GROOTOOG, DIE DOODVOËL

Dr JP Botha

(Uit skrywer se boek oor diereverhale: Langs die Toelanie)

BOEKRAK VIR AFRIKANERTJIES

Lees nog stories by Boekrak vir Afrikanertjies

Dof sigbaar in die skemer, aan die kant van 'n groot opening tussen die bosse, sit 'n gespikkelde arenduil roerloos op 'n droë doringstomp en wag.  'n Goeie kwartier sit sy al so en tuur na die strooise hier voor haar op die kaalte.  Daar om die strooise baljaar nog 'n paar klein klonkies luidrugtig rond.  Grootoog, die arenduil, slaan hulle belangstellend gade, haar wydgerekte pieringoë vreemd-starend deur die skemer heen.

'n Klein entjie duskant toe silhoeëtteer 'n droë doringboom se takke teen die lug.  'n Klompie hoenders het flus, toe dit vir 'n aanval nog veels te lig was, uit alle rigtings soontoe aangestap en oral tussen die mikke ingevlieg vir die duur van die nag.  Dis egter te gevaarlik om tussen die baie takke in te duik.  Maar laag op 'n wegstaande dwarstak sit 'n paar opgeskote kuikens wat nie hoër kon kom nie.  Dit is 'n pragtige kans en Grootoog voel die gryplus in haar kloue kriewel; maar sy bly doodstil sit, deel van die droë doringstomp, want 'n instinktiewe vrees vir die regop figuurtjies daar om die hutte weerhou haar van die aanval.

By die strooise is die paar klonkies nog te uitgelate om so vroeg al hul skemerpret te staak.  Een vir een gaan sit hulle om die nuutaangepakte vuurtjie en babbel voort.  Grootoog word opgewonde.  Sy is nie gewoond om haar prooi eers te sit en beloer nie.  Stadig strek sy die nek en laat opeens haar diep "hoe-oeoeoe...!" vreesaanjaend oor die bosse rol.  'n Waaksame ou haan hef 'n fyn, piep-stemmerige "kirrr" aan en die kuikens op die dwarstak loer onrustig rond.  Grootoog wip geluidloos van die stomp af en skiet pylreguit na die doringboom.  Dan klap dit op die dwarstak as sy haar naels soos tange om een van die kuikens vou en net so onhoorbaar soos flus weer in die skemer verdwyn.  Agter haar verneem sy die opgewonde lawaai van die hane en die geroep van die volkies, alles deurmekaar.

Grootoog is honger en verslind 'n groot deel van die buit tussen die takke van 'n moepelboom.  Dan vlieg sy met die orige in haar kloue laagweg oor die donker bome heen in die rigting van die ruie bosklofie teen die hang van die berg.  Daar, in een van die digte, hoë uitdoppertjiebome, is haar nes.  Twee uiltjies wat nog nie in staat is om die nes te verlaat nie, waggel verras vorentoe toe hul ma geluidloos deur die takke flap met die halfgevrete kuiken.  Sy kyk 'n paar oomblikke selfvoldaan toe hoe hulle daarop aanval en verdwyn dan weer stil in die skaduwees van die geheimsinnige aand.

Sy vlieg laag tussen die bome deur, haar groot oë ondersoekend grondwaarts gedraai, jagbelus.  Weldra vang haar oog die beweging van 'n muis wat halsoorkop tussen 'n paar struike induik.  Met 'n sagte gesuis van die vlerke swaai die arenduil om en soek heen en weer tussen die gras.  By 'n klein openinkie gewaar sy die vaal strepie van 'n muispad wat net onder die bossies uitkom en weer verdwyn.  Doodstil vat Grootoog langs die paadjie pos.  'n Rukkie later snel 'n niksvermoedende muis verby.  'n Klap met die klou en die uil sit weer doodtevrede haar buit en verskeur.

Grootoog is nie haastig nie.  Die muisjag duur ongesteurd voort.  Maar naderhand begin dit haar tog te verveel en is sy weer op die vlerk, fyn-ondersoekend oor die bome heen, aan die digbeboste voet van die berg.

