KORSIES VAN PASTEI
(Die hele pastei by: Korsies van Pastei)
‘n Kêrel skryf vir ons die volgende van homself:
Ek het my eie tande op ‘n baie vroeë ouderdom verloor. Dis nogal ‘n teer puntjie vir ‘n macho man wat baie gesteld is op sy uiterlike. Vanaf my tienerjare het ek baie hard aan my uiterlike gewerk. Dit was gewigoptel, hardloop, fietsry, swem, vitamines drink, rou eiers afsluk en opstootoefeninge en nog meer. Dinge wat normaalweg afwaarts moes wees, het permanent opwaarts gegaan, soos my ego. Ek was so vol van myself soos ‘n skaap wat in verlepte lusern gewei het.
Toe ontmoet ek die dolla van my drome. En nie lank nie, toe lui die huweliksklokkies en ons sit af Jeffreysbaai toe vir ons wittebrood. Ons het skaars geland, toe suiker ek en my bruid af strand toe. Dit was hoogwater en hooggety. Maar ek het vrede gehad daarmee. Al waaraan ek gedink het, was net hoe haar oë gaan rek as sy sien hoe die doedies se koppe gaan draai as ek verbystap en hoe hulle nie hulle oë van háár Adonis kan afhou nie.
Soos ‘n volstruismannetjie het ek, maag ingetrek en bors uitgestoot, ongeërg voor haar rondgepronk. Toe moes sy my bultende spiere met olie insmeer. Ek het behoorlik gekriewel van pure lekkerkry toe sy bewonderend koer onderwyl sy dié ou takie verrig.Daarna vir die groot oomblik. Hercules, of Adonis, nes jy wil, gaan die woeste golwe van die see aandurf. Pronkerig stap ek see toe, baie bewus van al die oë op my. In die vlak water begin ek draf, met my knieë hoog vorentoe opgetel – kompleet soos ‘n skouperd wat pronkdraf. Ek storm op die golwe af en duik met ‘n swawelduik in ‘n huishoë aanrollende brander in. Die volgende oomblik rol en tol ek soos ‘n kurkproppie in ‘n maalgat, om uiteindelik soos ‘n bloublasie op die strand deur die see uitgespoeg te word. Ek snak na my asem en hoes en proes. . . en toe tref dit my soos ‘n donderslag: ek het my tande in die see verloor!
Soos ‘n mal mens vlieg ek om en hardloop op en af, sien iets wits of pienk tussen die skuim, duik daarop af, grawe in die sand. . . . tevergeefs. My besorgde jong bruidjie storm op my af, wil weet of alles reg is.
Ek draai my kop weg, hou my hand voor my mond en mompel agter my hand: “Allesh reg liefshte.” Toe sien ek die vonkel in haar oog.
Ellende!
Die volgende oggend stel sy voor dat ons die strandwagte moet gaan vra of iemand nie dalk my tande opgetel het nie. Verleë en hand voor die mond staan ek daar terwyl sy die versoek rig. Die strandwag buk ongeërg, haal ‘n reuse-emmer onder die toonbank uit, sit dit voor my neer en sê: “Soek gerus!”
Die emmer was tot oorlopens toe vol. . . kunstande!
NS: Ons is al twintig jaar gelukkig getroud, danksy daardie tydige prik wat Jeffreys se brandertjie en daardie emmer vol tande my ego toegedien het!