JAKKALS WORD LUIPERD- WAGTER

BOEKRAK VIR AFRIKANERJIES

Lees nog storietjies by Boekrak vir Afrikanertjies

Nadat Jakkals vir ou Wolf met die biltong en by sy pratende huis weer so uitoorlê het, het ou Wolf amper geen rus of duurte gehad nie.  Hy droom snags hoe hy nog vir Jakkals  gaan terugbetaal vir al die kere wat hy al onder hom deurgeloop het, maar hy kan nie ‘n plan uitdink hoe om dit te doen nie.  Toe val dit hom by dat baie diere altyd vir Wituil gaan raad vra, as hulle nie weet wat om te doen nie, want Wituil is baie slim.

Toe ou Wolf klaar sy storie vertel het, sê ou Uil:  “Wel, ou Jakkals is baie slim, maar onthou jy dat toe die diere ‘n koning gekies het, was Tinktinkie slimmer as hy.

"Ek is bietjie groter as Tinktinkie en ek dink ek kan ou Jakkals beter uitoorlê as wat hy met jou gedoen het.  Jy weet waar ou Luiperd in die kloof woon, anderkant daardie berg.  Sy het vier kleintjies en sy kry swaar om voor te bly om hulle kos te gee. Môre-oggend stap jy by ou Jakkals se huis verby, asof jy van die kloof af kom.

  Jy neem ‘n stuk heuning saam met jou en as jy by sy huis verbykom, laat jy die heuning van jou kakebene afdrup.  As hy buite in die son sit, moet jy maak of jy hom nie sien nie en verbystap.  Die volgende môre maak jy weer so.  Hy sal jou dan seker môresê, maar jy maak of jy hom nie hoor nie en loop maar net aan na jou huis.  Die dag daarna kom jy weer daar verby en dan sê jy, ‘Goeie môre’, as hy môresê.  Dan sal hy jou begin vlei om uit te vind waar jy die heuning kry.  Moenie hom sommer vertel nie.  Gee hom eers ‘n stukkie heuning wat jy in ‘n blaartjie toegevou het.  Dit sal hom mal maak om meer te kry.  Sê jy sal hom na die heuning neem as hy beloof om dit geheim te hou.

“Dan neem jy hom na die kloof en onder by die luiperd se nes en sê vir hom die heuning is daarbinne.  Hy sal inspring en dan rol jy gou ‘n groot klip voor die gat en laat hom daar staan.  Die luiperd sal doen wat nodig is wanneer sy huis toe kom.”

Ou Wolf voel baie in sy skik met hierdie plan en voer dit toe ook sommer die volgende oggend uit.  Jakkals sit onder die vyeboom by sy huis en sê niks.  Hy kyk net oor sy skouer of die deur oop is, sodat hy in die huis kan vlug as ou Wolf hom wil beetkry.  Hy sien hoe daar heuning langs ou Wolf se bek afloop en hy begin planne maak.

Die volgende dag, toe ou Wolf weer verbykom, kry Jakkals se nuuskierigheid die oorhand en hy sê:  “Môre oom Wolf,” maar ou Wolf loop verby.  Die derde dag keer Jakkals hom voor.  “Môre oom Wolf.  Ons het goeie reën gekry.  Daar is ‘n koedoe met haar kalf aan die oorkant van die spruit.  Dink jy nie ons twee kan daardie kalf gaan vang nie?”

Ou Wolf gaan staan toe stil, asof hy baie ernstig aan iets dink.  “Nee,” sê hy, “ek hou nie meer van koedoevleis nie.  Ek het my só versadig geëet aan die heuning dat ek glad nie lus het vir vleis nie.”

“Dink jy nie daardie heuning kan miskien sleg wees vir jou nie?  Dit lyk vir my so donker van kleur.”

“O, dis die donker soort.”  Ou Wolf smak met sy lippe en ou Jakkals se mond begin water.

“Oom Wolf, gaan jy my dan nie ‘n stukkie van daardie heuning gee nie?  Jy weet tog watter groot maats ek en jy is.”