Êrens tussen dieselfde boskasie waggel 'n bont gestaltetjie slu deur die struike.  Dit is Skerpneus, die muishond.  Baie honger is hy nie, maar sy neus jeuk om die geur van vars bloed te snuif.  Moordbelus loer hy oral tussen die bossies rond.  Uit 'n lae rosyntjiebos waai 'n aanloklike voëlreuk hom teë.  Hy sluip versigtig nader en klouter tussen die buigende latte in.  Twee grasvoëltjies vlieg meteens verskrik op en soek verwilderd skuiling in die naaste bome.  Skerpneus druk sy snoet deur die bek van die nessie en byt eers die eiertjies stukkend voordat hy teleurgestel verder draf.  Weldra kom hy op 'n oop kaaltetjie en weer deur sy neus gelei, draf hy reguit op 'n kiewietnes af.  Die twee groot voëls vlieg luidrugtig op en draai dan al rakelings oor die rower heen om hom af te skrik.  Maar Skerpneus laat hom nie van stryk bring nie en dam die twee weerlose klein kiewietjies by.  Die koppies word haastig oopgebyt en so effens aan die geurige harsings gelek.  Dan sukkel hy weer voort.  Die maan het stadig agter die berg uitgeklim en gooi 'n flou lig oor die veld.  Skerpneus wil vannag nog lekker moor.  Hy draf voort oor die kaalte, sy bont rug flou sigbaar in die dowwe maanlig.  Meteens rol die vreesaanjaende "hoeoe-oe-hoeoe...!" van 'n arenduil soos 'n diep spotlag oor die berghang.  Skerpneus se pootjies word swaar van angs.  Dan dring die besef tot hom deur dat hy moet vlug en haastig begin hy na die bossies wegwaggel.  'n Dowwe skaduwee gly oor die kaalte.  Daar klink die gevreesde "hoe-oeoe..." angswekkend naby.  Die arenduil sak vinnig grond toe.  Skerpneus het vasgesteek en sy skerp tandjies dreigend omhoog gelig.  Hy kyk vas in 'n woeste, gesperde snawel en twee groot, grypende kloue.  Dit sluit om hom heen en Skerpneus voel dat hy magteloos van die grond af gelig word.  Hy byt wanhopig in die sagte vere van die arenduil, maar Grootoog se naels dring dieper deur sy vel en sy gly voort deur die bome.  Skerpneus het sy laaste moord gepleeg...

Die twee jong uiltjies wurg met genoeë aan die repies vleis wat hul ma uit die muishond skeur.  Grootoog sit op die rand van die nes en voel tevrede met die aand se vangs.  Dis nie nodig om vannag nog verder rond te jag nie.  Sy hou ook immers veel meer daarvan om net saans en in die vroeë môreskemer op die vlerk te wees.  Maar in die jongste tyd moes sy dikwels die hele nag deur jag om die uiltjies nie te laat hongerly nie.  Kort nadat hulle uit die dop is, is haar mannetjie een aand met skemer deur een van die gevreesde mense doodgeskiet onderwyl hy op 'n heining na aan die huis die hoenders sit en bespied het.  Grootoog het van toe af die werf vermy, maar dikwels die plaaswerkers se hutte begin besoek.  Hulle skyn nie so gevaarlik te wees nie.  Sy het reeds opgemerk dat wanneer sy daar naby "hoe-oeoe" die kleingoed stil in die strooise verdwyn.  Sy kon dus maklik so af en toe 'n lekker hoendertjie daar gaan haal as die nood dreig.

Die nagwind het opgesteek en wieg die omringende bome heen en weer in die maanlig.  Talle droë blare fladder ligwarrelend grond toe.  Die najaar het gekom, dink Grootoog, terwyl haar fyn gehoor al die onbeduidende geluidjies opvang.  Die skaars tyd sal weldra aanbreek, wanneer al die diertjies hulle so stil sal gedra dat jy min jaggeleenthede kry.

Laat in die nanag wip Grootoog weer uit die nes.  Gewoonlik is dit 'n lekker jagtyd.  Geluidloos gly sy oor die bome, die groot oë ondersoekend grondwaarts gerig.  'n Rukkie later is die arenduil deel van 'n droë tak wat effens uitsteek bo die kruin van 'n wildevyeboom.  Die twee veerklossies voor haar ore is luisterend regop gespits.  Maar sy hoor niks om op af te wip nie.  "Hoe-oeoe, hoe-oeoe...!" geëindig met 'n gesnap van die snawel, klink dit skielik weemoedig, maar dreigend deur die nag.  Fyn luister Grootoog nou of die een of ander nagdiertjie nie uit verbouereerdheid by die aanhoor van haar oorlogskreet 'n hoorbare beweging maak nie.  Maar alles is doodstil.  Geduldig sit sy maar en wag.

