NAG IN DIE BROSDORINGS

Dr JP Botha

(Uit skrywer se boek oor diereverhale: Langs die Toelanie)

BOEKRAK VIR AFRIKANERTJIES

Lees nog stories by Boekrak vir Afrikanertjies

Die son se laaste strale speel nog flou oor die toppe van die hoë brosdorings langs.  Deur die enkele openings heen sien 'n mens nog die berge dynserig-blou in die verte.  Baie van die nagdiertjies in die bos loer al 'n hele rukkie ongeduldig uit hul gate of uit die kolle hoë boesmansgras en wens dat die nag vinniger oor die uitgestrekte bos moet daal.  Die dagbewonertjies het lankal hul slaapplekke vir die nag gaan opsoek.

Die donker versprei al digter om die ruie deurmekaarbos wat amper heeltemal weggeduik in die hoë gras skuil. Onder sy knopperige takke wat soos krom arms deurmekaar vleg, is dit stil en donker.  Nog donkerder gaap die swart opening teen die stam.  Dan verskyn daar iets in die bek van die gat, versigtig en stil, swart soos die nag.  Dit is 'n ystervark en sy familie.  Onder in die ruim binnewêreld van sy uitgeholde tuiste, waar hy en sy familie die hele dag lê en slaap het, was dit heerlik warm.  Nou waai die koel aandwindjie liggies teen sy swart neus aan.  Hy snuif dit gespanne op.  Ja-nee, dis tyd om op sy nagtog uit te gaan.  Dit sal 'n lekker aand wees.  Die maan skyn taamlik helder, net goed om jou die pad mooi tussen die bome heen te wys.  Hy hou baie van die stikdonker, maar in die maanlig is dit makliker om vyande te bespeur.  Dog vir die spierwit, helder daglig deins hy terug met 'n geheimsinnige vrees.  Dan droom hy maar altyd lekker met sy familie hier by die deurmekaarbos, diep onder in die gat waar nog altyd 'n stukkie van die nag se duisternis om hom vertoef.  Maar dis snaaks, as die skemer daal, dan voel hy sommer gereeld daar onder in die gat dat die nag aan die kom is, soos vanaand ook weer.

Weer snuif hy versigtig in die lug.  Hy kruip stadig onder die donker kol uit, in die flou maanlig in.  'n Sog met vier varkies volg op sy hakke.  Sy byt kort-kort geniepsig na een se neusie, want die kleingoed is nog maar kort gelede in die geheime van die jagkuns ingelei en rig allerhande dom dinge aan.  Die ou sog het soms net moeite om hulle in toom te hou.  Die grootste enetjie begryp nog nie waarom hy dan al die droë blare onder die bome moet mistrap nie en waarom hy nie af en toe sommer 'n lekker snorkie mag gee nie.

Aan die voorpunt draf  hul pa.  Vanaand pyl hy doelbewus na die kant van die bome, waar die hoë brosdorings by 'n plaat fyn rosyntjiebossies aansluit.  Die ou ystervark jag nog nie lank in hierdie omgewing rond nie; tog ken hy die doringbos al taamlik goed.  Hy weet dat op die kaaltes waar die vaal rosyntjies welig tier, nog heelwat kossies te kry is.  Daar is nog allerhande soorte uintjies en soetwortels om uit te vroetel.  Hy het nou die dag effens verder af volop smaaklike bossie- en graskalkoentjies ontdek.  Vanaand mik hy eintlik soontoe.  Die sog het dit lankal geraai en volg gewillig.  Net die vier kleingoed wil hulle maar nog nie ordentlik gedra nie.

Skielik gaan die ou ystervark staan.  Hier uit die nou voetpaadjie waarin hulle loop, lei 'n dowwe uitdraaipaadjie.  Hy weet goed waarheen dit gaan.  Dit is mos die pad waarlangs die vlakhase en steenbokkies saans aantrippel na die turflaagte daar onder op die vlakte waar die mielieland lê.  Besluiteloos staan die ystervark 'n oomblik en snuif  huiwerig die lug op.  Gou loer hy om na die sog.  Half asof sy begryp, kom ruik sy ook en tuur 'n rukkie na die turflaagte se kant toe.  Die grootste varkie dink ook sommer dadelik dat die uitdraaipaadjie interessanter sal wees en wil die voortou neem.  Sy ma knor hom kwaai terug en die ou ystervark begin weer aanstap na die plaat rosyntjiebosse toe.  Hy besef  ook maar te goed, net soos die sog, dat die turflaagte verbode grond is om te betree.  Tog sal hy daardie genoeglike nag in die mielieland, ongeveer 'n week gelede, nooit vergeet nie.  Hulle het dié aand hierdie nuwe paradys toevallig raakgeloop.  In die ruie rantjiesveld, waarvandaan hulle 'n tydjie gelede na die brosdorings verhuis het, was so iets heeltemal onbekend.  Die heerlike groenmielies het dié aand vorentoe gesmaak.  En tog is sy soet hernnerings ook gemeng met 'n eienaardige vrees, iets wat hy nie juis kan verklaar nie.  Daar hang mos so 'n eienaardige vae reuk tussen die lang mielieplante in die lug.  Die goed staan so komieklik in rye agtermekaar.  Hy onthou dit alles nog te goed.  En dan is daar die snaakse plat spore tussen die rye op die grond.  Daar was ook nog 'n ander soort, soos dié van 'n jakkals, net groter ...

