DIE VOËLS HET GEEN KONING

BOEKRAK VIR AFRIKANERJIES

Lees nog storietjies by Boekrak vir Afrikanertjies

Elke jaar wanneer die somer verby is, vlieg daar duisende voëls na ander lande en bly daar tot die winter hier verby is voordat hulle weer terugkeer.  Die voëls wat nie saamgaan nie noem hierdie trekvoëls die “Uitlanders.”  Hulle is baie ontevrede omdat hierdie voëls elke somer die room van die land kom wegvreet en wanneer die winter aankom, hulle vleuels in die wind slaan en maak dat hulle wegkom.
Daarom het die Afrikaanse voëls besluit om ‘n koning te kies, sodat hy die uitlanders kan beveel om met hulle speletjie op te hou en hier te bly of anders heeltemal weg te bly.

Hulle het met mekaar gepraat en kom toe almal bymekaar vir ‘n groot raadsitting.  Maar hulle kon nie koers kry nie want die een sê dit en die ander dat, totdat hulle naderhand besluit om ‘n slim persoon se raad te vra.  En raai, dis toe niemand anders as ou Jakkals nie.

Hulle kon ou Vossie nie dadelik in die hande kry nie, want ou Erdvark het vir Jakkals na ‘n bierdrinkpartytjie genooi, wat ‘n paar dae lank aangehou het.  Toe het ou Aasvoël, wat graag koning wou word sy kans waargeneem om dinge ‘n bietjie uit die lug te bekyk.  Hy hang daar reg bo ou Erdvark se kraal, waar die bierdrinkery aan die gang was.  Hy bly daar in die lug totdat hy sien ou Jakkals kyk op en sien hom.  Daarna gaan sit hy kort agter die bult vir Jakkals en wag, want hy weet goed ou Vossie sal nou daar kom rondsnuffel omdat hy dink Aasvoël het daar by vleis gaan sit.

En daar kom ou Jakkals.  “Ja Aasvoël, waar is die vleis?”
“Daar is nie nou vleis hier nie, maar daar sal baie wees as jy net ‘n paar dae lank my vriend sal wees.”

Ou Jakkals is só vol bier dat hy nie helder kan dink nie.  Hy begin lag.  “Ai toggie!  Jou vriend?  En waarom nogal?”

“Jy sien, die voëls gaan ‘n koning kies en hulle het besluit om vir jou in te roep om vir hulle te kom sê hoe hulle die koning kan kies.  Jy moet vir die voëls iets gee om te doen en dié een wat dit die beste doen, sal koning wees.  Daarom het ek met jou kom praat.”

“O ek sien,” sê Jakkals.  “Is jy deur die voëls afgevaardig, of kom jy vir jouself praat?”
Ou Aasvoël vererg hom toe ou Jakkals so reguit praat.  Hy swaai sy lyf kordaat en brom:  “Dink jy dan nie dat ek net die regte voël is om koning te wees nie?  Ek dink dit sal my baie goed pas.”

“Ag aardetjie tog!  Jy dink so, hé?”  Hy druk sy neus tussen sy voorpote in en huil soos hy lag.
Ou Aas se vere begin te rys.  “Natuurlik dink ek so.  Kom, praat nou verstandig.  Dit sal jou beter betaal om my te help as vir een van die ander.”

Ou Jakkals is vol bier, maar hy is nie só beneweld dat hy die woord “betaal” nie gehoor het nie.  “Wat gaan jy my betaal?” vra hy.

“As jy my koning maak, sal elke voël wat vleis eet vir jou die helfte daarvan gee.  Wat sê jy?  Kan jy ‘n beter aanbod van enige ander voël kry?”

“Ja ou Aas, dis nie sleg nie, maar wat moet ek doen dat die ander voëls jou hulle koning maak?  Het jy ‘n plan?”

