BOEKRAK VIR AFRIKANERJIES
Lees nog storietjies by Boekrak vir Afrikanertjies
Ou Wolf was baie bly dat hy daardie dag by koning Leeu met sy lewe daarvan afgekom het, maar vir Jakkals het hy nie meer ‘n goeie woord gehad nie. Hy het gedurig loop en dink hoe hy ou Jakkals kon terug betaal vir al die moeilikheid waarin die ou skelm hom al laat beland het.
Op ‘n goeie dag hoor hy dat koning Leeu se klou nou weer gesond is en hy dink dat sy eie vel en sy lewe nou weer veilig is en dat hy ou Jakkals nou maar kan gaan soek om hom die les van sy lewe te leer met ‘n pak slae wat hy nooit sal vergeet nie.
Hy loop en dink en kry toe die plan om vir ou Bôgom, die bobbejaan, te gaan besoek en hom te vra om hom te help om ou Jakkals te straf. Hy loop hom in die rantjies raak, waar hy besig was om skerpioene onder die klippe te soek.
“Môre neef,” sê hy.
“Môre oom”, sê Bôgom.
“Onthou jy daardie ou karnallie van ‘n Jakkals wat jou verlede jaar nooit vir daardie skaapvleis betaal het
nie?”vra hy.
“Daardie skelm? Ek onthou hom baie goed,” sê Bôgom.
“Nou kyk neef,” sê Wolf, “ek gaan hom nou straf. Hy het my ook al rot en kaal gesteel. En nou het hy my ook weer nie vir die twee agterkwarte van ‘n vet eland betaal nie. Dis hoog tyd dat ek en jy sy speletjies stopsit. Hoe lyk dit, kan ons twee hom nie goed onder die sambok laat deurloop nie, sodat hy ‘n jaar lank nie van sy huis af sal kan roer nie?”
Ou Bôgom het eers tydsaam ‘n klip omgerol en gekyk of daar nie ‘n skerpioen onder hom is nie. Toe sê hy: “Ja, maar hoe weet ek of jy nie sal maak dat jy wegkom en vlug as Jakkals wil baklei nie?”
“Ek vir daardie bangbroek vlug? Nog nooit nie, neef! Hoe kan jy so dink?” antwoord ou Wolf.
Maar Bôgom lyk nog maar agterdogtig. Naderhand sê hy: “Kyk hier, oom Wolf, as jy my kan verseker jy sal my nie in die steek laat nie, sal ek jou help. Daar is geen bome by ou Jakkals se huis nie en ek kan nie in die lug in opklim as dit gevaarlik word nie.”
Ou Wolf krap sy kop en Bôgom krap sy maag.
Skielik kry Bôgom ‘n blink gedagte. “Oom Wolf,”sê hy, “kom ons maak ons sterte aan mekaar vas, dan weet ek dat jy nie kan weghardloop nie”.
Ou Wolf lag. “Goed neef,”sê hy, “bind maar vas so
styf as wat jy kan”.
Intussen was ou Jakkals besig om met sy byl jukskeie te kap in die sonnetjie voor sy huis. Die byl is baie skerp en glinster in die son as hy hom so rondswaai. Hy het die wêreld goed dopgehou want hy was bang dat ou Wolf sal probeer om hom terug te betaal vir al sy skelmstreke.
Toe hy weer opkyk, sien hy ou Wolf en Bôgom daar oor die bult aangestap kom. Hy merk dadelik onraad toe hy sien hoe na aan mekaar hulle loop, want hy weet hoe baie maal hy ook al vir ou Bôgom uitoorlê het. “Wel, dit is omtrent die snaaksste kommando wat ek vir ‘n lang tyd gesien het.” Hy dink vinnig aan ‘n plan om homself te red.
“Ou vrou!” roep hy oor sy skouer.
“Ja Pa,” antwoord tant Jakkals.
