HOE SAL ONS ORDE IN DIE VOLK HANDHAAF!

AAN STILLE WATERS

Lees reeks by Aan Stille Waters - Langenhoven

"UITVERKOPING!!!
38 SAMBREELS
All to be Sacrificed –
No Reasonable Offer Refused!"

Langenhoven het bespiegel of Die Burger bogemelde advertensie sou deurlaat nadat hy hom verwonder het oor hoe maklik 'n groot sambreel kan wegraak, net soos spelde: Jy gebruik hulle nie op nie en jy hou aan met koop – beland hulle nie dalk êrens nie...

Ek wonder wat van al die, sê maar verlore, sambreels word. Hulle is groter as spelde en minder verdwynbaar. Ekself, en elke ander mens waar ek nog ooit mee gepraat het oor die saak, het nog nooit 'n sambreel opgetel nie nog minder per ongeluk geneem en allerminste gesteel. Maar in die reëntyd moet ek ál om die ander dag 'n nuwe koop – teen 36 duisend persent wins vir die winkelier. Wat word van die sambreels wat almal van ons gedurig aanhou om te koop en te verloor?

Maar verlede week het ek darem 'n slag geslaan. Ek kom die oggend met my sambreel by die parlementshuis en ek hang hom in die ou-mense se jaskamer (cloakroom) in die Senaat op, aan die kapstok met my naam daarby. Ek wis dit sou die aand stortreën – ek is die enigste vertroubare weerprofeet in die wêreld.

Die aand wás dit ook so: toe ons moes huistoe gaan plas dit emmersvol. En een ou kollega – ek weet nie wie nie, sodat ek ál 39 (ek is die 40e) moes verdink – reken dat ek eerder kon natreën as hy, en hy is met my sambreel vort. Die volgende dag het ek, by wyse van 'n onbestrede mosie, die volgende aankondiging by die Senaatsitting voorgelees:

"Geagte meneer President en kollegas! Is julle nie oud genoeg om indagtig te word aan julle naderende einde nie? Julle sal nie die gesteelde sambreel kan saamneem nie, netsomin as die orige skatte wat julle, soos ek hoop en vertrou, op 'n eerlike manier bymekaar geraap en geskraap het. Miskien is dit die president, miskien is dit 'n ander – hoe moet ek weet? Ek weet maar net dat ek die enigste een van die veertig senatore is wat nie onder suspisie kan val nie.

"Maar wie dit ook is, as die onbehoorlik verrykte uit my armoede my sambreel terugbring en netso stilletjies soos hy dit geneem het terughang aan die kapstok waar my naam op is, sal ek geen speurhond inroep nie en geen wrok dra nie en geen vrae vra nie, al is of was, of wis ek ook dat die skuldige lid 'n Sap is..."

"Order," val die President my in die rede, "order, order!"

"Ja, regso meneer," sê ek, "laat ons wet en order handhaaf. As ons, regeerders van die land, dit nie hier kan regkry nie hoe sal ons dit onder die volk regkry? "

My ou-mense is nie sonder gewete nie maar sonder geheue. Geeneen van hulle kon onthou waar hy sy laaste sambreel gekry het nie – dis te gewoon om êrens een te kry. Toe verbeel elkeen hom hy is maar die skuldige. Die volgende dag hang daar 39 sambreels aan my kapstok.

Wat moes ek doen? Ek kon nie die oorbodige 38 teruggee nie – ek wis nie aan wie nie. Ek kon ook nie lootjies trek nie; daar word nou so te kere gegaan teen die loterye (en heeltemal tereg ook). En wie weet was daardie 38 stellig maar my eie verlore sambreels van die vorige maande van die sessie. 'n Mens ken mos nie een sambreel uit die ander nie, daarom vat jy altyd wat nie joue is nie.

Ek wou die klomp sambreels hou – ek sou deur die winter daarmee uitkom as dit nie te veel reën nie. Maar Vroutjie sê sy het nie eens vir haar eie klere plek nie.

Dus adverteer ek nou. Kom vriende; julle kan die sambreels goedkoop kry. Anders sou julle dit tog maar verniet vat van die kapstokke af.

Maar het ons nie 'n bowemenselik eerlike Senaat nie! Daar is nie nog 39 mense – wat, 39? – daar is nie nog één in die wye wêreld wat 'n sambreel of 'n vulpen of 'n sakmes sal teruggee nie.

(Tussen my en die lesers gesê en gebly: ek sal nie onderneem om te sweer dat daardie eerste sambreel wat met die reënaand weggeraak het regtig myne was nie. In die huis waar ek in die Kaap tuis is, is daar gedurige verwisseling van mense en sambreels...)