HULDE AAN EUGÈNE TERRE'BLANCHE

Eugene Ney Terre’Blanche 

31 JAN 1944 3 APRIL 2010

Piet Rudolph

Twee jaar is al haas verby sedert die tragiese dood van hierdie Boerepatriot. So onver­wags en so hartverskeurend. Inderdaad het sy son ondergegaan terwyl dit dag was. Daar is soveel wat hy vir die Boerevolk en die witman in hierdie land kon en wou doen maar dit was hom nie beskore nie. Sy dood kon ook nie op ‘n meer ongepaste tyd vir die Boere­vryheid­stryd gekom het nie. In ons gemoed en ons harte warrel die vrae steeds rond: Waarom op hierdie tydstip?

BEPLANDE MOORD

In my gemoed is daar egter geen twyfel nie. Sy moord was fyn beplan en bereken om ‘n massiewe  ontwrigting in ons vryheidstryd te veroorsaak, veral op die tydstip wat enigeen wat politiek kan lees en skryf, kan sien dat in Suid-Afrika daar ‘n ken­te­ring besig is om onder die witman, vorm aan te neem.

Hierin staan die Boer sen­traal met sy vryheidsdrang. Ons is egter ook op gevaarlike grond en enige mis­stap­pe om uit die slawerny los te kom, kan fataal wees. Die AWB se stryd was nie die van ‘n politieke party nie. Dit was meer as dit. Wanneer omstandighede dit geverg het, was dit die AWB wat in die brandpunt gaan staan het en die hoon en die smaad verduur het. Selfs van politici wat van beter behoort te geweet het. Hy het die skares getrek en hulle het daarvan gehou om dan saam met hom op die verhoog te wees!

 Die stryd vir Vryheid sal nie sonder bloedvergieting wees nie. Hierin kon Eugene Terre’Blanche ‘n belangrike rol gespeel het. Daarom moes hy uitgeskakel word en van die toneel verwyder word. Die ou tegniek van ons vyande is dat jy eerstens ge­ignoreer word; tweedens, as dit nie slaag nie, jou verdag te maak en dit waarvoor jy staan as vals voor te stel. Derdens om jou as mal voor te stel en in ‘n gestig of selfs in die tronk te kry. Slaag dit nie, dan word jy doodgemaak. Met hom het ons vyande en hulle meelopers die volle sirkel voltooi, omdat hy die vermoë gehad het om mense bymekaar te maak.

Die pad vorentoe

Die stryd van die AWB is nog nie afgeloop nie. Hier kom ‘n bloedige oorlog teen die Witman maar veral die Boerevolk. Ons vyande wou ons nog altyd uitwis. Van Slag­tersnek verby Alfred Milner tot vandag by die kommunistiese ANC en sy meelopers. Eugene Terre’Blanche se bedoeling was dat sy beweging die wagter op Sionsmure sal wees. Of dit so sal wees moet nog gesien word. As die Boere-vryheidstryd as on­sterflike ideaal laat vaar word of afgewater word, sal alles kwyn en uiteindelik sterf. Behalwe die Magte van Bo is hier niks anders wat ons staande sal hou nie, behalwe daardie onsterflike ideaal en besieling van Boerenasionalisme waarvan Eugene Ney Terre’Blanche, die vurige draer was.