CJ LANGENHOVEN
Lees reeks by Honderd Prekies - Langenhoven
Die man wat die meeste besorg is dat ál sy bure se byle moet blink, is dié wat slypstene het om te verkoop.
Laat ons nou eerlik wees, ook met onsself. Hier kom, om die twee of drie maande gereeld, 'n handelsreisiger wat 'n firma van snyers in Kaapstad verteenwoordig. Ek bestel reeds jare lank my pakke by hom want hy behandel my eerlik. En elke slag wanneer sy besoek op hande is stuur hy my 'n poskaartjie om die datum van sy besoek aan te kondig. Dis 'n fout wat hy maak. Hy behoort, nes 'n brandsiekte-inspekteur, onverwags op my lyf af te kom. Want nou is ek versigtig die dag. Ek haal my Sondagpak te voorskyn, en ek laat vroutjie dit sorgvuldig afborsel en die slytplekke aan die broektuite en die baadjiemoue stop. Maar ek vrees om die man in die oë te kyk. Hy groet my vriendelik; hy gesels oor die warm weer en die stowwerige pad – maar by dit alles merk ek 'n stilswyende maar luid-skreeuende afkeur van die klere wat ek aanhet. Dis die ongunstige kritiek van 'n deskundige wat my so onwaardig laat voel dat ek in die stof wil sink.
So gaan hy die wêreld deur. Al die mansmense is vir hom net kleredraers. Hulle ander funksies is betreklik van min betekenis.Ek is lui om myself te skeer. Ek laat dit van 'n barbier doen; en dan selfs haat ek sy skarnierstoel asof dit 'n pynbank was. Hy vreet in my kosbare tyd in, hy gesels vervelige stories wat ek nie na wil luister nie, hy klou met hande in my gesig wat hy, ek weet nie watter soort plaaglyers net so mee beet gehad het nie. As ek 'n dag wil oorslaan moet ek 'n ander straat omloop. Hy staan daar in sy deur met 'n oog van eindelose verwyt my en aanstaar by my verbyloop. Vir hom is ál die mans baarddraers. Verder beteken hulle niks. En vir die lyksbesorgers is ál die mense sterflik. "Wanneer sal ek jóú mate neem?" dink hy.
En ek? Jóu belang vir my, leser, is dat jy 'n leser is. Ek wil al die mense lesers maak – veral lesers van my geskrifte. Daar is jou waarde vir my – dat jy 'n leser is. Verder beteken jy vir my niks.
So is dit met ons almal. Ons draai op één spilletjie in die rondte nes 'n windhaan, en ons kyk noord en suid en oos en wes na 'n wêreld wat vir ons ten diens moet staan. En 'n goeie ding is dit: want daardeur word die wêreld se werk gedoen deurdat jy arbeiders het wat só 'n dryfveer besit om die beste werk te doen: die dryfveer wat die sterkste op aarde is – selfsug en eiebelang.