BOEKRAK VIR AFRIKANERJIES
Lees nog storietjies by Boekrak vir Afrikanertjies
Die swaar tyd van die runderpes was gelukkig verby, maar wild was nog baie skaars, sodat Jakkals en Wolf albei aan ‘n knaende vleishonger gely het. Jakkals het amper dag en nag geloop en dink hoe hy vleis in die hande kon kry. So af en toe was hy gelukkig genoeg om ‘n hasie te verras wat nie vinnig genoeg kon wegkom nie en selfs muise het naderhand lekker gesmaak.
Daar was ‘n boer, nie baie ver daarvandaan nie, wat ‘n klompie lekker vet skape gehad het. Dit sou vir Jakkals maklik wees om die kraal in die nag te besoek en hom trommelvol aan skaapvleis te eet, maar ou Vossie weet goed dat die boer dan die volgende dag, wanneer hy die skade wat aan sy kudde berokken is, ontdek, sy honde sal neem om die skelm te gaan soek. Hy sal dan onkapabel wees om weg te hardloop, want hy sal só vol vleis wees dat hulle hom maklik sal vang.
Onderwyl hy loop en planne maak hoe om die vleis te bekom sonder om gevang te word, kom ou Wolf soos gewoonlik in sy gedagte. Ja nee, hy moet ou Wolf hierby insleep om vir hom die kastaiings uit die vuur te krap. Hy begin dadelik ronddraf en rondloer of hy ou Wolf nie gewaar nie. Toe hy hom sien, sak hy dadelik op sy pens neer en maak of hy iets bekruip. Ou Wolf het hom gesien en hou hom nuuskierig dop. “Ek wed daardie ou skelm is agter iets goeds aan,” dink ou Wolf. “Ek gaan hom agternasit en kyk of ek nie ook iets kan kry nie."
Ou Jakkals maak of hy hom nie sien nie en kruip maar aan in die rigting van die skaapkraal. Hy gaan lê agter ‘n groot klip. Ou Wolf kom aangesluip tot hy skielik op ou Jakkals afkom. Hy skrik hom asvaal en weet nie wat om te sê nie.
“O, dis jy, né! En jy kruip al agter my aan! Ja nee, ek het altyd gesê jy is die slimste ou takhaar hier in die onderveld. Kyk, dit was baie skelm van jou om my so te bekruip, maar nou is die koeël deur die kerk en moet ek jou maar in die geheim inlaat. Sien jy daardie kraal? Dis vir hom wat ek in die oog het. Maar ek gee nie om nie. Daar is genoeg vir ons altwee en vir nog een en veertig, en vanaand is net so goed soos môreaand.”
Ou Wolf voel vreeslik skaam dat ou Jakkals hom so uitgevang het, maar hy is bly dat hy so goedkoop daarvan afkom. Hy sit kop onderstebo en trek ‘n nors gesig sodat Jakkals dit nie moet agterkom nie.
“Daar is genoeg vir ons twee? En hoeveel is dit?”
“Jy kan hulle tel wanneer hulle vanaand kraal toe kom. Wag net hier en jy sal sien hoe hulle die kraal sommer wit maak. En vet! Hulle dril van vet wanneer hulle loop.”
Ou Wolf voel of sy mond wil begin water. “Is hulle só vet? En is jy seker dat ons hulle kan bykom?”
“Hulle kan bykom? Ag man, wag net so ’n rukkie. Dan sal jy sien of ons hulle kan bykom.”
Hulle sit en wag. Die son gaan onder en daar kom die skape die kraal in en die boer kyk hulle deur. Dan maak hy en die wagter die kraalhek dig toe en gaan huis toe.
Ou Jakkals wag tot dit pikdonker is voor hy sê: “Kom ons gaan.” Hulle beweeg soos skaduwees en kom by die kraal. Hulle mage is só dun van die honger dat hulle sommer losklou oor die kraalmuur spring. Elkeen gryp ‘n slapende skaap, byt hom dood en begin eet. Die leë mage word naderhand vol en ou Jakkals loop na ‘n skuiwergat in die kraalmuur om te meet of hy nog daar sal kan deurkom, as hulle moet vlug.
“Hier jy! Wat maak jy daar by die skuiwergat?” roep ou Wolf.
“Ek kom maar net kyk of die boer nie aankom nie. Hierdie skape blêr so hard.” Hy voel tevrede dat hy nog sal kan deurglip en gaan terug om nog ‘n bietjie weg te lê aan die heerlike vleis. Na ‘n rukkie gaan hy weer meet, maar toe hy ‘n derde keer weer daar kom, voel hy dat hy skaars sou kon deurskuur. Hy voel vreeslik jammer dat hy soveel vleis in die kraal moet los en beur met moeite deur die skuiwergat na buite.
Jakkals weet dat hy nou met boer en sy honde moet rekening hou en daarom het hy vir ou Wolf in die prentjie laat kom. Hy weet dat ou Wolf nog aanhou met eet en dat hy skaars deur die hek sou kom, al was hy ook oop. Maar deur die skuiwergat sal hy nie kom nie, al kry al die honde hom ook aan sy stert beet.
Dis waarop Jakkals gereken het. Hy kruip versigtig onder ‘n deurmekaarbos in wat naby die kraal staan en skree tweemaal net so hard as wat hy kan: “Boer, boer, ou Wolf is in jou skaapkraal!”
“Ja nee kyk, nou is ek veilig,” dink hy. “Die boer en sy honde sal ou Wolf in die kraal kry en sien wie die kwaad gedoen het. My maag is so vol dat ek skaars kan loop en glad nie kan hardloop nie.”
