BOEKRAK VIR AFRIKANERTJIES
Lees nog storietjies by Boekrak vir Afrikanertjies
Ou Jakkals was maar altyd die grootste snuffelaar onder die diere en hy het gou ontdek dat twee Tinktinkies ‘n nessie bo in die doringboom het. Kos was toe maar skaars en daarom het ou Jakkals skielik vreeslik lus gekry vir tinktinkie-eiers.
Tinktinkie en sy vroutjie het hul nessie in ‘n doringboom langs die rivier gemaak. Hierdie doringboom het half onder ‘n groot wilgerboom gestaan sodat die wilger sy breë takke oor die doringboom gesprei het.
Ou Jakkals wag toe net tot Tinktinkie wegvlieg om te gaan kossoek en mevrou Tinktinkie ewe rustig op haar nessie sit, toe hy daar aangestap kom en onder die doringboom gaan staan.
Hy begin om met sy naels aanhoudend teen die stam te krap, totdat mevrou Tinktinkie oor die rantjie van die nes loer en vra: “Wie is daar?”
“Dit is ek,” sê ou Jakkals.
“W-wat wil jy hê?” vra sy met ‘n bewerige stemmetjie.
“Ek wil daardie eiers hê!” skree ou Jakkals op parmantige toon. “En maak gou; ek is haastig!”
“O nee, jy kan hulle nie kry nie!” roep sy, maar haar hartjie klop so vreeslik dat sy skaars die woorde kan uitkry.
“O, jy is parmantig, né!” skree ou Jakkals. “As jy nie dadelik vir my ‘n eier afgooi nie, klim ek in die boom en kom jou met eiers en al opeet. Maak nou gou!”
Arme mevrou Tinktinkie skrik toe nog groter toe sy hoor dat Jakkals in die boom wil klim en sy val amper self uit die nessie uit. Sy sien hoe ou Jakkals op sy agterpote teen die stam staan met wydoop bek. Toe gooi sy maar ‘n eiertjie af. Hy sluk dit in en lek sy lippe af, voordat hy wegdraf. Ja-nee, dit was sommer ‘n lekker happie, dink hy. Hy sal sommer elke dag kom totdat daar geen tinktinkie-eier meer oor is nie.
Toe Tinktinkie weer by die nessie opdaag, tref hy sy vroutjie aan in groot verdriet. Nadat sy hom alles vertel het, sê hy: "Het jy dan regtig geglo dat hy kan boomklim? Hy kan dit nie doen nie, al breek hy ook sy nek.”
Hy neem hom voor om Jakkals ‘n les te leer en gaan die volgende dag self op die eiertjies sit, onderwyl sy vroutjie wegvlieg om te gaan kossies soek.
Dit was ook nie lank nie of ou Jakkals staan toe weer onder die boom en begin om met sy naels teen die stam te krap. Tinktinkie loer so effens oor die rand van die nes en vra: “Wie is daar?”
“Ek,” sê ou Jakkals.
“En waarvoor krap jy so?”
“Ek wil nog ‘n eier hê; en jy moet gou maak!”
“Ag hoor ‘n bietjie daar! Laat ek jou vertel: Jy het alreeds al die eiers hier weg wat jy ooit hier sal kry!”
Tinktinkie gaan op die kant van die nes sit sodat ou Jakkals hom mooi kan sien.
“O, is dit jy, né?” sê ou Jakkals met grynsende tande. “As jy nie gou vir my ‘n eier afgooi nie, klim ek hier op en sluk jou, beentjies bek en vere, met net een hap in!”
“Nou toe, kom dan!” roep Tinktinkie en hy spring op ‘n tak. “Toe kom, jou ou harige skurk, as jy dit ooit sal waag!” Hy spring rond en stoot sy vlerkies uit asof hy ou Jakkals enige oomblik wil bevlieg en sy oë gaan uitpik. “Probeer dit net, meneer Jakkals en kyk wat ek met jou sal doen!”
Voor ou Jakkals mooi kon dink wat hy sê, snou hy Tinktinkie toe: “Ek wens ek kon jou bykom, ventjie, dan sluk ek jou en jou eiers met een hou in!”
“Hoor hoe praat so ’n ou papbroek! Ek weet goed jy kan boomklim, maar jy is te bang om te probeer. Ek sal jou leer om arme klein moedertjies van hul eiertjies te beroof, jou ou skelm!”
