MIEKIE-MUIS OP STREEPMUIS- DRAAI

BOEKRAK VIR AFRIKANERTJIES

Lees nog storietjies by Boekrak vir Afrikanertjies

Op ‘n lae veldstoeltjie voor haar agterdeur sit Griet, die ma-muis, en kouse stop.  Die lang stinkgraspol se skaduwee rek al lank oor die grond.  Die son sal netnou ondergaan en sy sal moet gou maak om die stopwerk klaar te kry voordat haar man, Piet-muis en haar dogter, Sarie-muis, uit die koringland aankom.  Hulle het vroeg vanmiddag al daarheen gegaan met twee okkerneutdop-emmertjies om ‘n bietjie koring te gaan oes.

Griet-muis se seun Gert is ook nie tuis nie.  Hy het vanmôre sy beste klere aangetrek en toe na Streepmuisdraai, die muisdorpie agter die bult, gestap om ‘n bietjie die jongste nuus in Muisland te gaan verneem en sommer vir sy ma ‘n bietjie kaas en makaronie te gaan koop.  ‘n Muis word darem so moeg om hier op die plaas net van koring te lewe.

Daar kom Piet en Sarie ook net aan.  Hulle dra sommer so skeef aan die twee emmertjies vol koring.  Piet vee die sweet uit sy snorbaard en sug:  “Ag, dis darem maar swaar vir ‘n muis om ‘n boer te wees!  Ek dink ons moet ook maar dorp toe trek.”

“Dis glad nie so erg nie,” sê Griet.  “As jy heeldag jou meisiekinders se kouse moet sit en stop, sal jy eers agterkom wat swaar is.  Sarie, hoe kry jy en Gert julle kouse so flenters?”

“Ag Ma, dit was nou die aand toe ons hier op die werf gespeel het, toe ou Grootoog die uil ons amper gevang het.  Net toe ons by die agterdeur aangehardloop kom, stamp boet Gert my om, om eerste in te wees en toe het my kouse so geskeur.”

Griet staan met ‘n sug op om die aandete vir haar muisfamilie te gaan klaarmaak.  Hulle sal vanaand maar weer met koringpastei tevrede moet wees.

Na ‘n rukkie kom Gert ingestap en sit ‘n paar pakkies op die tafel neer.  “Naand Pa, naand Ma, naand Sus,” groet hy.

“Naand Gert,”  groet sy pa.  “Maar waarom kom jy so laat?  Weet jy nie dat ou Swartjan, die boer se kat, saans hier naby die koringland in die vlei rondloop nie?”

“Ag ja,” sug sy ma, “muiskinders-grootmaak is nie ‘n maklike taak nie.”

“Maar Pa, ek moes byna die heeldag toustaan voor ou Rietrot se winkel om hierdie stukkie kaas in die hande te kry.  Die dorpsmuise staan sommer so ’n lang ry tot wie weet waar in die straat.  Die ou staan met sy krom neus agter die toonbank en byt vir elkeen net so ’n klein blokkie af.  Hulle sê al die fabrieke in Muisland staak en daar gaan hongersnood kom.”

“Het jy vir my suikerklontjies gebring?” wil Sarie weet.

Spoedig sit die hele muisfamilie om die tafel geskaar en geniet ‘n heerlike aandete van fyngeknibbelde kaas oor ‘n skeppie koringpastei gestrooi.  Daarna haal Gert uit sy baadjie se binnesak ‘n uitgawe van Die Muislandse Dagblad  en begin die nuus hardop voor te lees terwyl sy ma en Sarie solank die skottelgoed was.  Sy pa stop sy pyp vol wilde-alsblaartjies en pof dat die blou dampe so tussen sy yl snorbaard deur walm.

“Die hele Streepmuisdraai is in rep en roer,” vertel Gert.  “Omtrent al die muise van die dorp was vandag voor ou Skeerbekmuis se winkel om nuwe klere te koop.  Almal praat net van die hoë meneer Miekie-muis, die burgemeester van Rottedom, wat volgende week ons dorp gaan besoek.  Luister net, hier staan dit in die koerant ook.”  Hy lees:  “Sy hoogedele meneer Miekie-muis, die burgemeester van Rottedom, en mevrou Minnie-muis, wat met hulle twee dogters ‘n reis deur Muisland doen, sal aanstaande week ook die dorpie Streepmuisdraai besoek.  Hulle sal…”

“Allawêreld!” skree Sarie tussenin.  “Ons gaan ook soontoe, né Pa?”

Piet klop sy rietpyp teen sy molvelskoen uit en sê stadig:  “Ag, wat sal ons ou plaasmuise nou daar by so ’n hoë meneer gaan maak?”

Maar Griet, sy vrou, laat haar hoor:  “Ag ja wat, ou man, ek dink ons kan gerus gaan, want ons kinders het nog nooit so ’n hoë muis uit die adelstand gesien nie.”