“Ja, wanneer al die voëls van die raad jou vra hoe hulle kan vasstel wie koning moet wees, dan sê jy dat voëls vlerke het om in die lug te kan vlieg.  Daarom moet die voël wat sy werk die beste kan doen en die hoogste kan vlieg, die koning wees.  Dis tog regverdig, nie waar nie?”

“Ja, dit klink goed,” sê Jakkals.  “Ek beklink die koop.  Maar jy moet maar vir die ander voëls vra of dit regverdig is.  En nou gaan ek terug na die lekker bierpartytjie!”

Toe Jakkals uit die oog is, sê ou Aas:  “Ek het daardie ou skelm hierdie keer lekker gevang.  Wag maar tot ek koning is.  Ek sal daardie voëls darem lekker in die lug rondjaag!”  Toe vlieg hy weg.

Op pad na sy bierpret, ontmoet Jakkals vir Tinktinkie.  “Môre oom Jakkals,” sê hy ewe kordaat.

Ou Jakkals is haastig om by die bierpotte te kom.  “Gee pad, ou skaduweetjie, of ek blaas jou weg met die wind van net een oogknip!”

“O so?  Is dít hoe die wind waai?  Ek kom jou raadpleeg oor daardie storie van die voëls se koning. Maar as jy jou so ongepoets gedra, sal ek dit maar op my eie gaan doen en dan sal ek nie iets aan so ’n domkop soos jy skuld nie.”

“Koning van die voëls!”  Ou Jakkals gaan sit en skater dit uit van die lag.  “Ja, loop tog en gaan wees koning oor al die voëls, oor ou Aas en oor ou Wituil en oor die hele boel!”   Hy rol soos hy lag.

“Ja, en oor al daardie onnosel stommerikke soos jy!” skree Tinktinkie.  Hy raap hom op en pluk ‘n bek vol hare uit ou Jakkals se stert.  “Wat sê jy nou?”  Hy vlieg buite ou Jakkals se bereik.
Jakkals spring op asof weerlig hom getref het.  “Jou klein skurk!  Ek sal jou koning van die voëls op 'n ander plek gee  as ek jou in die hande kry!”

“En ek sal jou koning van die voëls wys voor ek met jou klaar het!” weergalm Tinktinkie se skril stemmetjie.  “Ek sal jou wys hoe ver van slim af jy is !”  Toe vlieg hy weg na die plek waar hy ou Aasvoël sien uitkom het.  Hy weet dat ou Jakkals ook daar was.

Toe Jakkals en ou Aasvoël met hulle knoeiwerk besig was, het hulle nooit vir Spaansvlieg raakgesien wat daar doodstil onder ‘n bossie gesit het nie.  Spaansvlieg was ‘n bietjie skaam oor haar voorkoms en het maar doodstil gesit en wens dat die twee swape moet weggaan, sodat sy tevoorskyn kan kom.  Toe hulle weggaan, kom sy uit en begin rond te pronk, maar sy voel ontsteld oor die slordigheid van haar rokkie.  En toe kom Tinktinkie daar aan.

“Ag nee, hoe kan jy so skielik op my afkom?  Jy dink seker jy is die grootste voël en nie die kleinste een in die hele wêreld nie, klein parmant?”

“O, jy hoef nie daaroor te treur nie,” sê Tinktinkie.  “Ou Aasvoël mag die grootste voël wees en hy het seker hier met jou kom praat, maar ek kan hom enige dag uitklop.”  Die klein haantjie strek eers die een vlerk en toe die ander, asof hy wil sê:  “Kyk net!”

Spaansvlieg is nie beïndruk nie.  “Ja,”  sê sy, “maar wag tot ou Aasvoël koning is; dan sal jy moet sag praat, meneer Tinktinkie.”

“O, dan het ou Aas vir jou gesê hy gaan koning word?  Dit sal ons eers moet sien.  Miskien is daar iemand wat daaroor ‘n woordjie te sê het.”

“Ag,” sê Spaansvlieg,  “waar het jy al ooit so ’n parmantigheid teengekom?  Dink jy dalk jy gaan koning wees?”

