KORSIES OP DIE RUGBYVELD (50)
(Die hele pastei by: Korsies van Pastei)
Een dag in die vroeë 1980's was die kookwaterspan van die Wes-Transvaal in 'n Boeing op 'n buitelandse vlug van Johannsburg na Frankfurt – die Mielieboere sou in Windhoek afklim vir 'n promosie-/relegasie-wedstryd teen Suidwes-Afrika.
Sowat 45 minute nadat die span van Johannesburg opgestyg het begin die vliegtuig kajuitdrukprobleme ondervind. Die vlieënier moet dringend 'n nooddaling doen, dus heelwat laer vlieg, en hy begin om die vliegtuig skerp te laat val, en in die spanning van die oomblik verspreek hy hom so effens en kondig aan dat hy 'n 'noodlanding' gaan doen.
Die volgende oomblik was dit chaos. Sommige passasiers begin gil, vrouens val flou, en die Wes-Transvaalse spanmaats begin mekaar groet. Die Sondagkoerant Rapport, wie se verslaggewer ook op die vliegtuig was, se opskrif twee dae later was "Dis verby, boys!"
Gelukkig vir die manne was dit nie verby nie en het die Boeing op 'n hoogte van 5 000 voet teruggevlieg Johannesburg toe.