BOEKRAK VIR AFRIKANERTJIES
Lees nog storietjies by Boekrak vir Afrikanertjies
Op ‘n goeie dag loop klein Haas langs die spruit af en sien ‘n helder kuil water waarin ‘n aantal silwervissies swem. Hy was baie lief vir vis en gaan sit op die wal en dink hoe hy, sonder om in die water te spring, van hulle kan vang. Toe kom Skilpad daar aan en plomps ewe lui die water in en hang daar met sy kop net bo die water.
Toe Haas hom sien, sê hy: “Allawêreld Skilpad, maar jy lyk baie tuis in die water, né?”
“Ja, ek is tuis,” sê Skilpad. Hy draai nie eers sy kop toe hy met Hasie praat nie. Hy draai net sy een oog half om en dink dis heeltemal genoeg.
“En wat doen jy wanneer jy tuis is?”
“Wat ek nou doen,” sê Skilpad.
Haas swaai sy ore van verbasing. “Maar jy moet tog eet. Wat doen jy dan?”
“Eet,” sê Skilpad.
“O,” sê Haas, “dan moet jy seker ook af en toe ‘n beweging maak.”
“Ek hoef nie te beweeg nie; ek is op die oomblik besig om hierdie waterbossies te eet.”
“Ag so?” sê Haas. Hy voel al so knorrig dat hy die grond met sy agterpoot kan skop en oor sy eie skaduwee spring. “Jy is so lui dat jy liewer bossies eet in plaas van die lekker vissies wat rondom jou swem!”
“Ek eet nie sulke goed nie. Bossies is baie lekkerder."
“Jy kan al die bossies hou as jy my net die vissies gee.”
“Ja, ek sal die bossies hou en jy kan die vissies hou.”
“Dit is goed,” sê Haas, “maar ek het my Sondagsklere aan en ek kan hulle nie natmaak nie. Dink jy nie jy kan vir my ‘n paar van hulle vang nie?”
“Wat dink ek? Ek dink jy mors jou tyd.”
Klein Haas voel al of hy kan slange vang, maar hy hou hom in. “Kyk hier, as jy vir my ‘n paar vissies vang, bring ek vir jou ‘n klomp heerlike groente van die plaas hier naby.”
“Groente? Sies! Ek hou van bossies.”
“En as die bossies opraak?”
“Daar is nog meer bossies in die ander kuil.”
“En as hulle opraak?”
Toe lag ou Skilpad hom byna dood, tot groot ergernis van klein Haas. “Goed Skilpad,” sê Hasie vies, “vreet maar jou bossies,” en hy spring weg.
Hy gaan nie huis toe nie. Hy gaan ou Ratel opsoek om by hom heuning te gaan kry. Maar ou Ratel het nie meer heuning nie. Al wat in die heuningnes oorgebly het en wat Ratel nie opgeëet het nie, is net ‘n paar druppels en skraapsels, wat Hasie toe in ‘n kalbassie versamel en daarmee terugkeer na ou Skilpad in die waterkuil.
Hasie kom al bokspringende nader. Hy hou die kalbas met een hand in die lug en klop met die ander hand daarop onderwyl hy sing: “Hasie Kalabassie, kadoem, doem, doem…!”
Ou Skilpad se bek hang oop van verbasing. Hasie sien dit en spring nader. Hy steek ‘n lang veer in die kalbas en met ‘n druppeltjie heuning daaraan, druk hy dit in Skilpad se mond.
“Ai, dis lekker,” sê hy. “Gee my nog ‘n bietjie.”
“Ag kyk nou! Vanmôre was jy so onbeskof toe ek vir jou ‘n paar vissies gevra het en nou wil jy van my lekkernye hê, né? Wat sal jy my gee?”
“Ek sal vir jou vis gee as jy vir my weer van daardie soet goed gee.”
“Goed Skilpad. Vanmôre het jy gelag; nou lag ek. Ek wil tien vissies hê.”
“Goed,” sê Skilpad. “Kom binne ‘n halfuur terug, dan sal ek hulle hê.”
Hoe ou veldskilpad so lekker in die water kan boer en hoe hy die vissies vang, weet ons nie. Maar toe Hasie terugkom, lê daar tien vissies op die wal. Hy moet hulle nou met heuning betaal. Hy sê vir Skilpad om sy oë toe te maak en sy mond oop te rek. Hy stryk die veer stadig deur die ou se mond en steek hom toe vinnig in sy keel af en trek hom weer uit. “Is dit nou nie lekker nie?” sê hy.