Ou Jakkals is woedend daar weg en Tinktinkie het geswel van trots oor sy manhaftige gedrag. Toe sy vroutjie terugkeer, vertel hy haar wat gebeur het en sê dat sy ou Jakkals ook so moes trotseer het. Sy neem haar voor om dit te doen as hy haar weer kom pla.
Ou Jakkals let fyn op wie gaan kossoek en wie op die nes sit. Mevrou Tinktinkie hoor weer ‘n gekrap aan die boomstam. Sy probeer haar stem grof maak om vir Jakkals te sê hy moet maak dat hy wegkom, maar sy het skaars twee woorde uitgekry voordat sy in ou Jakkals se tande vaskyk. Hulle lyk so skerp en ou Jakkals lyk so wreed dat sy van skrik begin bewe.
“Gooi daardie eier af of ek kom van jou wors maak,” sê ou Jakkals.
Mevrou Tinktinkie val byna uit die nes van skrik, maar sy sê tog vir Jakkals: “Jy kan nie boomklim nie.”
“O, ek kan nie, né?” sê hy en laat sy hare rys. “Kyk of ek dit kan doen of nie!”
Hy gee ‘n geweldige sprong tot halfpad teen die stam op. Arme mevrou Tinktinkie skreeu van angs want sy dink dis nou klaarpraat met haar en haar eiertjies.
“Gaan jy nou daardie eier afgooi of nie?” skree ou Jakkals.
“Ja, hier is dit, vat dit, vat dit!” kreun sy en gooi die eier af. Ou Jakkals vang dit in sy bek en sluk dit in. “Wanneer ek weer kom, raai ek jou aan om gouer te maak. Ek sal nie weer twee keer vra nie,” sê hy en stap die bos in.
Arme mevrou Tinktinkie se hart was stukkend en sy het aanhoudend getreur oor die verlies van haar eiertjies. Toe sy dink wat Tinktinkie gaan sê as hy huis toe kom en ontdek dat ou Jakkals weer met ‘n eier weg is, kon sy nie langer op die nes bly sit nie. Sy dink skielik aan haar tante, ou Reier, en vlieg weg om haar te gaan soek en raad te vra. Sy kry tant Reier in die vlak water waar sy paddas vang en vertel haar alles.
”O so? Dan is ou Jakkals al weer besig met kwaaddoen,” sê ou Reier. “As hy dan sy neus in ons sake wil steek, is dit hoog tyd dat ek hom ‘n deeglike les leer. Gaan jy nou maar huis toe en gaan sit weer op jou nessie. Ek sal môre nog voor ou Jakkals daar by jou wees.”
Die volgende môre sit mevrou Tinktinkie weer op haar nessie. Tant Reier is ook daar. Sy sit hoog verskuil in die wilgerboom, regoor die nessie van die Tinktinkies.
Dit was ook nie hoe lank nie of ou Jakkals was weer daar. Hy begin weer kordaat teen die boomstam krap en sê: “Gooi my ‘n eier af, of ek kom jou opeet.”
“Maak asof jy ‘n eier afgooi,” fluister tant Reier.
“Mevrou Tinktinkie maak asof sy dit gaan doen en sê: “Goed Jakkals, hier is dit.”
Ou Jakkals staan gereed op sy agterpote en maak sy bek wyd oop. Hy knyp sy oë toe. Hy verbeel hom hy proe al die heerlike smaak van daardie eier! Op daardie oomblik leun tant Reier effens vorentoe. Sy maak haar snawel oop en gooi ‘n vet ou spartelende platanna-padda agter in ou Jakkals se keel.
Dit was nou 'n spektakel! Ou Jakkals begin stik en hy probeer skreeu. Toe spring hy op en rol op die grond rond. Hy probeer die padda uithoes, maar daardie ou vet platanna het kop eerste in sy keel afgeduik en hy skuif al verder tot hy in Jakkals se maag te lande kom. Hy voel ‘n vreeslike gewriemel en geskop in sy maag en hy skrik so groot dat hy daar wegspring en begin hardloop dat die stof so staan. Elke keer as die padda opnuut in sy maag amok maak, skrik hy nog groter en laat waai so vinnig oor die bulte dat hy net hier en daar grondvat. Hy het later so opgeswel dat hy net kon rol. Toe hy eindelik weer tot sy sinne kom, kon hy nie eers meer onthou watter dag van die week dit was nie.
Wanneer die voëls ou Jakkals nou raakloop, begin hulle gereeld te snater. Hulle vra vir hom of hy van tinktinkie-eiers hou en dit maak hom so skaam dat hy nie sy stert wil oplig nie.