CJ LANGENHOVEN
Lees reeks by Honderd Prekies - Langenhoven
Deur lange oefening kom 'n mens so ver om onwetend kwaad te doen of onwetend goed te doen.
Ons leer 'n moeilike vreemde taal soos Duits of Latyn, en by die eerste sinne wat ons begin opstel, moet ons pynlik by elke woord nagaan watter vorm hy behoort aan te neem uit die groot aantal waaruit ons te kies het. Is die woord manlik, vroulik of onsydig? Watter naamval word beheers deur die werkwoord? En met al ons moeite maak ons foute, en as ons onderwyser ons daarop wys, sê ons "hoe is dit moontlik?" Maar ons leer en ons leer en ons word so vertroud met die taal dat ons naderhand ingewikkelde sinne skryf of praat, net soos 'n gebore Romein of Duitser, en net soos ek my moedertaal hier skryf, sonder om ooit aan die grammatika te dink. Sonder dat ons van enige poging of inspanning bewus is kom die regte vorm van elke woord dadelik voor. En dan is dit, wanneer ons die minste moeite doen, dat ons die taal die beste skryf. Met ál die harde arbeid van die vroeër dae, het ons hom sleg geskryf. So werk 'n leerling-ambagsman baie harder as sy baas maar met al sy sukkel doen hy nie sulke goeie werk nie.
Gelukkig is dit vir ons as ons in 'n ouerhuis opgroei waar die eerste beginsels van die deug vir ons geleer word in ons jong dae: gehoorsaamheid, beleefdheid, waarheidsliefde, oppassendheid, reinheid. Ons leer díe dan – behalwe dat die ding swaarder is om aan te kweek as wat 'n taal is om aan te leer – maar ons leer die beginsels soos 'n kind sy moedertaal leer. Ons leer om dankie te sê, om ons hoed af te haal, om die waarheid te praat, om ons liggaam skoon te hou, sonder om daaraan te dink.
Maar as ons groot word kom daar ander soorte versoekings wat deur nuwe beginsels van deug moet bestry word. Daar kom hartstogte, begeerlikheid, luiheid vir die swaar werk van 'n volwassene; en ons moet die nuwe deug van nuuts af leer soos die nuwe taal wat nie ons moedertaal is nie. Alleen deur aanhoudende bedwang van onsself vind ons dit naderhand net so maklik om die sware deug van ons volwasse verantwoordelikheid te beoefen as die eenvoudige deug wat toepaslik was op die omstandighede van ons kindsheid. En wanneer ons, ná lange jare van selftug, dit sover gebring het om deugdelik te wees sonder inspanning sodat ons linkerhand onbewus is van die goed wat ons regterhand doen, dan eers is daar die ware deug by ons – die maklike deug wat vanself vloei uit 'n herskape hart.
En so, omgekeerd, is dit met kwaaddoen. Die aanhoudende vloeker weet naderhand nie dat hy vloek nie. Net maar, die geleerdheid hier is makliker as die eerste. Dit is tale leer sonder bekommernis van die grammatika.
Kwaaddoen immers is verbreking van reëls.