Die gevolg was dat Piet die volgende dag sy ou Fordjie onder die haak-en-steekbossie uittrek om met sy familie dorp toe te ry om nuwe klere te gaan koop.  Gert pomp die bande op wat al pap geword het van die lank staan.

“Moenie die regtervoorwiel so hard pomp nie,” sê sy pa.  “Die soetdoringgom waarmee ek sy barste toegesmeer het, klou nie te goed nie en as die wiel op die pad dorp toe bars, dan sit ons.  Die muiskontroleur sal ons nie ‘n permit vir ‘n nuwe een gee nie.”

In die dorp is Griet en Sarie in ou Skeerbekmuis se modewinkel besig om deftige rokke aan te pas.  Piet en Gert en ou meneer Kakierot die spekulant, staan op die stoep die land se muissake en bespreek.

Toe Piet die aand weer huis toe ry, was die geslepe meneer Skeerbekmuis ‘n hele klomp muissente ryker en Griet en Sarie het elkeen ‘n nuwe rok gehad.

Die volgende oggend het Piet-muis en sy seun ‘n klompie vars koringare gaan afpluk en dit toe na ou Witrot se meul by die watervoor geneem om te laat maal.  Ou Witrot staan met sy arms in sy sye geplant.   Hy het 'n wit voorskoot aan.  Hy staan hulle in die deur en inwag en groet ewe vriendelik.

“Kyk Witrot, ek wil spogmeel hê, en dit moet spierwit wees, want dis vir die besoek van die hoë meneer Miekie-muis, hoor.”

“Die miel, hy sal goed wies soes altyd, miester Piet-muis, maar ekke kan nie sief die miel nie.  Ekke sal muistronk toe gaan!”  Hy trek sy skouers op en sy stert swaai heen en weer soos hy beduie.

Griet die ma-muis moes toe maar growwe beskuit bak vir padkos.  Toe die groot dag aanbreek, was alles gereed.  Piet ry met sy ou Fordjie al met die muispaadjie langs na Streepmuisdraai.  In die dorp gaan hulle eers by nig Vaalmuis aan en trek daar hul beste klere aan.  Daarna stap hulle na die hoofstraat, want Piet is bang om in so ’n groot gewoel te bestuur.

Die hele Streepmuisdraai is reeds in rep en roer en al die muise van die naburige muisdorpe het ook gekom om die hoë besoeker te sien.  Piet stap met sy familie na die stadsaal waar die meeste muise saamdrom.  Jy sien net beentjies en stertjies roer en almal gesels opgewonde deurmekaar.  In die lug bokant die dorp draai ‘n paar vliegtuie rond en die muiskindertjies sit laggend op hul agterpootjies daarna en kyk.

Meteens kom die geroep:  “Gee pad voor, hulle kom!”  Die muise gaan staan eerbiedig aan die kant van die straat en kyk nuuskierig na die groot blink motor wat stadig aangery kom.  Meneer Miekie-muis en mevrou Minnie-muis sit agter in die oop voertuig en hul twee dogters sit voor langs ‘n deftige klein skeerbekmuisie wat die motor bestuur.  Hulle wuif vriendelik vir die muise en almal skree hard hoera!  Meneer Miekie-muis se keil sit skeef op sy kop en mevrou Minnie-muis lag met wyd-oop mond.  Daarop begin die dorpsorkes van Streepmuisdraai ter ere van die hoë besoekers die Muislandse volkslied speel en almal staan eerbiedig stil.

Voor die stadsaal hou die motor stil en meneer Miekie-muis, die burgemeester van Rottedom, gaan staan regop en hou ‘n toespraak terwyl al die muise kort-kort hande klap en skree.

“Wat sê hy, Pa?” wil Gert weet.  “Ek kan niks ver-staan wat hy sê nie.”

“Hy praat die muistaal van Rottedom.  Hy kan nie ons Streepmuise se taal praat nie.”

Daarna het al die muise nadergestaan en om die motor heen gedrom om goed te sien hoe dié hoë familie lyk.  Meneer Miekie-muis het selfs met die vernaamste inwoners ‘n paar woorde gepraat voordat hulle weer na die volgende muisdorp vertrek het.

Laat die middag het Piet-muis en sy familie weer in hulle Fordjie na die plaas teruggery.  Piet was baie bly toe hulle weer in hulle muishuisie onder die stinkgraspol kon inkruip, want hy het baie moeg gevoel.

“Ag wat,” het Sarie gesê toe hulle eindelik die aand gaan slaap, “hulle het vir my maar net soos gewone muise gelyk.”

“Ja,” sê Gert, “net hul ore en monde is baie groter as ons s’n.  As hulle vir Pa en Ma en ons twee so mooi aantrek en in so ’n blink motor laat ry, sal ons baie mooier lyk.”

“Oos wes, tuis bes,” was Piet die pa-muis se gedagte.