien hierdie deel vasgeklou het aan konserwatiewe waardes (en gevolglik dus ook aan die geskiedenis, soos bv die Boere Republieke), was dit eintlik vanselfsprekend dat daar na hulle in die volksmond as Boere verwys sou word. Die AWB (Die "A" ten spyt in sy naam), en andere soos Robert van Tonder, het die idee verder gevestig dat die konserwatiewes "Boere" is.
Daarenteen weet ek nie van een geval waar die sg. verligtes na hulself as Boere verwys het nie, maar wel as Afrikaners. Dus teen die einde van die vorige eeu was die tafel behoorlik gedek om twee duidelike groepe te identifisieer. Die netto-gevolg hiervan was verdeeldheid op voetsoolvlak in die volk. Die strategie het uiteindelik sy vrugte gelewer in die anneksasie van ons land in 1994. Die verdeeldheid wat op voetsoolvlak geheers het teen 1994, het dit haas onmoontlik gemaak vir ons as volk om enige noemenswaardige weerstand te bied, en die slag is gelewer. Die leuen is gevestig dat Boere eintlik verkrampte rassistiese idiote is, en dat Afrikaners eintlik Boereverraaiers is, soos wat 1994 se verraad dit tog so duidelik gemaak het. Terwyl die waarheid eintlik elders te vinde is.
Die besluit wat die GKK moet neem is vir watter een van die twee groepe wil hy tot dienaar wees, indien enige. Ek dink die antwoord vind ons in die kort geskiedenis van die Volksvergadering self. Vanaf ons eerste uitnodiging het ons tot die "Geloftevolk" gespreek. Hierdie strategiese besluit het beslis vrugte afgewerp, en ons kon volksgenote oor die hele spektrum heen bymekaar bring op gelyke voet. Die term "Geloftevolk" is baie meer as 'n sg. kompromis, dit sê presies watter deel van ons volk ons aanspreek. Verder sê dit slegs in een woord wat ons as volk se verhouding tot ons Almagtige is.
My betoog lê daarin dat die lede wat vir die vergadering (asook Nampo s'n) opgedaag het gereageer het op die term "Geloftevolk". Siende dat ons volk tans 'n identiteitskrisis beleef was dit vir my duidelik dat daardie krisis nie deurgetrek was na die term "Geloftevolk" nie, en almal wat gereageer het op daardie uitnodiging het by implikasie gesê dat hulle die term aanvaar. En daarin lê ons "gemeenskaplike grond" wat ons nou al so lank soek om te vind. In daardie verband kan die GKK homself aanbied as huweliksberader vir die volk. Dit sal dwaas wees om SELF die argitek te wees van die vernietiging van daardie gemeenskaplike grond.
Ons as die GKK het die punt bereik waar ons daardie debat nou kan afsluit en as die "Geloftevolk" voort kan gaan op pad na ons vryheid. As die volk weer vry is kan ons 'n referendum uitroep waar die volk self kan sê as wie of wat hulle bekend wil staan. Ek is doodseker dat toe ons voorvaders die pad gevat het uit Europa uit as gevolg van allerhande vervolgings( waarvan geloof die hoof een was), het hulle nie op die skip hiernatoe baklei oor watter naam hulle by bekend gaan staan as nie. Nee! hulle hele ingesteldheid en energie was gerig op die daad om vry te wees, en nie op debatte wat hulle absoluut niks in die sak sou bring nie, en eerder verdeeldheid. Dink net watter verdeeldheid sou daar geheers het as elkeen by die naam van die volk wat hom verwerp het wou bekend gestaan het as!. U kan sê dat dit belangrik is omdat dit bepaal wie en wat ons is...Die feit is dat dit 'n verdelingspunt in die volk is terwyl die term "Geloftevolk" nie daardie bagasie ronddra nie. Bowenal sê die naam "Geloftevolk" ook presies wie en wat ons is, eintlik selfs sterker as enige van die twee ander begrippe. En of ek dan vorentoe as 'n "Gelofter" bekend gaan staan, of nie, skeel my min in die stadium van die verdrukking wat ek tans in verkeer. Want of ek môre in 'n stoere Boer of Afrikaner of Gelofter sou verander sou geen duit verskil maak aan die feit dat ek uitgelewer is aan 'n volksvreemde, godsvreemde en rasvreemde regering nie!
Die argument kan gevoer word dat ons deur die wêreld as Boere of as Afrikaners geken word, en daarom behoort ons een van die twee termes te gebruik. My antwoord is: ten spyte van die feit dat ons in die vorige bedeling met beide name deur die wêreld geken was, het daardie einste wêreld ons in hierdie verknegte posisie ingedruk. Hoekom sal ons volk se naam enigsins nou 'n verskil aan hulle houding jeens ons maak? Die volksvergadering het REEDS besluit dat ons nie ons vryheid by die wêreld gaan soek nie, maar by HOM wat die lotgevalle van volkere en nasies in sy Hande hou. Met laasgenoemde in gedagte is die term Geloftevolk seer sekerlik die akkuraatse term wat ons kan gebruik. Ek hoop my betoog word gelees met 'n oop gemoed.