Ou Wolf dink eers ‘n rukkie.  Naderhand sê hy:  “Ja ek gee nie om om vir jou daarvan te gee nie, maar ek het nog net een stuk oor en ek wil dit huis toe neem vir my vrou.”

“Jou vrou?”  Jakkals trek ‘n suur gesig.  “Wil jy regtig só verspot wees?”  Hy skud sy kop asof hy verstom is om ‘n man te sien wat so laag gedaal het. “Jou vrou weet nie dat jy daardie heuning huistoe neem nie.  Daarom kan jy dit maar vir my gee.  Wat die oog nie sien nie, kan die hart nie na verlang nie.  Jy kan dit vir my gee en sy sal dit nooit mis nie.”

“Ja, maar sy weet dat ek gaan heuning haal het.”

“Jy kan sê dat iemand jou voorgespring het en al die heuning uitgehaal het.”

“Wel,”  sê ou Wolf, “ek kan dit doen, maar ek dink ek sal spyt kry.  Hier is dit.”  Hy gee vir Jakkals die stuk heuning wat hy in ‘n blaar toegevou het.

Ou Jakkals het dit feitlik net met één hap verorber en toe was hy sommer baie lus vir nog veel meer.  "Ai, dis baie lekker, man!  Waar het jy dit gekry?”

“O, dis ‘n hele entjie hiervandaan.  Dis te ver om dit alles meteens huis toe te bring.  Ek gaan elke dag soontoe en eet my vol en bring vir my vrou ‘n stuk saam.  Daar is baie.”

“O, daar’s baie?  Kan ons nie nou teruggaan en vir jou vrou ‘n kalbasvol gaan haal nie?  Ek hét ‘n kalbas en dit sal ook niks meer as reg teenoor haar wees nie.”
Ou Wolf skud sy kop en maak of hy nie lus het om dit te doen nie.

“Wel,” sê ou Jakkals,  “ek raai jou aan om dit te doen.  Sy sal die druppels aan jou ruik en dit sien en jou nooit glo nie.  Jy weet dit.  Kom ons gaan haal nou vir haar ‘n kalbasvol daarvan.”

Ou Wolf maak of Jakkals hom omgehaal het.  “Goed, ons kan gaan, maar pasop as jy weer met jou streke begin!  Gaan haal twee kalbassies.”

“Is daar dan soveel heuning?”  Hy spring in die huis in en kom met twee nuwe kalbassies uit.  Hy knik so onderlangs vir homself en dink:  “As ék daardie heuning moet dra, dan weet ek ook wie dit gaan eet.”

Op pad na die kloof loop ou Jakkals aanmekaar en praat van die koedoe en haar kalf en watter wild hulle volgende week sal kan gaan jag en dat daar binnekort lekker waatlemoene gaan wees.

Uiteindelik kom hulle by die kloof.  Ou Wolf neem vir Jakkals na die groot rots waar Luiperd se nes is.

“Daar binne in die groot skeur is die heuning.  Die nes is agter in die hoek.  Onthou om die twee kalbassies vol te maak vir my vrou.”

Ou Jakkals lag.  Ja-nee, die kalbassies sal hy beslis vol maak.  Hy spring in die skeur in.  Ou Wolf rol dadelik ‘n groot klip voor die opening.  “Ja ou Vossie, hierdie keer was jy nie slim genoeg nie.  Jy sal netnou weet waar Dawid die wortels gegrawe het wanneer Luiperd huis toe kom en jou by haar kleintjies kry.  Verbeel jou net:  Jy gaan twee kalbassies vol heuning na my vrou toe dra, net asof ek jou ooit met heuning sal vertrou!”

Ou Jakkals hoor die klip voor die gat rol en hy spring terug om uit te kom, maar hy stamp sy kop so hard dat hy net sterretjies sien.  Hy hoor wat ou Wolf sê en trek sy neus op.  “Jy het seker gedink, as hier heuning was, sou ek dit vir jou huis toe gedra het!”

“En jy het seker gedink ek sou jou vertrou het as hier regtig heuning was!”

“En jy het gedink ek glo jou storie dat hier heuning is.  Maar hier is iets baie beter as heuning.  Hier is vier klein luiperdjies om op te eet.”