Ou Skilpad rek sy mond nog wyer oop en vra nog meer daarvan, maar Hasie bly in sy keel in afkyk tot Skilpad vra: “Waar is die ander heuning?”
“Dit is wat ek graag wil weet,” sê Haas. “Ek het al die heuning in jou keel afgegooi en nou kan ek nie sien waar dit is as ek in jou keel kyk nie. Dit het seker vinnig deur jou keel gegly en toe in jou maag geval.”
Ou Skilpad kon hierdie verduideliking nie mooi kleinkry nie en vra toe: “Wanneer kan ek weer heuning kry?”
“Wanneer ek weer vissies nodig het,” sê Haas.
Toe hy die volgende dag weer daar aankom met sy “Hasie Kalbassie, kadoem, doem, doem,” hou ou Skilpad sy een oog op ‘n skrefie oop toe Hasie hom sogenaamd met heuning voer en gewaar toe dat hy maar net een druppeltjie inkry. Hasie het sy bes gedoen om vir Skilpad weer om die bos te lei. Maar hy moes uiteindelik erken dat daar geen heuning in die kalbas was nie. Hy belowe vir ou Skilpad dat hy die volgende dag sommer twee kalbassies vol heuning by ou Ratel sal gaan haal.
Skilpad is vasberade om saam te gaan, want hy wil hierdie heuning-raaisel nou vir goed oplos. Elke slag moet hy tien vissies opdok vir net een druppeltjie heuning. Hulle val in die pad, maar toe Skilpad vyf tree geloop het, was Hasie al honderd tree voor hom. Dan draai Hasie terug en sê: “As jy nie vinniger maak nie, sal ons nooit by die heuning uitkom nie.”
So het dit ‘n paar keer aangegaan totdat Hasie heeltemal oor die bult verdwyn het. Skilpad het gesê: “Ek sal daar uitkom,”
Maar Hasie het nie van Skilpad vergeet nie. Hy het maar net daar weggebly omdat hy bang was dat Skilpad miskien sou wraak neem oor al die onreg wat hy hom aangedoen het.
Op ‘n goeie dag draf Haas uit die bos op ‘n kaalte uit en sien ‘n plaas voor hom lê. ‘n Entjie van die woonhuis af is daar ‘n mooi tuin met groot perskebome, wat vol sit van ryp, groot nooiensperskes. Ou Hasie kry so lus daarvoor dat hy besluit dat hy van die perskes moet hê, kom wat wil. Hy sien dat die tuin dig omhein is met turksvye- en garingbome, sodat ‘n rinkalsslang skaars daar sou kon deurkom. Hy sien ‘n klipkoppie agter die huis en tuin en spring weg daarheen.
Onder teen die koppie sien hy twee honde onder ‘n boom lê. ‘n Seun kom uit die tuin met ‘n hoedvol van die lekker rooi perskes en gaan onder die boom sit om daarvan te eet. Hasie bekyk hulle goed en kruip toe tussen die klippe en die bossies teen die koppie af tot omtrent veertig tree van die seun af en spring toe uit, maar na ‘n paar tree val hy plat, asof hy vir die seun wil wegkruip. Die seun gee ‘n skree en spring op. Hy spoor die honde aan: “Saa, saa Boelie! Vat hom, Wagter!”
Dis net wat klein Haas wil hê. In die tyd wat dit die seun neem om op te spring en die honde agter hom aan te sit, stryk Hasie al die koppie om. Hy jaag teen die rantjie uit en gaan lê agter ‘n groot klip. Hy wag tot die seun en die honde verby gestorm het. Toe hardloop hy terug, tel die perskes op en maak dat hy wegkom.
Die perskes smaak so lekker vir Haas dat hy begin te dink hoe wonderlik dit sal wees om sy eiebome te hê, waar hy na hartelus perskes kan pluk sonder om deur honde rondgejaag te word. Net daar kry hy toe die plan om weer vir Skilpad op
Ou Skilpad was al weer tuis na sy lang staptog om heuning te gaan soek, maar hy lyk nog luier as ooit en hy knip nie eers ‘n oog toe Hasie daar aankom nie.
Haas skree vir hom: “Kyk hier, Skilpad, ek het ‘n geluk getref! Ek het perskes, en omdat ek en jy groot maats is, gaan ek nou vir jou die lekkerste een van die twee gee.”
Voordat Skilpad hom kon kry, is hy uit die water en neem die perske wat Haas hom aanbied. Hulle sit daar op die wal en elkeen eet sy perske met smaak op.
