DIE PRYS VAN ONS STILTE

CJ LANGENHOVEN

Lees reeks by Honderd Prekies - Langenhoven

Hoe meer die man se stilte vir jou werd is wat van jou kwaad weet, hoe minder moet jy hom daarvoor betaal. Jy sal dieselfde artikel môre en oormôre weer moet koop.

Van al die lae skurke in die wêreld is die 'afperser' die man wat van jou geld afpers onder dreigement dat hy andersins jou skande of misdaad sal openbaar maak, die gemeenste. Hy is 'n rower, want hy neem wat hom nie toekom nie; hy is 'n lafaard want hy steel sodat hy nie kan gestraf word nie; hy is 'n verraaier want hy laat hom omkoop van sy plig; en hy is 'n dubbele bedrieër want hy hou wat hy afgestaan het om dit weer met wins van die hand te sit.

Maar hy is nie die enigste van die soort nie. Die arme reisiger breek sy disselboom en ek is die naaste buurman wat hom kan help. Ek laat hom dubbeld betaal omdat hy nie in die geleentheid is om in die ope mark geholpe te raak nie. Is ek nie 'n geldafperser met die voordeel wat ek trek uit sy ongeluk nie?

En teenoor ons omgewing, is ons nie almal gedurig besig om ons stilte te verkoop vir waarde nie? Ek glimlag met die man met wie ek wil besigheid doen hoewel ek niks van hom hou nie en hom persoonlik liewer nie voor my oë wil sien nie. Verkoop ek nie daardie valse glimlag vir winste nie? Verkoop ek nie vir die handelsprofyt wat ek verwag, my reg om my opinie uit te spreek nie?

Of ek is 'n politieke leier. Op álle vraagstukke kan ek onmoontlik nie dieselfde opinie huldig as ál my volgelinge nie: dan sou ek op sommige moet teenstrydige opinies hou. Daarom, om nie te lieg nie, swyg ek. Verkoop ek nie my stilswye vir my posisie nie?

Maar ons is nie lede van 'n ideale maatskappy nie, en ideale opregtheid is hier in die onvolmaakte tranedal onbereikbaar. En dat ons wedersyds onopreg is kan ons nie oor kla nie want ons dwing mekaar wedersyds daartoe. As ons eerlike leiers sou soek, en die waarborg van alle eerlikheid daarin vind dat hulle die moed het om van ons te verskil, dan sou ons nie deur ja-broers geregeer word nie, In die dae toe 'n man verbrand is as 'n straf vir sy eerlikheid, moes die meerderheid tevrede wees dat daar soveel oneerlike mense was wat gelieg het om die vuur vry te spring. Hulle het dan die eerlikes uitgesoek en tot niet gemaak.

In die politiek, in die handel, in die godsdiens, loof ons pryse uit vir saamstemmers en strenge strawwe vir afwykers. Ons maak fariseërs en dan kla ons dat daar so baie fariseërs onder ons is! Dis 'n mooi wêreld hierdie, maat!