LEKKERLIEG

KLEINJAN SE STORIE

KORSIES VAN PASTEI

(Die hele pastei by: Korsies van Pastei)

(Kennis van Engels is nie ‘n vereiste vir die lees hiervan nie maar u moet volkome tweetalig wees!)

Jy weet, many moons ago toe ek ‘n laaitie was het my outoppie met ‘n ’53 – Pontiac getravel.  Dit was nog ‘n straight eight met agt merske groot pistons, amper die size van melkbottels se onderkante.

Nou op een van ons outings breek die Pontiac mos ‘n valve so 20 kys van die plaas af.  Nou soos ek jou ge-tune het, was my toppie nie ‘n loser soos hierdie laaities van vandag nie, no ways ou tjom, hy was ‘n fighter!  Hy het mos nie verniet agt laaities gehad voor my boet Giepie vir ‘n grand surprise gesorg het nie.  Kyk ou Giepie was mos ‘n oorstootdrie in beseringstyd vir die outoppie en my oulady.

Anyway, die toppie stuur chop-chop twee van die oudste laaities in die bloekombos langs die pad in om vir ons elkeen ‘n lekker dropper te kap terwyl ons ander laaities help om die bonnet af te haal en op die carrier vas te maak.

Volgende is die tools by en ons remove die cylinder heads en pak hulle in die boot, sommer op die suitcases.

Hold your horses tjom, want hier kom my toppie se scheme.  Hy lins ons klomp boeties almal big to small in die pad op.  Dis nou eers Meerkat, dan Rooker, Jorrie, Muisvoël, Schemer, Johnny, Toon en myselwers, die einste Kleinjan.

Nou check jy, ou Meerkat en Rooker was smart gebou.  Hulle het sulke big biceps gehad. . .. sterke duiwels sê ek nou vir jou ou tjom.  Die res van ons was op average build, behalwe ou Jorrie, hy was soos ‘n hose-pipe gebou, ‘n lang slapgat met ‘n stuk plêstiek om.

Die toppiedeel ons toe in twee teams op en hy leer ons die firing order. . . . 1-4-8-6-3-7-5-2-. . . oor en oor tot ons dit smooth ken.

Next move sit hy ons elkeen op ons firing number langs mekaar, elke team op sy eie mudguard, dropper in die hand.

My toppie en oulady vang toe daai Pontiac teen sy boot en so in gear kry hulle hom aan die handloop teen die downhill af.

Nou soos wat jou piston op firing kom, dan druk jy hom met jou dropper weer af. Ek tune jou, ou tjom, toe daai Pontiac begin spoed vat, spring die toppie en die oulady in.  Ons sukkel eers so ‘n bietjie met die timing, maar dis nie lank nie, toe fire ons op al agt die pistons!

Jy lag verniet, ou Charlie, ek tune jou nie skeef nie, daai Pontiac hol dat die trane bokant ons ore verbywaai!

Toe my outoppie op die plaas indraai, moes hy met al twee voete briek sodat hy nie die hele hoenderhok en die long drop in hul glory ry nie, so ‘n spoed het ons op daardie Pontiac opgewerk!