Toe sê Haas: “Skilpad, ek het gedink ons kan hierdie pitte plant en ons eie bome kweek. Dan sit ons onder hulle skaduwee en kyk hoe die perskes ryp word. Wat sê jy daarvan?”
Skilpad stem in en hulle plant die twee pitte. Die boompies kom op en groei mooi. Maar toe word dit baie droog en hulle moet elke dag water kry. Ou Skilpad is van die môre tot die aand besig om in sy mond vir sy boom water aan te dra, maar Haas doen niks. Uiteindelik is sy boom van droogte dood, terwyl Skilpad s’n vol sit van heerlike groot nooiensperskes.
“As jy nou jou boom ook natgegooi het, het jy ook nou lekker perskes gehad,” sê Skilpad.
“Ja, maar hoe gaan jy daardie perskes in die hande kry om te eet?”
Ou Skilpad het nie geweet nie, maar hy het darem geweet dat hy nie in ‘n boom kan klim nie.
“Sal jy dit nie vir my gaan afpluk nie?”
Ou Hasie is baie gewillig. Hy maak hom toe bo in die boom tuis en begin heerlik te smul aan ou Skilpad se perskes. Maar toe moes jy ou Skilpad hoor skree: “Hier jy! Waarom eet jy my perskes?”
“Omdat hulle lekker is! Vat so, hier is vir jou ook iets!” Hy laat ‘n pit op Skilpad se neus val. “Gaan plant die pit, dan sal jy netnou weer jou eie perskes hê en my nie so staan en beloer as ek perskes eet nie.”
Ou Skilpad kry byna die stuipe. Hy slaan amper hals-oor-kop soos hy skree: “Klim af uit die boom! Dis my perskes daardie!”
“Haai, is dit jou perskes? Klim dan in die boom en kom pluk ‘n paar daarvan voordat ek hulle almal opgeëet het.”
“Jy dink jy’s baie slim, né? Maar wag ‘n bietjie, ons sal sien.” Hy draai om en waggel langs die spruit af en gaan haal al die skilpaaie in die omgewing. Toe Hasie weer afkyk, sien hy hulle het die boom se stam toegepak en hulle knaag met lus daaraan.
“Nou sal ons sien hoe jy gaan lyk as ons met jou klaar is,” sê Skilpad. Maar Hasie gaan maar aan om perskes te eet totdat daar naderhand niks meer oor was nie. Skilpad sien dit en brul: "Ek gaan al daardie perskes uit jou uitklop!"
Naderhand kraak die boom en Skilpad staan gereed om vir Haas beet te kry, maar toe hy weer kraak en val, wip Haas losvoetig oor al die skilpaaie en skree: “Wie gaan my nou uitklop?” Hy skarrel weg en verdwyn oor die rantjie.
Maar die skilpaaie was nog nie klaar met hom nie. “Ek weet wat hy nou gaan doen,” sê ou Skilpad. “Hy loop nou net oor die bult en gaan lê onder ‘n bossie en slaap, want hy is só dik geëet aan my perskes dat hy nie meer verder kan nie. Ons gaan nou ‘n groot kring om hom trek en as hy weer begin hardloop, spring een van ons voor hom op. Dan spring hy om en hardloop terug, maar een van ons keer hom weer voor. Hy slaan dan ‘n ander koers in, maar loop hom weer teen een van ons vas, tot hy hom flou gehardloop het. Dan het ons hom.”
Ou Skilpad se plan het mooi uitgewerk. Ou Hasie was naderhand so flou gehardloop dat die skilpaaie hom in ‘n kring kon omring. Gelukkig vir hom, sien hy toe ‘n erdvarkgat en spring daarin. Die skilpaaie het hulle kring nouer om die gat getrek en hulle klaargemaak om die wag te hou totdat Haas besluit om uit te kom. “Dan het ons hom mos,” sê ou Skilpad.
Maar die vleigrond waar ou Erdvark hierdie gat getonnel het op soek na uintjies en knolle, was bros en sag. Hasie het net ‘n ent verder gegrawe en anderkant die skilpadkordon boontoe gekom en laat spat.
Die skilpaaie het baie dae lank tevergeefs rondom die gat gewag. Ou Skilpad het naderhand vergeet waarom hulle daar waghou. Toe hy baie honger word, het dit hom bygeval dat daar langs die spruit lekker waterbossies groei en het hy weer na sy ou tuiste teruggegaan.
So het Hasie gewoonlik die meeste diere uitoorlê omdat hy vinnig en slim was, al was hy so vreeslik lui.