Nee, die ou ystervark luister vanaand liewer na die stem van sy vrees.  Vannag sal hy seker met die uintjies en kalkoentjies tevrede moet wees; al is dit nou maar karige voedseltjies en nie halfpad so smaaklik soos die heerlike mielies nie.

Met sy swart neus laag op die grond, stap hy in die voetpaadjie aan.  Die kleintjies volg nou ewe gedwee agter hom.  Die sog het hulle eindelik onder beheer.

Vanuit die teenoorgestelde rigting kom 'n rooijakkals met dieselfde paadjie behoedsaam aangesluip.  'n Endjie agter hom volg sy wyfie, taamlik lusteloos.  Die ou streeprug voel verskriklik honger.  Hy wil vannag sy uiterste bes doen om iets te vrete te kry.  Hy moet versigtig wees, dink hy; jy loop maklik 'n haas in so 'n wildspaadjie op die lyf.  Maar wat hoor hy daarvoor ...?  'n Sagte geblaas en 'n dowwe voetgetrippel kom nader.  Die jakkals sak suutjies op sy hurke in die paadjie neer en wag ...

Hier kom die ou ystervark stadig om die draai met sy neus teen die grond.  'n Ligte vlieswolkie hang oor die halwe maantjie en kleur die veld amper swart.  Skielik steek die ystervark met 'n harde geblaas vas en loer voor hom uit.  Kort agter hom volg nog 'n kwaai snork en die jakkals hoor hoe die gras saggies ritsel.  Dan besef hy dadelik wat gaande is en rig hom dreigend op voor die vark in die voetpaadjie.

Die jakkalswyfie wat belangstellend gaan lê het toe haar man in die paadjie neersak, begryp dat haar lis vanaand weer nodig is.  Slu verdwyn sy in die gras om met 'n omweg weer die voetpad te bereik.  Geen ritselinkie verraai haar teenwoordigheid nie.  Die hele tyd staan die rooijakkals met opgeligte stert voor die ystervark.  Dit maak die ou norse veteraan nog ongeduldiger.  Hierdie kastige dreigement om jou aan te val en dan verder niks uit te rig nie, krap hom om.  Maar hy besef dat die veiligheid van die kleintjies op die spel is.  Hy laat die opgehewe penne oor sy nek boos kletter.  Hy stamp met sy voorpoot op die grond en blaas met 'n woestheid van die ander wêreld.  Skuins langs hom kom die sog staan, net so dreigend; maar dit verontrus nie die jakkals nie.  Ewe bedaard staan hy en wag.  Dit maak die ystervarke nog kwaaier, want nou besef  hulle dat die slinkse dief weet dat hul kleintjies hier êrens in die gras is.  So 'n ellendige jakkals kan hulle die hele nag hier besig hou, want hy is tog te versigtig om sulke pantsers openlik aan te durf en hy sal nooit besef  hoe vergeefs hy hier staan en wag nie.

Eindelik dink die vos dat sy wyfie seker nou van die anderkant af  baie naby moet wees en besluit om die ystervarke se aandag nou des te meer op hom te vestig.  Hy sak plat met sy voorlyf en begin kwaardaardig knor.  Met nekpenne wat amper vorentoe staan soos die ystervark sy kop wegsteek, stap hy gepantserd op die jakkals af.  Die sog volg dadelik skuins agter hom.  Die ou rooie is genoodsaak om geleidelik te retireer, maar hy laat al die tyd sy gedempte gebrom hoor.

