'N TONG-IN-DIE-KIES-WAARHEID?

DIE DUIWEL IN DIE KERK

KORSIES VAN PASTEI

(Die hele pastei by: Korsies van Pastei)

Hy was ‘n bedrywige handelsreisiger wat vir die naweek spesiaal tuisgekom het met die aangename vooruitsig om in die gemeenskapsaal van die voorstad waar hy tuis was, ‘n gemaskerde bal by te woon, wat deur sy firma aan sy personeel en werkers aangebied word.  Hy het uitgesien daarna en besluit dat hy dit in die mondering van die duiwel sal bywoon.

Daardie middag het hy hom geklee in die toerusting wat hy aangeskaf het, kompleet met twee bokhorinkies en die stert met ‘n weerhaak.  Toe hy in die spieël kyk, het hy geskrik, want Satan het hom met ‘n dreigende grynslag begroet.

Hy het besluit om na die plek van jolyt te stap en het ‘n end met  die straat af gevorder toe daar meteens ‘n buitjie reën uitsak.  Hy wou nie graag sy uitrusting beskadig nie en kyk in die straat af vir skuiling.  Hy bemerk ‘n oop deur van ‘n gebou regoor hom en glip binne.  Dit is toe ‘n kerk en ‘n diens is aan die gang.  Die volgende oomblik gewaar die gemeente die dreigende gestalte van Satan agter in die kerk.

Pandemonium breek los, angsbevange en gillend storm die gemeente na die deure en vensters om so gou as moontlik van ou Heintjie Pik af weg te kom.  In ‘n ommesientjie is die kerk leeg.  Een ou tannie kon nie gou genoeg wegkom nie en toe sy gewaar, staan die ou duiwel dreigend reg voor haar.  Sy kyk op en sê met ‘n huilstemmetjie:  “Meneer Satan, ek is al veertig jaar in hierdie kerk maar ek was nog áltyd aan jou kant!”  Nou toe nou!