BOEKRAK VIR AFRIKANERTJIES
Lees nog storietjies by Boekrak vir Afrikanertjies
Die buffeljag het nie deur mense plaasgevind nie, maar deur Jakkals en oom Leeu. Jakkals was altyd oom Leeu se lyfwag as hulle gaan jag.
Eendag sê oom Leeu: “Kom Jakkals, die tante wil biltong maak. Ons moet vir haar ‘n buffel gaan skiet.”
“O, ja, oom,”sê Jakkals, “wag net tot ek gou my pyl en boog gaan haal. Oom kwes miskien ‘n buffel, en oom weet, dan is hy eers gevaarlik; dan storm hy ons en dan moet ek mos daar wees om hom die doodskoot te gee.”
“Nou ja, maak dan gou, jou klein bog.”
Een, twee, drie is Jakkals weer by en daar loop hulle. Jakkals hol die hele wêreld vol. Hier skiet hy na ‘n mossie en daar na ‘n meerkat.
“Hou nou op om so rond te hol, Jakkals,” sê oom Leeu. “Ek sien hier baie buffelspore. Gaan loer oor daardie rantjie of jy iets gewaar.”
Jakkals kruip op sy maag en toe hy bo kom, wink hy opgewonde vir oom Leeu en wys met sy vinger waar die buffels ‘n paar honderd tree agter die rantjie staan. Oom Leeu kruip nader en lê versigtig aan met sy ou sanna, terwyl Jakkals net so ernstig korrelvat met sy pyl en boog. Toe die skoot klap, spring hy op en sien hoe die groot buffelbul teen die grond neerslaan. Soos die wind is hy by hom, vat korrel en skiet ‘n pyltjie in die buffel se linkeroog. Toe oom Leeu daar kom, spring Jakkals opgewonde rond en skree: “Dis mý skoot, oom Leeu! Ek het die korrel op sy oog. Dis mý buffel!”
“Ag loop, jou klein vabond, sê oom Leeu, “die buffel het dan met sy regteroog na ons kant gestaan.”
Oom Leeu soek in sy sak na sy jagmes om die buffel af te slag.
“Ag Jakkals, ek het my mes by die huis laat lê. Maak gou en gaan vra vir die tante my mes. Toe nou. Die son sit al laag. Ek sal so lank hier bly en die aasvoëls weghou.”
Jakkals draf teësinnig die lang pad terug. “Jou ou vabond,” dink hy, “jy wil my mos hiet en gebied net of ek jou slaaf is, né? Maar vanaand gaan ek jou nog ‘n streep trek!”
Hy gaan by ‘n bos verby en skrik toe die wind ‘n wit ding by hom verbywaai, maar dit was net ‘n blad uit ‘n kladboek wat een van die skoolkinders daar laat val het. Hy tel dit op om te bekyk en toe hy die gekrap daarop sien, kry hy ‘n plan. Hy wil hom doodlag, toe hy die papier in sy bladsakkie steek. Hy hol eers gou huis toe en neem ‘n groot sak saam en sit af na tant Leeu se huis.
“Naand tante,” sê hy. “Nee tante, ons het nog niks gekry nie en dis so ver van die huis af, oom Leeu sê hy sal maar vanaand daar slaap. Ek moet net kom kos haal; hier is sy brief.”
Jakkals weet goed dat tant Leeu nie kan lees nie. Hy maak of hy die brief wil oorhandig, maar sy sê: “Ag Jakkals, lees ‘n bietjie wat daar staan; ek het my bril verloor.”
Jakkals vou die brief plegtig oop en begin kastig te lees: Hom-tom-tê, oom Leeu het gesê: Tien span van daardie wors wil hy hê.
“Wat! So baie? Daar bly byna niks oor nie”, sê tant Leeu toe sy teësinnig die stuk wors vir hom gee. Onderwyl hy dit in sy sak stop, kyk hy rond en sê: “Dis nie al nie tante. Hier staan nog meer in die brief.” Hy lees plegtig verder: Hom-tom-tê, oom Leeu het gesê, daardie speenvark wil hy hê.
“Wat!”sê die tante. “Jy het dan al die wors, waarvoor wil jy dan my lekker speenvark hê?” “Nee ek weet nie, tante. Hy is seker baie honger, en tante weet as hy honger is, kan hy byna iets oorkom, so boos word hy.” Sy gee hom die speenvark en Jakkals stop dit in sy sak
“Ek dink dis al, tante, “sê hy. Skielik val sy oog op nog iets in die huis en haastig sê hy: “O nee tante, hier agter op die brief staan nog iets. Hy lees: Hom-tom-tê, oom Leeu het gesê, daardie skottel pork-chops wil hy hê.
