WEES STERK EN VOL MOED

Dr JP Botha

Elke Afrikaner in ons land wat nog nie vermoor is nie en nie ‘n ander heenkome oorsee gevind het nie, het in die nuwe jaar van 2011 wat pas aangebreek het, baie nodig om toegerus te wees met nuwe krag en moed om  nie net alleen staande te bly in ons stryd teen die verdrukking wat ons tans beleef nie, maar om in die krag van die Here ons vyand weer te oorwin en ons dierbaar Suid-Afrika weer vry te maak.

In Josua 1 vers 9 het die Here vir sy geroepe dienskneg gesê:  “Wees sterk en vol moed.  Wees nie bevrees of verskrik nie, want die Here is met jou, oral waar jy heengaan.”  Die dapper Josua het dit geglo  en met bomenslike krag, met die hulp van die Here, Israel se vyande verslaan en die beloofde land weer in besit geneem.

Daar was ook later in die geskiedenis van Israel die onverskrokke Gideon wat met net 300 man en die hulp van die Here die duisende Midianiete verslaan het.  So was daar ook in die geskiedenis van die klein dapper Afrikanervolkie, manne soos Christiaan Rudolf de Wet en Jacobus Herculas de la Rey, wat ook  met die hulp van die Here die demoniese Britse magte drie jaar lank weerstaan en teruggeslaan het.

Nou het daar weer ‘n tydperk in ons geskiedenis aangebreek, waar die Here weer self vir ons ‘n leier moet aanwys om ons te verlos van die demoniese vyand wat ons tans onderdruk.  Sal ons volksgenote nie ernstig saam op die knieë gaan en bid dat God vir ons weer so ‘n man sal voorsien nie?  So ‘n leier vir wie die Here sê:  “Wees sterk en vol moed, wees nie bevrees of verskrik nie, want Ek is met jou, oral waar jy gaan!” sal met die hulp van Bo in staat wees om ons te verlos en te bevry  van hierdie helse magte wat ons regeer en teen ons oorlog voer.

Maar my geliefde mede-Afrikaner, as u self weggedwaal het van God en sy gebod en Hom nie meer dien nie, keer dan terug en verootmoedig u voor Hom, sodat ons eendragtig saam kan bid om verlossing uit ons verdrukking.  Onthou, die Here is almagtig.  Net Hy kan ons red en verlos uit ons nood.