Maar hy moes tog sorg dat hy daar wegkom, want die boer het die geskree gehoor. Hy en sy werkers en sy honde kom na die kraal aangehardloop. Ou Wolf hoor hulle kom en spring na die skuiwergat en duik in. Sy kop gaan deur, maar toe sit hy vas en voordat hy kon begin spartel, kry boer hom aan sy stert beet en pluk hom weer in die kraal in.
Arme ou Wolf! Toe die boer en sy honde met hom klaar is, gooi sy werkers hom soos ‘n lewelose ou skaapvel oor die kraalmuur. Daar lê hy toe soos die dooiste ding wat ooit gelewe het. Daarna is die boer, sy werkers en sy honde weer huis toe om te gaan slaap.
Ou Jakkals was naby genoeg om dit alles te sien. Teen dagbreek begin ou Wolf se een been roer. Met sonop roer sy stert en dit was nie lank nie of hy skraap alles wat van hom nog oor was, bymekaar en hy sluip stadig en kreunend van die kraal af weg, want hy weet die boer sal netnou terugkom om hom af te slag en ‘n karos van sy vel te maak.
Ou Jakkals sien vir Wolf stadig voortsukkel en hy besef dat hy self ook moet huis toe gaan. Maar hoe moet hy dit doen? Sy maag is so vol dat hy skaars kan loop. Maar waarvoor is ou Wolf dan daar? Wolf sal hom moet huis toe dra.
Ou Wolf sleep sy gepynigde ou lyf moeisaam huis se kant toe. Skielik kom hy op ou Jakkals af. Hy lê op sy rug met sy pote in die lug en dit lyk of hy ‘n myl anderkant dood is. “So by my kool,” sê ou Wolf, “dood of nie dood nie; ek gaan sy oor afbyt. Dit sal hom leer om die boer en sy honde op my te sit.”
Ou Jakkals het hom gehoor en hy maak sy oë oop. “O só né? Dit is hoe jy my wil betaal omdat ek jou saamgeneem het en jy geëet het tot jy wil bars. Jy vreet eers klaar en dan skree jy: ‘Baas, baas, ou Jakkals is in die skaapkraal!’ En dan kom hy met sy honde en maak my die dooiste Jakkals wat jy nog ooit gesien het. As ek ooit weer gesond word, sal ek jou nooit weer vertrou nie.” Ou Jakkals gee ‘n paar skoppe en dop sy oë om asof hy sy laaste asem uitblaas.
Ou Wolf is so verbaas dat hy op sy stert gaan sit. “Kyk, ek gaan dol word. Ek het jou met my eie ore gehoor skree, ‘Wolf is in die skaapkraal’, en nou wil jy sê dis ek wat geskreeu het. Dis darem te erg.”
“Wil jy sê dat ek jou nie gehoor skreeu het dat ek in die kraal was nie?” brom Jakkals.
“En wil jy sê dat ek jou nie gehoor skreeu het dat ek in die kraal was nie?” brom ou Wolf.
Ou Jakkals maak skielik asof hy skoon dronk-geslaan is. “Kyk hier, oom Wolf, hierdie ding lyk baie snaaks. Iemand moes geskree het dat ons in die skaapkraal is, of hoe het die boer daar gekom? Wie kon dit wees as dit nie jy was nie? Of anders … so by my siel, dit was seker daardie ou bobbejaan. Ek het hom daar by die huis aan ‘n ketting gesien en hy het my suur aangekyk omdat ek vry is en hy nie. Maar ek kan dit nie glo nie. Kan jy?”
Ou Wolf dink aan al die kattekwaad wat ou Bobbejaan al aangevang het. Naderhand is hy seker dat ou Bôgom die skuldige is en hy wil die ou sommer daar en dan gaan bykom.
Ou Jakkals keer. “Ja, maar ons moet eers huis toe gaan. Jy kan nog loop, maar ék, ek weet nie wat om te doen nie. Ek voel so naar.”
Ou Wolf dink diep. Hy voel ook vreeslik naar, maar ou Jakkals het tog die lekker skaapvleis met hom gedeel en hy het hom vol geëet. Hy gaan nie so ‘n ou maat in die steek laat nie. “Wel,” sê hy, “ek voel ook baie naar, maar as jy op my rug kan klim, sal ek probeer om jou huis toe te dra.”
“Ag nee, jy lyk so naar! Sal jy dit kan doen?” Ou Jakkals frons asof hy wil steun, maar dit is net om ‘n lag te onderdruk. “Ag dankie tog, jy sal my maar moet dra. Ek kan nie loop nie.”
“Klim op man en hou op met praat.” Hulle spartel en kreun en steun en uiteindelik sit Jakkals hoog en droog op Wolf se rug. Die ruiter en sy perd sukkel moeisaam aan huis toe. Die onnutsige Jakkals voel baie plesierig en begin saggies te sing: “Die sieke dra die gesonde! Ag hoe lekker tog! Die sieke dra die gesonde!”
“Wat sê jy?” Ou Wolf gaan staan en maak gereed om ou Jakkals van sy rug af te smyt.
“O,” sê ou Jakkals, “ek sing maar net, ‘die gesonde dra die sieke’.”
“O, dit het vir my gegaan of dit net andersom was.” Hy loop weer aan.
Toe hulle naby Jakkals se huis kom, kon die ou Vos hom nie meer inhou nie. Hy gee ‘n skop en spring oor ou Wolf se kop en begin rondom hom dans en sing weer, “die sieke dra die gesonde.”
Ou Wolf lê magteloos op die grond, té gedaan om Jakkals by te kom. “Wag maar tot ek jou weer in die hande kry,” kreun hy.
“Ja, wag maar,” juig Jakkals en hy skater dit uit van die lag.
Ou Wolf wag van daardie dag af glo nog al die tyd dat daar ‘n geleentheid moet kom om ou Jakkals te straf, maar dit het nog nie gebeur nie.