“Ja, en ‘n lekker stukkie jakkalsvleisvir die luiperd.  O tog, hier kom sy; laat ek weg wees!”

Ou Luiperd kom en sy sien die klip en sy krap dit met haar poot en sy brom,  “Wat maak dit hier?” en ou Jakkals skrik hom asvaal.  Hy moet iets doen en sommer gou ook.  Hy sê toe:  “Ek het daardie klip daar gesit.  Jy moet dit liewer nie wegrol nie.  Ek het ou Wolf hier gevang.  Hy wou jou kleintjies opeet en ek het toe ingekom en die klip vir veiligheid voor die deur gerol.  As jy rondkyk, sal jy sy spoor sien.”

Luiperd snuffel rond en kry ou Wolf se spoor.  “O so, né?  Dan wou hy my kleintjies opeet?”

“Ja, dit is so,” sê ou Jakkals.  “As hy hulle nie vandag kan kry nie, sal hy môre weer probeer.  Jy moenie die klip wegrol nie.  Ek sal jou kleintjies een vir een deur die venster vir jou aangee om te drink.  Daarna kan jy weer gaan jag en ek sal hier bly en hulle oppas  totdat hulle groot genoeg is om saam met jou te gaan”.

“Jy het ‘n goeie plan,” sê Luiperd.  “Gee hulle maar aan.”

Toe al vier klaar gedrink het en weer deur die venster terug is, sê sy:  “Pas hulle nou goed op.”  Sy gaan toe weer jag en ou Jakkals bly met die vier kleintjies in die grot agter. Hy kyk rond en sien dat hier nog nooit heuning was nie.  Maar hierdie vet luiperdjies is lekkerder en gesonder as heuning.  Ou Luiperd moet hom tog iets betaal as hy haar kleintjies oppas.  Dis altyd raadsaam om die betaling eers te kry en dan nie die werk te doen nie.  Toe eet hy een van die kleintjies op en dit smaak vir hom só lekker dat hy besluit om daar te bly totdat hy almal opgeëet het.  Hy begin toe ‘n liedjie sing oor heuning waarop hare groei.

‘n Ruk daarna kom ou Luiperd terug.  “Hoe gaan dit nou met my kleintjies?” vra sy.

“Lekker!” sê Jakkals.

“Wat sê jy?”
“Ek meen, net lekker honger.  Hier is die eerste een.”  Hy gee ‘n kleintjie aan en toe dié klaar gedrink het, gee hy die tweede aan en toe die derde.  Toe gee hy haar die eerste een weer aan.  Hy sê vir hierdie kleintjie:  “Jy kry ekstra vandag en ek gaan ook ekstra kry.”  Toe ou Luiperd weer weg is, eet hy hierdie kleintjie op.

Na ‘n uur of wat kom Luiperd weer terug om haar kinders te voed.  Jakkals gee toe die twee wat oor is elkeen tweemaal aan om te drink.  Hy voel so in sy skik met homself dat hy van pure pret daarbinne bolmakiesie slaan.

Luiperd gaan weer op jag en Jakkals eet nog ‘n kleintjie.  Toe was daar net een oor.  “Ai, dit smaak lekker!  Maar hierdie ou kleintjie lyk nie gesond nie.  Miskien sal hy beter voel as hy weer gedrink het.”

Met Luiperd se terugkoms gee Jakkals die outjie viermaal uit, maar toe was hy so vol dat hy nie meer kon drink nie.

“Hy lyk vir my maar siek vandag,” sê Jakkals.

“Ja, hy lyk treurig.  Ek wonder wat hom makeer?”

“Ek dink hierdie klip hou die vars lug uit.  Jy kan dit gerus ‘n bietjie oopskuif, maar nie te wyd nie, anders probeer ou Wolf om in te kom.”

Luiperd skuif die klip ‘n bietjie weg en die opening word net groot genoeg vir Jakkals om daar deur te kom.

“Pas daardie kleintjie veral goed op,” sê Luiperd en sy gaan weer op jag.

En so is die sluwe Jakkals luiperdwagter en –oppasser gemaak en moes ou Wolf tot vandag nog groot draai om Luiperd loop.