‘N DROEWIGE STORIE

KORSIES VAN PASTEI

(Die hele pastei by: Korsies van Pastei)

Ja, sê ou Joggie vir my, hy het al baie gewonder oor die treurigste geluid op aarde.

Nou moet ek sê ons omstandighede was so dat jou gedagtes baie maklik in dié rigting gegaan het.

Ek ry die oggend oor daar na Joggie toe om te gaan kyk hoe dit gaan.  En sonder veel woorde, toe ek hom na sy welstand vra, vra hy of ek nie saam met hom wil oorry na sy agterste land toe nie.

Ons ry.

Drie jaar gelede het ons ook gery toe Joggie my gaan wys het hoe lyk ‘n mielie as hy regtig die groei in hom het. Maar daardie jaar het die buie gereeld en op hul tyd gekom, en die land het blou in die mielies gestaan.

Vanjaar hou hy met die bakkie daar stil.  Hy haal sy hoed af en sit dit tussen ons op die sitplek neer.  Sy voorkop is wit en sy gesig is rooi gebrand.  Sy hande is dik gewerk.

Ons kyk na die agterste land.  Dis goeie grond.  Hy ploeg hom tot amper teen die gesigseinder.  Dis morge en morge mielies.

Hy het dit geplant met die mooi reën wat ons vroeg seisoen gehad het.

November en Desember was goeie maande daar by hom.  Die blare wat oopgevou het van die stronke af, was breed en groen. Met skoffeltyd kon jy die klam grond soos meel bewerk.

Toe kom Januarie en die weer gaan by ons verby en hy gaan reën eers naby Krygersdorp.

Die mielies was geil, die weerstand was min, en hulle het toegedraai en later sommer so oop verdroog.  Sy groen land is nou geel.

Die saad wat begin uitkom het, het net so in die groei verstar.

Nou sit ons langs die land, en die hitte hang in die bakkie en maak golwe op die kim,  en so af en toe kom daar ‘n warrelwindjie op en trek van die droë blare sommer so van die stronk af.

Nou vra hy my wat is die treurigste geluid op aarde.

As ons nie langs die land gesit het nie, of by ‘n partytjie was, sou ek gedink het hy wil weer ‘n grap vertel, of ek sou vir hom vertel het van die manier waarop ‘n alleen donkie sy lippe uitstoot en dan die treurigste ween-skree wat geskree kan word.

Maar nie vandag nie.

Hy maak vir my somme. Wat dit kos om die goed in die grond te kry, presies hoeveel sy winsgrens in goeie jare is.  Hy vertel my van sy skuld by die geld-instansies en hoeveel goeie jare na mekaar hy sal nodig hê om die skade in te haal.  Hy praat oor assuransie.

As jy soveel persent kan losboer, en al die jare vorentoe is goed, sê hy, dan sal hy oor tien jaar kan wees waar hy was.

Hy begin sommer vertel van sy kleintyd.  Van op die plaas grootword, van sy pa wat eenkeer ‘n ding gesê het wat hom vanjaar eers weer bygeval het.

Sy pa het gesê as jy plant, moet jy dit liewer sonder hoop doen; sy pa het gesê jy moet jou nie in dié wêreld op ‘n mielie alleen verlaat nie, want een of ander tyd gaan jy moeilikheid optel; sy pa het gesê hy moet die grond in die familie hou;  sy pa het gesê die jong boere vandag is soos mielies wat in Desember te geil groei, die eerste droogte maak hulle dood.

Sy  pa het gesê.

Ons sit maar stil. ‘n Warrelwind kom verby en tel die rooi stof en die droë blare hoog op.

Om iets te sê, sê ek maar die geluid van sulke droë blare is treurig genoeg.

Hy stem nie saam nie want in die oestyd hoor jy dit as die bak vol is en jy moet die stroper so’n bietjje laat staan.

Hy het baie stilgehou net om na die blare te luister  -  met oestyd.

Dis ‘n mooi geluid.

Maar wat dink ek?

Hy is so ernstig dat ek nie mooi weet wat die man wil hoor nie.

‘n Mens probeer maar simpatiek wees.  En daar is baie treurige geluide waar ek aan kan dink:  mense by ‘n begrafnis wat ‘n laaste gesang uitteem onder die snikke deur, of die stilte in die nag as jy alleen is, of die roep van diere in pyn en hartstog, of speenlammers, of visarende as jy ‘n liefde verloor het, of sommer baie.

Ek weet nie wat om te sê nie.

Uiteindelik praat hy:  Dis die geluid van ‘n afslaer.  Dit gaan wees die laaste hamerslag oor die familieplaas.  Dis die donder oor jou buurman se lande.  Dis baie dinge.  Dis die geluid van jou pa se woorde in jou ore.

Hy weet nie wat die treurigste geluid op aarde is nie, maar hy gaan hom vanjaar hoor.

Die nag lê ek en dink aan die geluid.  Daar val ‘n bui op die sinkdak en ek dink dis treurig, want dis te laat.

Ek dink dat die treurigste geluid vir al ons sterwelinge die onhoorbare voetstap van die tyd moet wees.

Ek hoor die telefoon lui en ek weet dis Joggie se vrou wat bel.  In die nanag is ‘n telefoon verskriklik genoeg.

Selfs toe ek die lig aanskakel en foon toe loop, wonder ek al, namens Joggie, of mens tyd het om die skoot teen jou slaap te hoor. . .