HULLE KOM WEER

KORSIES OP DIE RUGBYVELD (55)
(Die hele pastei by: Korsies van Pastei)

Een Saterdag in 1928 speel Moorreesburg teen Ikeys op Nuweland. Daardie jare het Ikeys oor Springbokke soos die beroemde Bennie Osler, sy ewe vernuftige broer Stanley en die blitsige vleuel Maurice Zimmerman beskik. Ikeys wen die wedstryd 23-6, maar dit kon baie erger gewees het want na agt minute se spel was die Kapenaars reeds 16-0 voor.

Daantjie van Schoor van die verloorspan het daardie eerste agt minute van hel só beskryf: "As ons links wal gooi, hardloop hulle aan die regterkant deur. Toe ons weer links gaan keer en die vleuel los 'n dwarsskop na regs, sê Swart Manus: 'Daantjie, gaan keer daar anderkant; ek wag sommer hier want hulle kom weer!"