Meteens ontstaan 'n lawaai daar agter in die gras.  Die jakkalswyfie wou die klein ystervarkie geluidloos uit die wêreld help maar sy het hom net skrams raakgebyt en nou skop hy 'n vreeslike herrie op.  Dreunend kom die sog aangestorm.  Die jakkalswyfie raak skoon verbouereerd deur haar ongeluk en spring te laat weg.  Die sog vlieg onverhoeds onder die wyfie deur en laat 'n paar penne agter, diep ingedrywe in die jakkals se bene.  Sy tjank benoud en toe die sog terugspring om die aanval te hervat, spat die jakkals bang die gras in.

"Haahaaaa...!" huil die mannetjie skielik van teleurstelling daar in die paadjie.  Dit was te tergend vir die ou ytervark.  Maar die vos spring rats opsy toe hy snorkend storm en begin vies wegdraf deur die gras na sy wyfie toe wat 'n endjie daarvandaan besig is om te nies en te steun van die pyn in haar voorbene.

Die ou leier en sy sog gaan langs die paadjie by die varkie staan wat daar lê en skop.  Versigtig kruip die ander drie ook uit die gras en kom ruik bang aan hul maatjie wat sulke snaakse manewales hier lê en uithaal.  Die sog loer in die rigting waar die jakkalse verdwyn het en snork kwaai onderwyl haar penne kletter.  Die ou beer staan nors en toekyk.  Langsamerhand hou die varkie op met skop; sy kreuntjies versag en netnou roer hy nie meer nie.  Die ou ystervark weet dadelik dat daar nou verder niks aan die outjie te doen is nie en wil voortdraf.  Die sog steur haar egter nie aan hom nie en probeer die dooie varkie met haar snoet ophelp.  Sy laat 'n klaende gesteun hoor.  Die ander drie outjies staan dom en toekyk.  Hulle begryp nog nie wat gebeur het nie.  Eers toe hul ma weer kwaai na hulle knor, val hulle in die voetpad en begin al agter hul pa aanstap.  Die sog berus ook eindelik in die onvermydelike.

Voor stryk die ou ystervark nou haastiger aan.  Die petalje het hom 'n hele ruk vertraag.  Kyk waar het die maan nie al bokant die bome uitgeklim nie!  Maar die plaat rosyntjies lê darem ook nie meer so ver nie;  net 'n klein entjie nog.

Die vroeë nagwind wat flussies nog koel gewaai het, het teen hierdie tyd nog amper net merkbaar die grashalms beweeg.  Die ystervark weet goed dat daar netnou selfs nie eens meer 'n luggie sal trek nie.  Dit maak hom onrugstig, want dis dan so moeilik om die vyande wat hier in die doringbos hou, te ruik.  Daar het nog die hele tyd vlieswolkies oor die maan gedryf; gelukkig is hulle nou besig om stadigaan te veryl.  Die maan sal oor 'n rukkie die wêreld hier in die bos taamlik veilig maak.

Toe die ou ystervark met sy familie deur die fyn rosyntjiebossies vleg, voel hy meer gerus.  Die sog bly naderhand met die kleintjies agter om oral rond veldkossies uit te grawe.  Hyself stuur doelbewus op die kaalte af, waar hy die kalkoentjies op die lyf geloop het.  Hy weet sy gevolg sal mettertyd nader wei.

Maar die ou voorloper word vanaand in sy verwagtings teleurgestel.  Daar is oral graafplekke tussen die kortgras te sien.  Byna al die bossiekalkoentjies het verdwyn.  Die vorige aand het vreemde ystervarke die nuwe terrein ontdek en daar kleingeld van gemaak.  Dit stem die ou vark nog norser.  Dit lyk vir hom of alles vanaand misloop.  Hy het baie lus vir sappige vroetelkossies vannag en nog hier en daar 'n lekker bolletjie om sy lus nog meer aan te wakker.

'n Rukkie daarna kom die sog weer by en dit is duidelik dat sy die tog ook heeltemal teleurstellend vind.  'n Oomblik staan die ou voorloper besluiteloos en peins.  Dan skiet 'n ander gedagte hom te binne.  Hy loer op na die sog en dit is asof sy onmiddellik begryp waarheen sy gedagtes dwaal.  Haar houding beduie instemming en die ou leier neem dadelik die voortou.  Met 'n dowwe voetpaadjie langs wat vaal in die flou maanlig deur die gras kronkel, kies hy sy weg in die rigting van die brosdorings om netnou met 'n kortpad weg te swaai die turflaagte in.  Toe die ou ystervark deur die droë spruitjie die biesies met sy spits snoet kloof, kan hy al die dowwe groen van die lang, regop mielies duidelik teen die naglug sien afsteek.  Hy dink ook nou nie eintlik meer aan vyande of gevare nie.  Hy voel te honger en die feestelike vooruitsigte laat hom vinniger aanstryk.  Die sog kan natuurlik goed bybly, maar sy is genoodsaak om effens te talm,  want die kleinste van die drie varkies is al moeg van die aanhoudende gedraf die hele nag deur en begin met 'n snorkstemmetjie pieperig te kla.  Sy spoor hom saggies aan en toe die ou beer tussen die eerste mielies instap, kruip sy kort agter hom met die drie onder die stywe doringdraad deur.

