BOEKRAK VIR AFRIKANERTJIES
Lees nog storietjies by Boekrak vir Afrikanertjies
Tyl Uilspieël se pa is dood toe hy nog ‘n jong seun was. Omdat Pa Uilspieël in sy lewe nooit veel van werk gehou het nie, het sy mense ná sy dood heeltemal onversorg agtergebly.
Terwyl Ma Uilspieël droewig sit en huil, kom die jong Tyl op haar af. “En nou, Ma?” vry hy.” “Wat makkeer?”
“Jou pa is dood,” snik sy. “Wie sal tog sy plek kan vul?”
“Ek, Ma,” antwoord Tyl.
“Jy?” sê sy ma. “Jy lyk ‘n mooi bog.”
“Geen my net ‘n bak pap, dan sal ek Ma wys,” antwoord hy.
“Hoe bedoel jy nou?” vra sy.
“Ma het mos altyd gesê Pa dra meer pap in sy maag by die deur uit as wat hy brood in sy hande inbring.”
“Jou ongepoetste kind!” roep sy ma uit en gee hom ‘n oorveeg. “Het jy dan geen respek vir die dode nie?”
Huil-huil gaan Uilspieël langs die straat sit, toe ‘n skeel vrou daar verbykom. “Wat makeer, my kind.” vra sy.
“My ma het my geklap omdat ek die waarheid gepraat het,” snik Tyl.
“Siestog,” sê die vrou. “Dis darem nie mooi van haar nie. “Daar is so baie mense wat leuens vertel dat ‘n mens nie die waarheid kan straf nie. Hier, gaan koop maar vir jou ‘n bietjie lekkers.” En sy stop Uilspieël ‘n oulap in die hand.
“Dankie, skeel vrou,” sê Uilspieël.
“Wat!” roep die vrou uit, en sy gee hom ‘n oorkonkel. “Het jy dan geen respek vir ‘n grootmens nie?” Toe stap sy woedend weg.
“Ai!” sug Uilspieël.
Die waarheid maak mens bitter seer –
dis nie altemit nie:
ding ding wat almal so begeer,
maar niemand wil besit nie.