‘n GOEIE STUK VERBEELDING

KORSIES VAN PASTEI

(Die hele pastei by: Korsies van Pastei)

“Ja-nee, nefie, in hierdie ou Bosveld het ons al snaakse dinge beleef,” sê oom Jaap, boorling van daardie wêreld.

“Vanmelewe toe die Matlabasrivier nog seekoegate vol krioelende babers gehad het, wou ek mos ‘n klomp babers op een slag vang.  Ek en my vrou het toe ‘n paar osrieme aanmekaar gelas, sowat dertig sterk vislyne met hoeke daaraan vasgemaak en afgesit rivier toe.

“By die rivier maak ons toe die een punt van die riem aan ‘n boomstam vas, en haak ‘n stuk vleis as aas aan elke hoek, voor ek met die ander punt van die riem na die oorkant swem.  Dié punt maak ek aan ‘n ander boomstam vas sodat die lang riem oor die water hang met die hoeke in die water.

“Die volgende oggend is ons vroeg by die rivier om te sien hoeveel babers ons gevang het.  Watwo babers, aan elke hoek hang ‘n wilde-eend, dertig van hulle altesaam. Ek sê vir my vrou om duskant te wag onderwyl ek deurswem, en die oorkantse punt van die riem te gaan losmaak en dan terug te kom om die eende in te tou.  Sy moes verkeerd verstaan het want toe ek die punt anderkant los het sien ek dat sy hare deuskant ook los het en dit laat val.

“Voor ek iets kon doen, vlieg die spul eende op met my al hangende aan die onderpunt van die riem.  Teen dertig eendekrag was ons gou hoog oor die Bosveld, en vinnig luglangs op pad in die rigting van Mosambiek.

“Daar was net een uitweg:  Ek moes hand om hand opklim na die eende en hulle een vir een nek omdraai om hul hoogte en vaart te verminder.  Dit was al uitkoms.

“Toe die laaste een nek-om is, staan ek kniediep in die waters van Lourenco Marques!”