Uit die rigting van die swartes se hutte klink meteens dofweg die geklaag van 'n verlangende kat.  Grootoog luister 'n oomblik en duik dan van die tak af.  Gedra op haar groot en donserige vlerke, swenk sy vinnig deur die bome daarheen.  Gou gewaar sy die wit gestalte van 'n mannetjieskat stadig oor die kaaltetjie draf, waar die snaakse ronde hutte staan.  Hy merk die naggevaarte wat onverwyld op hom neerskiet en lê die rieme neer na die hutte toe.  Maar Grootoog is blitssnel op hom.  Die kat laat hom egter nie so maklik oorrompel nie.  Met venynige geblaas en gesnou kap hy links en regs na die uil, wat doodstil oor hom heen fladder.  Weer probeer hy sy vlug voortsit.  Grootoog skiet op hom neer en lig hom van die grond af.  Boosaardig draai die kat hom om in haar greep en grawe blasend met sy kappende naels bolle donsvere uit.  Maar Grootoog se knellende greep verswak nie.  Laag oor die bome skiet sy voort met die snouende kat, nes toe.  Sy weerstand verswak.  Haar naels boor dieper in.  Sy vlieg voort nes toe, waar die twee honger uiltjies al verlangend op haar wag.

Die dag begin breek in die ooste en die dowwe skyn van die halfmaan wat nog hoog in die lug hang, verbleek stadigaan teen die groeiende rooi gloed agter die bergkrans.  Grootoog bespeur met tevredenheid die koms van die dag, waar sy veilig tussen die uitdoppertjieblare in die nesholte sit.  Die uiltjies het genoeg gevreet.  Dit was 'n geslaagde nag.

Grootoog sit doodstil en luister hoe die boskinders saam met die koms van die dag ontwaak.  Van die vroegste voëltjies het al uit hul slaapplekke te voorskyn gespring en lewendig begin tjirp.  Nie ver daarvandaan nie hef 'n bergpatrys sy opgewekte deurdringende gefluit aan.  Grootoog spits meteens haar ore en loer ondersoekend deur die blare; maar dit is al effens te lig na haar sin en sy besluit om die patrys maar met rus te laat.

Die son kom op en bring die dartelende lewe met hom mee.  Maar die vaal, deurdringende lig wat deur die blarenet skyn, val bedrieglik skerp in die arenduil se groot oë.  Roerloos sit sy en luister na die veraf gewerskaf van die daglewe.  Om haar is die geluid van vallende blare en die geritsel van raasblaarpeule in die vroeë môrewind wat saggies deur die bome begin wieg.  Dit laat vaagweg weer die besef van verganklikheid in Grootoog se gemoed ontstaan.  Hier in die poortvallei het sy dit jaar na jaar verneem.  Eers was hier nie swart- en witmense nie en die bosse was digter langs die hang van die berg af.  Maar hulle roei uit so ver as wat hulle posvat, hierdie eienaardige wesens.  Eers was daar nog ander opregte arenduile wat jaar na jaar kon luister na die geluid van vallende blare deur die herfsdae heen.  Vanjaar is dit nog net sy wat oor is.  Grootoog sluit haar oë vir die bedrieglike lig, wat in vaal straaltjies deur die blare skyn en sit weldra rustig aan die slaap.  Wat in die dag gebeur, kan haar maar min skeel.  Sy wag op die koms van die nag met sy aanloklike onsigbaarheid en sy tallose kanse.

Die son het na die hoogte opgeskuif en alles is rustig na die vroeë gewerskaf van die bosbewonertjies.  Suutjies deur die bome, met gespande voëlrek in die hand kom 'n seun aangestap.  Grootoog se veeroortjies trek luisterend regop, maar sy bly doodstil sit.  Net die ronde oë knip onheilspellend teen die vaaldof lig toe die voetstappe krakerig oor die droë blare al nader skuifel.  Sy bly onrustig-gespanne sit toe dit naderhand reg onder haar klink en dan skielik tot stilstand kom.  Die seun kyk in die boom rond en gewaar die rooi-ryp uitdoppertjies wat aanloklik tussen die blare verskuil sit.  Hy hang die rek om sy lyf en begin teen die skurwe stam opklouter.  Dan rys die arenduil skielik soos 'n grootoogspook steunend van haar nes af voor hom op en dit skyn asof sy die indringer met een vlerkgeklap uit die boom gaan slinger.  Maar die knaap het reeds verskrik gegil vir die onverwagte verskyning en holderstebolder langs die stam afgetuimel en nael nou voort deur die bome onder die bedwelming van sy skielike skrik.  Toe het Grootoog ook al van die nes af  hoër op tussen die blare verdwyn.  Sy vrees hierdie regop, tweebenige gestaltes.