“En wat is daarmee verkeerd?  Ek is enige tyd net so ’n man soos ou Aasvoël.”

“Ek hoor jy sê so, en jy is parmantig genoeg om so te dink.  Maar wag tot jy dit moet wys.  Die voël wat die hoogste vlieg, gaan koning wees.  Ek het dit gehoor toe ou Jakkals en ou Aas hier was.  Wat sê jy nou?  Miskien dink jy dat jy hoër as ou Aasvoël kan vlieg.  Jy het verbeelding genoeg daarvoor.”

“En ek is ook mans genoeg.  Wag maar net en jy sal sien of dit nie so is nie.”

“Ek gee nie om wat jy is nie.  Maak tog net dat jy hier wegkom en praat nie weer met my voordat jy nie vir ou Aasvoël geklop het nie.”

“En dan sal ek koning wees,” sê Tinktinkie en hy vlieg weg.

Die dag breek aan dat die voëls ‘n koning moet kies.  Die  voëls bring  ou  Jakkals  voor die raad en vra  hom hoe hulle dit moet doen.  Ou Aas kyk Jakkals skerp aan en hy glimlag.  “Daar is maar net een manier waarop julle dit kan vasstel,” sê hy.  “Voëls het vlerke om in die lug te vlieg.  As dit nou is waarvoor ‘n voël gemaak is en as dit nou van hom ‘n voël maak, is dit niks meer as reg nie dat die een wat die werk van ‘n voël die beste kan doen, die beste voël is.  As julle dan nou ‘n koning wil hê, moet die beste voël koning wees.  Die een wat die hoogste kan vlieg, daardie een is koning.”

Daar was ‘n aantal voëls wat graag iets daarteen wou sê, maar ou Jakkals het sy toespraak op so ’n ingewikkelde manier voorgedra dat hulle nie weet hoe om te begin nie.  Hulle sê toe maar:  “Goed.”  Hulle sê dit, maar hulle dink dit nie.  Almal gaan staan in ‘n ry.  Hulle merk nie op dat Tinktinkie nie daar is nie.

“Is julle almal gereed?” vra ou Jakkals.  “Ja,” sê hulle.  “Spat dan!” sê hy en hulle spat weg.  Hulle vlieg hoër en hoër en hoër.  Patrys gee eerste op en toe ou Flap.  Korhaan begin te dink dat dit dwaasheid is en sy val uit.  Hulle kom een na die ander af tot daar net één in die lug oorbly.  Dit is ou Aasvoël.  Hy vlieg hoër en hoër totdat hy nie meer hoër kan gaan nie.  Hy kyk grond toe en roep:  “Hoe lyk dit vir julle?”  Die voëls kyk op en ou Jakkals skree:  “Jy het gewen!  Jy het die hoogste gevlieg!”

“Het hy?” roep ‘n stemmetjie.  Hulle kyk almal op en daar spring Tinktinkie uit.  Hy het al die tyd onder ou Aasvoël se vlerk weggekruip.  Hy vlieg ‘n entjie bokant ou Aasvoël en begin te sing:  “Waar kom ek dan in, ek, Tink, tink, tinkie!”  Dan vra hy:  “Hoe lyk dit nou?”

Ou Aasvoël kyk op.  “Hier jy, klein vent, wat maak jy daar?”    
“Ek vlieg hoër as jy en dit maak my koning.”
“Koning!  As ek jou net kon bykom, sal ek vir jou koning gee.  Kom af, op die daad!”
“O,” sê Tinktinkie, “jy sê nou self dat jy nie so hoog soos ek kan vlieg nie.  Dis genoeg.  Ek is nou koning!”  Hy kom af met sy tink, tink, tinkie totdat hy grondvat.  Toe staan hy daar ewe kordaat en sê:  “Koning Tinktinkie.  Dis wat ek is!”

Die ander voëls kom almal nader en wag dat iemand iets moet sê.  Maar Tinktinkie spring hulle voor.  Hy wip tot voor ou Jakkals en stoot sy bors uit.  “Wel, oom Jakkals, wie is die slimste vandag?”