“Luister nou mooi en doen presies wat ek jou sê,” beveel ou Jakkals. “Wanneer ek ophou met kap, dan knyp jy vir Antjie. Jy knyp haar hard totdat sy skree. As ek jou vra wat die kind makeer, dan antwoord jy net so hard as wat jy kan: ‘Dis jou eie skuld. Jy maak jou kind aan bobbejaanvleis gewoond en nou is jy te lui om ‘n bobbejaan te gaan vang.’ Het jy goed verstaan?”
“Ja Pa,” sê tant Jakkals.
Toe ou Wolf hulle naderkom, sê Bôgom: “Wat blink daar net soos weerlig in ou Jakkals se hand? Ek hou net niks daarvan nie!” Dadelik begin hy al stadiger loop.
Maar ou Wolf sê: “Dit is maar net ‘n byl waarmee hy jukskeie kap. Jy gaan tog nie nou bang word nie, man!”
“Wie is bang,” sê ou Bôgom. “Maar dit lyk soos ‘n vreeslike skerp byl. Waarom gebruik hy so ’n nuwe byl om jukskeie te kap? Dit is wat ek wil weet. Ek dink dit is nie net ‘n byl nie.” Hy begin nog stadiger loop.
“Jy gaan nie nou terug nie, hoor jy!” roep ou Wolf wat hom begin vererg.
“Daarvoor is my stert te vas gebind,” sê Bôgom, maar hy draai tog in sy spore om en probeer die aftog blaas.
“Kom aan, man!” roep ou Wolf en gee ‘n harde ruk.
“Ek kom mos,” sê Bôgom. Hy gee nog een tree vorentoe, maar toe steek hy viervoet vas.
Jakkals maak of hy niks sien of hoor nie en hy hou maar aan met kap. Skielik hou hy op. Tant Jakkals knyp vir Antjie en sy skree dat jy haar wie weet waar kan hoor.
“Wat makeer die kind dan, Vrou?” roep ou Jakkals na binne .
“Dit is jou eie skuld!” skree tant Jakkals parman-tig uit die huis. “Jy maak mos jou kind op bobbejaan-vleis groot en nou is jy te lui om ‘n bobbejaan te gaan vang. Dan vra jy nog waaroor sy huil!”
“Toemaar,” sê ou Jakkals. “Ek het ou Wolf gister gestuur om vir my ‘n bobbejaan te gaan vang en hier kom hy nou net met een aan. Maar die ou kees lyk vir my so oud en taai asof hy in Noag se ark was.”
Hy staan op en swaai die byl deur die lug. Ou Bôgom knip sy ogies benoud en gee net één sprong, maar hy slaan hard teen die grond langs ou Wolf neer.
“O, jy wil my vir ou Jakkals kom gee, né!” Hy ruk en pluk en gaan so te kere dat ou Wolf net moet vastrap om nie weggesleep te word nie.
“Jou dwaas!” skree ou Wolf. “Jou esel, dis maar net ou Jakkals se leuens om jou bang te maak!”
Maar Bôgom sien hoe ou Jakkals met die byl naderdraf. Hy gee weer ‘n ruk wat ou Wolf se tande laat klap en daar sleep hy ou Wolf al agter hom aan. Ou Jakkals hardloop agterna en skree: “Hou jou lyf eenkant toe, neef Wolf, dat ek hom kan bykom! Hou tog jou lyf bietjie eenkant toe!”
Dit was vir jou ‘n spektakel om te sien. Ou Wolf probeer om vas te trap, maar Bôgom sleep hom oor die bult dat die stof so staan. Jakkals kyk hulle agterna en lag totdat die trane loop. “Ek dink daardie twee sal my nie gou weer pla nie”, sê hy en gaan aan om met sy skerp byl jukskeie te kap.
Arme ou Bôgom se stert was baie seer. ‘n Mens kan nou nog die kinkel daarin sien, want tot vandag toe het dit nog nooit weer reguit gegroei nie.