Weldra sit sy weer op die kant van die nes by die twee nuuskierige uiltjies, haar oortjies onrustig na vore getrek.  'n Hele end daarvandaan tussen die bosse kom die seun tot besinning en stap vies weg in die rigting van die plaaswerkers se hutte.  Dan was dit maar net vir 'n uil op haar nes waarvoor hy so geskrik het, dink hy.  Hy begin planne beraam onderwyl hy deur die bome aanstap.

Die skaduwee onder die bosse begin langer rek.  Die dag is besig om stil verby te gly.  Grootoog hoor 'n klompie katlagters hoër op teen die berg, waar hulle kastig in die bome sit en dut.  Dis darem ellendige voëls wat nie eers hul snawels kan toehou wanneer hulle rus nie, dink sy.

Dan begin een luid skaterlag en die ander witrugge spring geselsend agter hom aan teen die berghang af.  Die arenduil kyk gesteurd op toe een met sy ewige rumoer deur die uitdoppertjie se blare deur vleg.  Hy merk die uil by haar nes en begin sy maats luidkeels te verwittig van sy ontdekking.  Weldra wip die rusversteurders opgewonde oor die boom heen en weer en skater dit uit in volle koor.  Grootoog slaan hulle ergerlik gade.  Haar groot oë gloei.  Wat se gelol is dit nou weer vandag?  Maar die voëls is nie van plan om uitgepraat te raak nie en een wip tergend naby voor haar verby.  Sy spring hom met gesperde snawel agterna en bevind haar meteens in die helder namiddagson.  Nou is dit of die spul rumoerders van die duiwel besete raak.  Hulle maal in 'n skaterende spotkommando oor die uil, wat verbouereerd die berg uitvlug na digter bedekking toe.  'n End voor haar agtervolgers duik sy meteens laagweg deur die bome en sit 'n rukkie later weer stil tussen die digte blare van 'n groot moepelboom.  Die lagters gaan kekkelend in verskeie bome sit en vleg aapagtig tussen die takke deur.  Grootoog voel so vies dat sy maar hier tussen die moepelblare versteek sal bly sit totdat die skemer kom.  Die son sal tog weldra onder wees en dan is sy weer baas.  Bewaar dan die katlagter wat nog sy groot mond hier kom ooprek.  Maar sy weet dat hulle lank voor die tyd die spat sal neem.

Sy sit 'n rukkie stil en wag.  Dof in die verte, laer af teen die berghang, verneem sy gedempte stemme wat al nader kom.  Eindelik klink krakende voetstappe duidelik op die droë blare.  Grootoog luister benoud na die steurende geluide, want hulle beweeg ongetwyfeld in die rigting van die uitdoppertjieboom.  Hoe magteloos voel sy nie in die dag nie!  Hier sit volop tergende katlagters om haar in die bome en daar onder is gewis 'n paar rowers by haar nes besig.  Sy hoor 'n opgewonde gebabbel en 'n skuurgeluid teen die takke.  Dis die seun wat met versterkings teruggekeer het om hom te wreek.  Grootoog trap onrustig rond.  Die daglig is vir haar soos boeie aan die vlerke.  Daar onder klink 'n paar triomfkrete en sy hoor hoe die rowers babbelend verder deur die bome voortstap.

Anstig wag sy die skemer af.  Die groot oë boor gedurig deur die blare.  Dof verneem sy die deurmekaar geskater van die katlagters nou vér in die boskloof op en besef dat hulle dus padgegee het.  Dan spring sy uit die blare te voorskyn en seil vinnig tussen die stamme deur nes toe.  Alles is daar in 'n warboel.  Groen blare lê oral onder die uitdoppertjie met stokke afgeslaan.  Die nes is heeltemal verwoes en die twee uiltjies is weg.  Grootoog wip angstig van tak tot tak.  Haar pieringoë gloei boosaardig-soekend in die flou namiddaglig.  Dan gaan sy besluiteloos op 'n dwarstak sit en begin 'n saggedempte gehoe.  Dit klink soos 'n weemoedige getreur oor verlorenes.  Haar groot oë dwaal soos in 'n droom om haar heen.  Met kort tussenposes klink die geroep deur die bosse.  Dan besef die ou uil skielik dat haar onverskillige "gehoe" maklik ander vyande op haar kan afbring en sy swyg.  Soos 'n treurende sit sy by die nes, haar wydgerekte oë starend deur die blare heen.

