CJ LANGENHOVEN
Lees reeks by Honderd Prekies - Langenhoven
Om dood te gaan is geen kuns nie: die slegste kry dit reg. Om te lewe is 'n kuns: die beste kry dit nie goed reg nie.
My liewe mens, moenie vrees vir jou dood nie: vrees vir jou lewe. By jou dood sal jy verbykom: hy sal nie te swaar wees nie want as hy te swaar sou wees sou hy onmoontlik wees; en as hy onmoontlik sou wees sou jy onsterflik wees. Wees gerus oor daardie laaste plig wat van jou gevorder sal word op die aarde: jy sal nie kortkom nie – daardie laaste skuld sal jy betaal tot op die uiterste greintjie van die uiterste penning. Maar die skuld hier in jou lewenstyd, die skuld van gister en vandag en môre – hoe betaal jy dié? Is dit nie van die een dag tot die ander 'n bankrotte vyf-oortjies-in-die-pond kompromisbesigheid met jou gewete en jou God nie?
Ons huldig die roemryke dade van ons helde, en dit is reg want hulle glorie is ons eer:
hulle was inwoners van ons huis, medetoggangers met ons op die groot transportpad na die ewigheid, totdat hulle uit eie vrye keuse hulle reis verkort het en van die sonbestraalde wa afgespring het in die duisternis van die namaals in om 'n ewemens te red, om hulle land en volk te dien, om te getuig met martelbewys dat hulle Godsbelydenis opreg was. Laat ons hulle eer, my maat: hulle was maar mense soos jy en ek; en wie weet of ek en jy, as dieselfde beroep op óns gedoen word – wie weet of ons die proef sou deurstaan!
Maar by ons hulde aan die doodshelde, laat ons onthou dat daar lewenshelde is. Die skaal wat anders meet as myne en joue, kan die gewig van die laaste wellig op 'n hoër syfer bring as dié van die eerste. Die vrou wat haar kankerlydende man, van wie se afskuwelik verwoeste trekke ons met walging afkeer: wat hom getrou en onvermoeid verpleeg deur lange dae en nagte totdat sy verlossing, en hare, kom; die stille nederige man, wie se karakter 'n voorbeeld is vir ál wat met hom hom in aanraking kom, wat sy plig doen teen geringe loon en geringer erkentenis, wat 'n kleurlose lewensweg vervolg met geen hoop op verbetering duskant die graf nie, maar dag vir dag buk onder sy las van diens en getrou bly en toegewyd onder die slytende, terende, vretende vermoeienis van kleine prikkels; die arbeider, op die akker van sy medemens of in die wingerd van sy Heer, wat geen vrug sien nie maar ontmoeding en hopelose mislukking, maar wat volhard tot op die uiteinde; sien daar die helde, wie se heldedae klein maar baie is, wat nie aangestoom word deur die bloedkokende vuur van 'n oomblik, of aangespoor deur die gejuig van bewonderaars nie: dáár is ons helde, ons lewenshelde; dáár is ons heroïsme: die onromantiese, eentonige stille, ongesonge, ongeprese, onerkende heroïsme! Want die lewe is swaarder as die dood.