“Ek wens dat ek een van die voëls was wat jy so gekul het.  Dan sou ek vir jou gewys het wat slim beteken.”

Ou Aasvoël strompel nader en vra:  “Wie is koning?”
“Die een wat die hoogste gevlieg het,” sê Bloukraan.
“En dit is ek,” sê Tinktinkie en hy pronk voor ou Aasvoël.
“Kyk hier,” sê ou Aas, “as jy nou net nog een woord meer sê, sluk ek jou in!”
“O jy sal, né?  Goed ek sê:  Een woord meer, een woord meer!”

Ou Aasvoël bekyk Tinktinkie ‘n oomblik lank, en toe duik hy om hom beet te kry, maar ou Aas is so lomp en Tinktinkie is so rats dat ou Aas kort-kort neerslaan as Tinktinkie vrolik om hom heen en weer dans.  Hy kom weer regop en sê:  “Voëls, gaan ons dit verdra, en gaan hierdie klein skurk koning oor ons wees?”

“Dit sal ons nie toelaat nie,” sê Wituil.
“Is ék dan koning?” vra Aasvoël.
Maar dit wil hulle ook nie hê nie, want elkeen van hulle wil graag self koning wees en gun niemand anders om dit te wees nie.  “Nee,” sê hulle, “die een wat die hoogste gevlieg het, moet koning wees en ons het self gehoor toe jy erken het dat jy nie vir Tinktinkie bokant jou kon bykom nie.”
“Wat gaan julle dan doen?” kerm ou Aas.
Toe sak al die voëls op arme ou Tinktinkie toe en gooi hom in ‘n erdvarkgat.
“Laat Wituil hom oppas, want hy het die grootste oë,” sê Jakkals.

Met Wituil voor die erdvarkgat en Tinktinkie binne-in, gaan die voëls toe weer na hulle bymekaarkomplek om te besluit wie hulle koning moet wees.

Tinktinkie se vrolike stemmetjie weergalm uit die gat:  “Ai, dis ‘n heerlike koel plek hierdie!  Ek gaan nou lekker uitrus, want as julle klaar beraadslaag het en my tot koning verklaar, sal ek baie besig wees om julle spul voëls te regeer en te beveel en rond te kommandeer!”

“Bly stil, jy pla my!” sê Wituil.

Na ‘n rukkie begin Tinktinkie te gaap.  Sy oë val toe en hy maak of hy slaap.  Wituil sien dit en dit stel hom gerus.  Die son is warm.  Dit maak hom lomerig en na ‘n rukkie slaap hy vas.  Tinktinkie kruip soetjies by hom verby en maak dat hy wegkom.

Na ‘n rukkie skrik Wituil wakker toe hy die ander voëls hoor aankom.  “Wat het julle besluit?” vra hy.

“O, Aasvoël kan nie koning wees nie, want hy kon nie hoër vlieg as Tinktinkie nie.  Maar Tinkie kan ook nie koning wees nie, want hy is te klein.  Maar daar moenie misverstand kom nie.  Daarom gaan ons hom nou ophang.  Haal hom uit die gat!” Maar Tinktinkie was nêrens nie.

Toe die voëls besef dat Wituil die klein ventjie laat ontsnap het, was hulle woedend en sak op hom toe, maar hy duik net betyds in die gat in en sit toe ewe veilig daarbinne waar Tinktinkie gesit het.  Nie een van die voëls wou hom gaan uithaal nie, want Wituil se kloue en sy snawel is baie skerp.  Hulle het maar voor die gat waggehou tot dit donker geword het en toe gaan slaap.  Daarna het Wituil uitgekom en vir hom gaan kossoek.  Maar toe dit weer dag word, het hy in die digte bosse gaan wegkruip, omdat hy vir die ander voëls bang was.

Hy doen dit vandag nog.

En die voëls is steeds sonder 'n koning want elkeen het sy eie talente en kan nie met mekaar wedywer nie.