Die son het ondergegaan en die skemer begin weer oor die bome toesak.  Asof sy uit 'n droom ontwaak, rig die arenduil haar meteens op en skud haar vere reg.  Die aand het gekom en die aanloklike skemer wink om weg te vlug van hierdie droewige onheilsplek.

'n Rukkie later flap sy swenkend deur die bome en laat haar spookagtige geroep dreigend deur die skemer rol.  Dan duik sy woes omlaag en skiet rakelings teen die grond verby.  'n Bergpatrys tuimel halsoorlop die hoë gras in en sit roerloos verskuil.  Maar Grootoog gly voort deur die bome.  In haar vlug verneem sy die gekraai van 'n haan by die hutte, wat die sterwende dag 'n afskeidsgroet toeroep.

Roerloos op die droë doringstomp sit sy nou.  Die swartes sal boet.  Die laaste hoenders sukkel met groot lawaai die slaapboom in.  Grootoog gewaar met genoeë die paar kuikens wat op die dwarstak sit.  Terg wil sy hulle vanaand, uittart en uitoorlê.  Eers dofweg, maar al hoe harder en dreigender klink haar onheilspellende "hoe-oeoe" deur die skemer.  Onrustig "kirr" 'n paar hoenders in die boom.  Van die hutte af kom 'n paar regop gestaltes aangestap.  Grootoog verdwyn stil van die stomp af en vat pos in 'n digte karee.  Sy hoor klippe oral deur die bome gons, vergesel van skor bangmaakgeluide.  Hard en tergend "hoe-oeoe" sy uit die donker karee, geëindig met 'n klank soos van 'n diep spotlag.  Dan glip sy stil terug deur die bome en laat haar agtervolgers soekend agter.  Onverwyld skiet sy af op die doringboom en met grypende kloue vooruit, raap sy 'n kuiken van die dwarstak af.  Agter haar is weer die opgewonde rumoer van die hoenders en die hees geroep van die swartes, terwyl sy hoog oor die bome voortvlieg na die bos.  "Hoe-oeoe, hoe-oeoe...!" klink dit soos 'n hoonlag deur die skemerte heen.

Vér tussen die bome sit Grootoog op haar gemak die hoendertjie en verskeur.  Tevrede wurg sy repies vleis na binne.  Sy het haar gewreek.

Tussen die bome aan die hang van die berg, styg 'n rooi gloed in die lug op.  Grootoog vlieg nuuskierig daarheen om te gaan speur wat gaande is.  Sy gewaar die vlamme van 'n groot kampvuur wat die naaste bome daaraan helder verlig.  'n Byna onhoorbare klapwiek en Grootoog neem plaas in die digtheid van die donker kareeboom naby die kant van die ligkring.  Haar twee groot ronde oë loer deur die blaregordyn na die vreemde skouspel hier voor haar.

By die lig beweeg 'n paar mense luidrugtig rond.  Enkele musieknote dring soos huilklanke met 'n eienaardige "tong-tong"-begeleiding tot by die kareeboom deur.  Luisterend en belangstellend kyk Grootoog voort.  Die mense begin rumoerig om die vuur in pare tiekiedraai.  'n Donker vrees verskyn in Grootoog se pieringoë, vrees vir hierdie snaakse skepsels en die verlies van haar kleintjies skiet haar weer te binne.  Sy wip geluidloos van die tak af, die nag in...

"Hoe-oeoe...!"  Geheimsinnig klink dit deur die nag.  Die pieringoë loer na die donker silhoeët van die bergkrans aan haar linkerkant.  Sy moet weg uit die poortvallei waar allerhande gevare heers, voort op nuwe vlugte snags deur ander bosse heen.  'n Oomblik draai sy dwars in haar vlug en blik vir laas na die helder gloed tussen die bome.

"Hoe-oeoe...!"  Dis 'n enkele sug wat stil deur die bome versmelt onderwyl die ou doodvoël op ligte slae van haar breë vleuels die nag se donkerheid insweef...