Tussen die mielies is nou 'n heerlike fees aan die gang.  Die sog breek verskeie stronke om en skeur die swaar koppe oop sodat die drie hongerige kleingoed lustig aan die soet, sagte pitjies kan knabbel.  Effens dieper in rig die ou voorloper 'n groot verwoesting aan onder die wonderlike plante wat so heerlik sappig is.  Hy gaan sommer met een van die rye af en byt voor die voet om.  Dit smaak vorentoe!

Skielik staan hy stil en luister: Diep in die land ritsel die blare dof.  Hy hoor sagte voetgetrappel wat al duideliker te onderskei is namate dit naderkom.  Die ou leier wil net begin aanstaltes maak om te vlug toe 'n bekende kortaf geblaas sy ore bereik en hom weer gerusstel.  Na 'n rukkie kom twee opgeskote ystervarke tussen die stamme deur aangestap en merk nou eers die feesvierende familie op.  Die twee is al lankal dik gevreet en stap maar tevrede verby om bo by die hoek van die lap mielies weer die digte gras binne te dring.  Die ou ystervark steur hom nie veel aan hulle nie en gaan maar voort om 'n volgende mieliery te verniel.  Hy voel naderhand dat hy begin vol word en byt net so hier en daar van elke mieliekop wat hy afruk 'n bekvol lekker pitte af.  Die sog moes egter die kleingoed eers versorg en vreet nou nog rustig voort.

Meteens staan die ystervark vir die tweede maal die nag in gespanne houding doodstil en luister.  Ver in die mielies ontstaan 'n eienaardige geraas wat al harder word.  Die ou leier verneem gedempte klanke en voetstappe wat heeltemal vreemd klink.  Dit is al of  hy 'n gesnuffel hoor soos jakkalse soms maak, maar dit is iets vreemds.  Hy kan maar nie verstaan wat dit is wat so luidrugtig naderkom nie.  Die sog het die geluide ook gehoor en lyk net so dronkgeslaan, waar sy skuins agter hom by 'n omgebyte mieliestronk staan.  Die drie kleintjies het bang onder hul ma ingekruip en luister ademloos.  Die ou ystervark het nog geen oomblik aan gevaar gedink nie.  Sy nuuskierigheid is hom skoon meester.  Hy het nog nooit met dié soort diere kennis gemaak nie en wil graag sien hoe hulle lyk.  Die luggie trek ongelukkig in die teenoorgestelde rigting; hy wou graag hul reuk ook in sy neusgate opsnuif.  Die ou kan duidelik hoor dat hulle nou baie naby moet wees en hy wag nog steeds gespanne.  Maar skielik word dit doodstil; hy kan net effens die gesnuffel en voetstappe nog sag verneem.  Wat gaan nou aan?  Sy nuuskierigheid slaan stadig oor in vrees want dis al of hy weer dieselfde eienaardige reuk begin gewaar wat hy daardie vorige nag nog hier so flouerig geruik het.