“Maar jok jy nie, Jakkals?” vra tant Leeu. “Jy dra al my kos weg. Waar staan dit?”
“Kyk hier, tante,” sê Jakkals en wys na die gekrap agter op die papier. “Kyk daar! P-o-r-k C-h-o-p-s. Dis seker daardie varkkarmenaadjies. Tante weet, toe oom Leeu klein was, was daar net Engelse skole.”
“Nouja, vat dit en loop en sê hy moet vir my ‘n buffel, ‘n koedoe en ‘n rooibok bring, want my huis is leeg!”
“Ja tante. Goed tante. Naand tante,” sê Jakkals en maak dat hy wegkom met sy sak vleis, reguit na sy gat. Toe hy daar kom, skreeu hy vir sy vrou en kinders: “Kom, kom, hier’s baie kos! Wat wil julle hê, wors, speenvark of tjops?
Dit was nie lank nie, toe sit almal lekker warm in Jakkals se gat en uit die bek daarvan trek die heerlike geur van vleis wat braai.
Intussen sit arme oom Leeu in die koue by die dooie buffel, maar al wat kom is Jakkals. Hy stap naderhand na die rantjie en skree alte boos: “Jakka-a-a-a-ls !”
“Laat hom skree,” sê Jakkals, “hy noem my mos ‘n klein bog.”
Naderhand is oom Leeu so woedend dat hy nie langer kan stilsit nie. Met sy skerp tande en kloue skeur hy die twee boude van die buffel af, gooi hulle oor sy skouer en stap huis toe in die donker. Hy smyt die twee boude neer en vra vir sy vrou: “Waar is daardie klein swêrkater van ‘n Jakkals? Dis al ure gelede dat ek hom gestuur het om my mes te kom haal om die buffel mee af te slag.” Tant Leeu skrik haar boeglam.
“Mes?”sê sy. “Mes? Hy het dan hier gekom met ‘n brief van jou dat jy eers môre sal terugkom en dat jy wors, speenvark en chops wil hê. Ek is dan reeds so omgekrap daaroor. Kyk hoe leeg is my huis. Hy het alles hier weggedra.”
Oom Leeu kon byna nie woorde kry nie. “So ‘n klein derduiwel! Wag net tot ek hom in die hande kry, dan sal ek van hom wors en chops maak!” Hy stap buite toe, laat sak sy kop en stoot so ‘n geweldige brul uit dat die aarde dreun. Toe bewe Jakkals se broekspype daar onder in die gat, maar die volgende oomblik kruip hy en sy vrou en kindertjies uit en lê lieflik in die sonnetje en braai, trommeldik van al die vleis. Hy was slim genoeg om sy gat in die middel van ‘n groot stuk kaal grond te maak, sodat niemand hom kon bekruip nie.
Maar oom Leeu het vroeg-vroeg tot so naby aan die gat gekruip as wat kon kom, sonder dat Jakkals hom sien. Toe gee hy net één brul en hier kom hy! Jakkals gee net een skree, gryp sy vrou en kinders by die ore, stop hulle in die gat en kruip self in, maar oom Leeu kry hom aan die stert beet.
“Nou het ek jou, jou klein duiwel! Nou sal ek jou wys!”
Jakkals skop met alle mag teen die kante van die gat vas en skree: “Dis glad nie my stert nie, oom Leeu! Hier sit ek onder in die gat. Dis ‘n taaiboswortel wat jy beet het.”
“O nee,” sê oom Leeu . Dit ís jou stert. Ek kan sien daar’s hare aan.”
Arme Jakkals! Dit voel vir hom of sy stert gaan afbreek. Hy kry so seer dat hy amper nie kan praat nie. “Nee, nee oom Leeu, dis sommer haarworteltjies van die taaibos. As jy dit nie wil glo nie, loop haal ‘n klip en stamp daarop. Dan sal jy sien daar kom rooi sop uit. Ek sit al lankal onder in die gat.”
Oom Leeu is so waar dom genoeg om dit te glo. Hy los die stert en gaan haal ‘n klip. Woerts is Jakkals onder in die gat en toe sit hy oom Leeu lekker en uitlag.
Oom Leeu het later verskeie kere probeer om hom in die hande te kry, maar Jakkals was elke keer te slim vir hom. Voëltjie fluit, die storie is uit!