Skielik sien hy twee donker gestaltes regop tussen die mielies beweeg.  'n Snaakse geblaf skeur die stil nanaglug en twee grommende gevaartes storm op hom af.  Dit is honde!  Hy hoor hoe die sog agter hom 'n harde blaas gee en met die kleintjies op vlug staan.  Die ou voorloper is half verbouereerd en weet nie of hy moet omspring en vlug of verdedig nie.  Een van die regop gestaltes snel met 'n swaaiende kierie bokant sy kop 'n end van die ou ystervark verby, met 'n hond voor hom uit, agter die vlugtende sog aan.  Die ander hond en sy baas kom skreeuend op die ou leier af.  Dog die vinnige hond is gou by en spring dom op hom toe.  'n Oomblik is hy plat teen die grond.  Dan laat die hond 'n vreeslike getjank hoor en spring eenkant op drie bene rond.  'n Skerp pen het dwarsdeur sy blad gesteek en afgebreek.  Onder aan sy pens steek verskeie ander penne soos klein assegaaitjies vas.  Die ystervark spring dadelik op om sy vlug voort te sit, maar die skreeuende swartman is alweer met sy swaaiende kierie byderhand.  Die ou ystervark voel 'n geweldige hou op sy rug neerkom.  Die vreeslike krag daarvan laat hom steier, maar sy taai lyf vol penne voel verder nie veel nie.  Om dood en lewe vlug hy weer voort tussen die mielierye deur.  Dit skyn egter of sy vyand soos 'n windhond kan hardloop.  Die stronke kraak en breek en binne 'n paar tree haal hy hom weer in.  Dan voel die ou leier skielike 'n rukkende slag in sy kop en hy slinger hulpeloos oor die grond.  Hy stort met sy slap lyf teen 'n dik mieliestam neer wat krakend ombreek soos hy daarteen neerslaan.  Sy vyand het hom hierdie keer op die teerste plek getref, sy kop.  Met 'n laaste kreun hou hy op met skop en dan lê die stoere ou ystervark doodstil ...

Die sog kruip versigtig en bang onder 'n digte haak-en-steekbos uit en hyg nog effens na asem soos sy daar alleen in die flou maanlig tussen die kort gras staan.  Sy loer agterdogtig rond en dit is duidelik dat sy nog in die vreeslike avontuur van flus lewe, net asof alles weer helder voor haar afgespeel word.  Dan roep sy na die haak-en-steekbossie en een ou kleintjie kom knorrend aangedraf, net een.  Die sog voel weer hoe benoud sy was toe sy doodverskrik deur die gras en bossies weggevlug het.  Sy hoor hoe een van die ou kleintjies 'n laaste angskreet uitstoot toe die hondgevaarte hom doodbyt; dit was die outjie wat vannag al so moeg was en toe al begin agterraak het.  Op daardie oomblik het die sog skielik weggeswaai in haar vaart.  'n Kleintjie het haar gevolg.  Die ander een het egter met die skielike swaai sy koers verloor.  Sy hoor weer die wilde geskree in haar ore tuit.  Sy sien nog hoe die regop gestalte sy kierie kragtig laat neerkom; sy hoor die angstige gekreun - en toe was alles verby.  Hulle het haar nie verder met hul wrede honde agtervolg nie.

Mistroostig soek die een ou varkie nou skuiling teen sy ma en hy kla droewig.  Die sog wag dat die ou beer moet terugkeer sodat hulle na die deurmekaarbos toe kan terugdraf.  Maar 'n donker voorgevoel maak hom van haar meester.  Dis 'n skrikgedagte dat die ou voorloper vannag dieselfde pad gegaan het as die drie kleintjies.  Die sog voel vreeslik eensaam en verlate waar sy daar langs die haak-en-steekbossie in die kort gras op die terugkoms van die ou beer wag.  Die halwe maantjie se flou lig lê bleek oor die bome heen.  Dit stem haar nog weemoediger as sy na die donker skaduwees onder die bome kyk.  Dis of die koel nagwind wat nou weer effens deur die grassade begin roer, maar net aanhoudend fluister van verdriet en leed, van doodskaduwees wat in die nanag stil oor die grond aangekruip kom.  Dit lyk asof die ou varkie begryp wat daar in sy ma se gemoed omgaan, want hy laat 'n droewige gekwiek hoor en steek sy swart neusie onder haar in asof hy skuiling wil soek teen die noodlot.

Die sog gee eindelik moed op en begin stadig deur die bome na die ruie brosdorings terug te stap.  Die yl sterretjies aan die bleek lug maak al aanstalte om te verdwyn en die sog word al haastiger en koers op 'n kort draffie voort met die varkie op haar hakke.  Toe sy aan die kant van die brosdorings kom wat soos donker gestaltes teen die lug afsteek, staan sy eers stil en tuur verlangend in die skemerte terug.  Mismoedig gaan die tog dan maar weer voort deur die bome.  'n Vroeë vlakvoël laat twee lang fluite hoor om te beduie dat hy al wakker is.  Origens is dit nog stil, die rustige stilte voor die aanbreek van die dag.  Eindelik kruip die ou sog met haar kleintjie onder die knopperige takke van die deurmekaarbos in en verdwyn in die donker opening teen die stam.

'n Korhaan se krakerige roepstem begin vakerig deur die môrestilte heen kla.  In die ooste begin 'n rooi gloed stadig oor die horison sprei ...  Dit is die dag wat oor die brosdorings breek.